Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wat beteken Ramaphosa se oorwinning vir ekonomie?
Cyril Ramaphosa, president van die ANC.

Daar word baie van Cyril Ramaphosa as die nuut gekose leier van die ANC verwag. Dit plaas hom in die posisie om die president van die land in 2019 te word.

Sibonelo Radebe het prof. Owen Skae, direkteur van die sakeskool by die Rhodes-Universiteit, gevra wat Ramaphosa se oorwinning vir Suid-Afrika beteken.

In politiek-ekonomiese terme, wat beteken Ramaphosa se oorwinning?

Te oordeel na sy rekord en die stellings wat hy gedurende se veldtog gemaak het, beloof Ramaphosa veranderinge wat die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie weer aan die gang sal kry.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het ’n nuwe ooreenkoms nodig nadat dit onder Jacob Zuma se presidentskap tot sy knieë gedwing is.

Dit is presies wat Ramaphosa belowe het.

Hy het die voordeel dat hy ’n baie goeie begrip, sterk sakenetwerke asook skakels met georganiseerde arbeid na die posisie bring.

Hy het ’n beter kans om sake en arbeid te kry om saam te werk aan ’n ooreenkoms wat ekonomiese groei en werkskepping sal bewerkstellig.

Die mark hou duidelik van hom.

Sy verkiesing het die land se geldeenheid laat versterk terwyl die aandelebeurs besiger as gewoonlik vir dié tyd van die jaar was.

Selfs kredietgradeerders raak effe opgewonde.

Dit gaan egter nie maklik vir Ramaphosa wees nie, aangesien hy ’n verdeelde leierspan het.

Drie van die party se verkose topsesleiers kom van die groep wat Nkosazana Dlamini-Zuma as president ondersteun het. Dít gaan dit waarskynlik moeilik maak om sekere belangrike besluite te neem.

Baie mense het byvoorbeeld gehoop Ramaphosa sal Zuma as eerste stap onmiddellik herroep, die kantoor van die president en die ekonomiese skade wat hy aangerig het herstel.

Dit gaan nou, gegee die magsbalans in die topses, nie gebeur nie.

Wat moet hy doen om sy stempel af te druk?

Die grootste uitdaging wat hy het is om die twee magsposisies te balanseer.

Hy is in beheer as president van die party terwyl Zuma, as president van die land, weer tot die verkiesing in 2019 mag oor die uitvoerende komitee het.

Dit kan tot binnegevegte lei.

Dit is duidelik kabinetsvergaderings gaan ’n koue affêre wees gegee Zuma se reaksie oor Ramaphosa se oorwinning.

Die 18 maande tot die verkiesing gee Zuma en sy ondersteuners die kans om hul vernietigende pad van selfbelang in die regering voort te sit.

Hy het die voordeel dat hy ’n baie goeie begrip, sterk sakenetwerke asook skakels met georganiseerde arbeid na die posisie bring.

Dit is nou buiten as die ANC besluit om hom te herroep.

My mening is dat Ramaphosa druk moet uitoefen dat die ANC Zuma so gou moontlik herroep.

Daarna moet hy van alle ministers met teenstrydige belange ontslae raak en dié met die beste verwysings aanstel om die ekonomie te bestuur.

Hy het as adjunkpresident die geleentheid om ’n gerespekteerde direkteur by die Nasionale Vervolgingsgesag aan te stel.

Om Zuma toe te laat om voort te gaan asof dit sake soos gewoonlik is, kan aaklige gevolge vir Ramaphosa hê.

Die voortdurende stryd oor die tesourie en die begrotingsproses is voorbeelde hiervan.

Die mees onlangse is Zuma se onverwagte aankondiging dat die staat van volgende jaar af gratis hoër onderwys vir sowat 90% van Suid-Afrikaanse studente gaan bied.

Hy het ongeag die raad dat dié plan geweldige druk op die fiskus sal plaas, hierdie populistiese aankondiging gemaak.

Hy het die tesourie in die onbenydenswaardige posisie geplaas waar hy ’n onrealistiese vereiste in die volgende begroting moet akkommodeer.

As toegelaat word dit wel voortgaan, gaan die negatiewe gevolge nog jare lank gevoel word.

Ramaphosa moet ’n manier vind om hierdie finansieel onverskillige besluit te stop. Hy moet egter studente se baie geldige eise aan die staat ook oorweeg.

Nóg ’n plan wat nie finansieel sin maak nie en waarvoor hy ’n manier moet kry om ’n stokkie voor te steek is Zuma se kernkragplan.

Ramaphosa sal, wat hy ook al doen, binnekort moet wys wat sy planne is. Indien nie, sal dié ANC-lede wat van hom ontslae wil raak, sy taak net nóg moeiliker maak.

Wat kan Ramaphosa se termyn ondermyn?

Hy het steeds nie die Marikana-tragedie waar stakende mynwerkers deur die polisie doodgeskiet is, hanteer nie.

Dit was werkers van Lonmin, waarvan Ramaphosa aandele besit het en ’n direkteur was.

Hy kan verseker wees dat hy vir die duur van sy presidentskap baiemaal hieraan herinner sal word.

Hy het verskoning gemaak, maar ek dink nie dit was passievol genoeg nie.

Dit bring die vraag oor vertroue na vore.

Sy teenstanders sal altyd sy bona fides bevraagteken, aangesien hy die lewe as vakbondman begin het voordat hy ’n miljardêr-sakeman geword het.

Hy sal ook uitgedaag word oor hoekom hy nie meer gedoen het om korrupsie gedurende sy termyn as adjunkpresident aan die kaak te stel nie.

Die maklikste manier om sy kritici stil te maak, is om beslissend op te tree en die land se probleme op te los.

– Fin24


Meer oor:  Anc  |  Cyril Ramaphosa  |  Marikana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.