Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wat Cyril gesê het vs. wat die regering doen

Van skepties tot hoopvol - die reaksie uit die sakesektor het gewissel oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand.

BLSA

Business Leadership South Africa (BLSA) stem met Ramaphosa saam dat groter besteding aan infrastruktuur ’n kritieke bousteen in die herstel van die ekonomie is, maar meen daar is geen bewyse van die groot bedrae wat daaraan bestee word wat Ramaphosa in sy staatsrede genoem het nie.

Sakelui is skepties oor pres. Cyril Ramaphosa se infrastruktuurprogram, gegewe dat die staat se werklike besteding daaraan daal. Foto: Reuters

Die werklikheid is dat staatsondernemings 30% minder bestee as ’n persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) as vyf jaar gelede en algemene staatsbesteding op infrastruktuur het met 18% gedaal.

Ramaphosa het niks gesê van hervormings aan die belangrike wetgewing en regulasies wat tans infrastruktuurverkryging beheer nie, sê BLSA.

BLSA is ook skepties oor die veldtog om plaaslik vervaardigde goedere aan te koop as dit nie in pas is met kapasiteit op die grond nie.

Ramaphosa het genoem groenekonomieprodukte moet plaaslik vervaardig word. Ongelukkig het baie vervaardigers van sonpanele en ander produkte vir hernieubare energie intussen weer gesluit weens die lang vertraging met die vierde bodronde vir die regering se groenkragprogram, sê BLSA.

Suid-Afrika kan tans net 300 MW se sonpanele per jaar vervaardig. Om nou op teikens vir plaaslike inhoud aan te dring terwyl die vermoë om dit te lewer afwesig is, sal bloot energieprojekte vertraag wat meer skade aan die ekonomie sal aanrig, waarsku BLSA.

Hy kla verder dat te min gesê is oor hoe beleggings deur die private sektor aangemoedig gaan word, want daar heers al lank beleidsonsekerheid in die mynbou wat besteding en uitbreiding in eksplorasie en produksie beperk. Suid-Afrika loop dus al weer ’n sterk internasionale kommoditeitsmark mis.

BLSA juig wel oor sekere vaste tydskale wat bekend gemaak is, soos die lisensievoorwaardes vir eie kragopwekking wat binne drie maande verslap sal word en die afskakeling van analoog-televisie-uitsendings teen einde Maart 2022.

Cosatu

Die vakverbond Cosatu kritiseer Ramaphosa se skep van nog staatsagentskappe, soos die wateragentskap en ’n grondhervormingsagentskap.

Cosatu verwerp ook die plan om munisipaliteite toe te laat om hul eie krag op te wek, want baie munisipaliteite is te arm daarvoor. Dit sal volgens die vakverbond die beginsel van kruissubsidiëring ondermyn wat nodig is om ongelykheid te verminder.

Cosatu is teleurgesteld dat Ramaphosa nie ’n radikale skuif in die regering en die Reserwebank se “konserwatiewe” fiskale en monetêre beleid aangekondig het om dit in pas met ANC-beleid te bring nie. Cosatu wil hê die regering moet van inflasieteikens ontslae raak.

Cosatu sou ook meer wou hoor oor die staat se rol in die ekonomie en oor vordering met die stigting van ’n staatsbeheerde bank.

Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het die staatsrede ’n punt van 0 uit 4 gegee en meen die regering het al jare gehad om iets te doen aan die prioriteite wat Ramaphosa gestel het, maar het niks daaraan gedoen nie.

Die vakbond dink die plan vir ekonomiese herstel sal eerder verdere inkrimping meebring, want beurtkrag, korrupsie en swart ekonomiese bemagtiging sal nie die private sektor laat groei nie.

Die ekonomie moet eerder gedereguleer word, sê Solidariteit.

Sakeliga

Die sakeorganisasie Sakeliga het dit merkwaardig gevind dat Ramaphosa erken die private sektor is die grootste bron van werkskepping, maar dat dit volg op die onlangse aankondiging dat die nasionale minimum loon styg. Dit beteken werklose mense word van indiensneming beroof deur die minimum loon vir die private sektor dubbeld te maak wat die regering vir werkers van sy uitgebreide werkskeppingsprogramme moet betaal.

TLU SA

Die landbou-organisasie TLU SA is optimisties oor Ramaphosa se aandrang daarop om plaaslike produkte en plaaslike aankope te bevorder, maar voel die ongunstige arbeidsbeleid en onsekerheid oor private eiendomsbesit maak dit baie moeilik vir entrepreneurs om in die land sake te doen.

AHi

Die Wes-Kaapse sakeorganisasie AHi het saamgestem met Ramaphosa se vergelyking van die afgelope moeilike jaar met die taai Kaapse fynbos. Dr. Willie Cilliers, uitvoerende hoof van die AHi, meen die ekonomie sal wel stadig herstel, maar dan sal die regering saam met die sakesektor, vakbonde en alle gemeenskappe moet saamspan om die grondslag vir herstel te lê.

Hy meen die steun aan jong entrepreneurs sal baie meer uitgebrei moet word, en dat die regering die sakeklimaat moet verander. 

Hy is skepties oor die regering se stryd teen korrupsie, want ondanks vorige stappe teen korrupsie het dit steeds weer plaasgevind met die Covid-19-aankope.

Sage

Die programmatuurmaatskappy Sage, wat stelsels aan klein en middelslagondernemings voorsien, was bly dat Ramaphosa die kleinsakesektor as groei-enjin vir die toekoms uitgesonder het, veral as deel van die veldtog vir plaaslike aankope.

Die regering moet egter iets doen om entrepreneurs aan te spoor deur versperrings uit die weg te ruim, soos beurtkrag en duur internetkoste. ’n Eenvoudiger belastingstelsel en eenvoudiger regulatoriese omgewing vir kleinsake is nodig, pleks van skerp belastingverhogings.

Meer oor:  Ekonomie  |  Staatsrede2021  |  Ekonomiese Groei  |  Seb  |  Vervaardiging  |  Kleinsake  |  Staatsrede  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.