Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Wat in surplus verstaan julle nie?’

Amper die helfte van die land se munisipaliteite (124) het nie genoeg geld om hul dag-tot-dag-bedrywighede te finansier nie, waarsku die tesourie.

Die tesourie se jongste verslag oor munisipaliteite bevat selfs dié verduideliking: “Dit wys munisipaliteite sukkel om die kritiek belangrike konsep te verstaan dat hulle vir ’n surplus voorsiening moet maak in hul begrotings om kontantvloeiprobleme te vermy.”

’n Argieffoto van ’n onwettige elektrisiteitsaansluiting.

Die kontantvloeiprobleem is so groot dat net 55 plaaslike en 15 distriksmunisipaliteite kontant gelykstaande aan drie maande se bedryfsuitgawes gehad het. Die land het 278 munisipaliteite.

Die verslag wat Tito Mboweni, minister van finansies, onlangs in die parlement ter tafel gelê het, fokus op die finansiële sy van plaaslike regerings tot en met einde Junie 2018. Dit verskil van die verslag van die ouditeur-generaal, wat merendeels fokus op die bestuur van munisipaliteite.

Luidens die verslag word byna die helfte van munisipaliteite bedryf met ongefinansierde begrotings, al verbied die wet dit uitdruklik.

Werner Zybrands, ’n munisipale kenner, het aan Rapport gesê hoewel die wet vereis dat begrotings gegrond moet word op ’n realisties verwagte inkomste, weet van die munisipaliteite hulle gaan net ’n sekere bedrag invorder. “Hulle kry byvoorbeeld R100 miljoen in, maar hulle begroot vir R120 miljoen en antisipeer as’t ware ’n verhoogde inkomste en begin die geld dan ook so bestee.”

Bo en behalwe foutiewe begrotings en die benarde kontantsituasie het die skuldvlakke by 142 munisipaliteite met meer as 30% van hul inkomste geklim.

Die totale munisipale skuld het van die vorige oorsigjaar (2016-’17) met R44,5 miljard toegeneem.

Toe amptenare van die tesourie die afgelope week met LP’s in die portefeuljekomitee oor finansies gepraat het oor die verslag, het hulle sommer die jongste syfers gegee: Teen 30 Junie vanjaar was die skuld al R60,2 miljard. Hiervan word R28 miljard net aan Eskom geskuld. Die tesourie het aan LP’s gesê dit kan selfs 22 jaar neem vir sommige munisipaliteite om hul Eskom-skuld te delg.

“Daar is ongelukkig ’n kultuur van wanbetaling waarmee die ANC destyds begin het,” sê Zybrands.

Omdat daar nie genoeg kontant is nie, veroorsaak dit dat munisipaliteite nie hul skuldeisers – soos Eskom en die waterrade – kan betaal nie. “Maar dit het ook ’n uitwerking op die mikro-ekonomie deurdat die verskaffers van goedere en dienste in die plaaslike omgewings, waarvan baie ontluikende ondernemings, nie betaal word nie – en hulle gaan ten gronde,” sê Zybrands.

Die tesourie het daarop gewys dat munisipaliteite hul kontantsituasie onmiddellik kan verbeter as hulle bloot skuld van huishoudings invorder. Sowat 72% van die totale skuld aan munisipaliteite is van huishoudings, maar 43 van die land se munisipaliteite vorder minder as 50% van dié geld in.

Volgens Zybrands is die kans uiters skraal dat munisipaliteite hul invorderingskoers sal verbeter. “Swak invordering verhoog weer dié munisipaliteite se afhanklikheid van staatsubsidies. Die feit dat hulle subsidies kry, veroorsaak dat hulle lui word om skuld in te vorder.

Die feit dat munisipaliteite staatsubsidies kry, veroorsaak dat hulle lui word om skuld in te vorder.

“Dit is ook op ’n politieke vlak problematies om kiesers te vra om vir dienste te betaal en dan hul dienste af te sny. En wanneer dit wel gebeur, gebruik skuldenaars eiereg met onwettige krag- en wateraansluitings.”

Die verslag het ook daarop gewys dat 131 munisipaliteite hul bedryfsbegrotings (waaruit salarisse en goedere en dienste betaal moet word) oorbestee. Die jongste syfers wys dat munisipaliteite gemiddeld 30% van hul bedryfsbegroting aan salarisse bestee.

“As die bedryfsbegroting oorbestee word, is instandhouding die eerste ding waarop munisipaliteite besnoei,” sê Zybrands, “nie personeelkoste nie.”

Wat kapitaalbegrotings en onvoorwaardelike skenkings van die nasionale regering betref, misluk munisipaliteite, want dit word nooit ten volle bestee nie. Dié geld, sê Zybrands, is vir die verbetering van hulpbehoewende gemeenskappe se omstandighede.

Meer oor:  Eskom  |  Tesourie  |  Munisipale Skuld  |  Munisipaliteite  |  Dienste  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.