Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wat kan SA wys vir die inperking?

Toe die staat van inperking op Vrydag 27 Maart afskop, sou dit net drie weke duur.

Ulrich Joubert

Dit is allerweë in ’n goeie gees ontvang, want die regering het gesê dit word gedoen om die infeksiekurwe af te plat en om hospitale gereed te maak vir die verwagte golf van Covid-19-gevalle.

Die stormloop van hospitaalopnames is aanvanklik reeds teen die Paasnaweek van 10 tot 13 April verwag. Tans word bespiegel of die stormloop in Augustus, dalk September, of selfs nog later kan wees.

Die aanvanklike drie weke het vyf weke geword, en nadat die inperking na vlak 4 verslap is, het daar in Mei weer ’n bietjie lewe in die ekonomie gekom.

In Junie, met die verlaging na vlak 3, was daar nog meer verligting, maar die skade aan die ekonomie is gedoen.

Mense kan weer gaan werk, maar baie verkies om van die huis af te werk. Die paaie is soggens nie so besig soos voor die inperking nie; kantoorgeboue is nie so beset soos voor 27 Maart nie; die kafee om die hoek verkoop soggens en smiddae nie meer so baie toebroodjies, koffie, gaskoeldrank, koerante en tydskrifte soos voorheen nie; winkelsentrums is stiller.

Restaurante mag nou wel weer aansit-etes bedien, maar aan minder klante op ’n slag as voorheen en onder streng voorwaardes. Hoeveel vleis word verorber, wat is die impak op die voerkraal wat die vleis lewer, op die beesboer wat nie sy speenkalwers betyds kon verkoop nie?

Wat is die uitwerking op vulstasies wat selfs tydens die strengste inperking oop was, al kon ons nie ry nie? My brandstofaankope is steeds 50% minder as voor 27 Maart; petroljoggies moet volgens berigte tans beurte maak om te gaan werk.

Wat is die impak op eiendomsmaatskappye as kantoorgeboue en winkelsentrums nie meer volledig beset word nie? Klein, middelslag- en groot sakeondernemings, soos mediamaatskappye, rasionaliseer en raak van werknemers ontslae in ’n poging om finansieel te oorleef. Werkloosheid sal vir minstens die res van 2020 van die reeds onaanvaarbare 30,1% af verder styg.

Die Reserwebank bereken dat die ekonomie in die tweede kwartaal met meer as 32% kan krimp. Die tesourie se konserwatiewe aanname is ’n ekonomiese inkrimping van 7,2% vir die volle 2020.

Geen stimulus

Die staat se finansies is in ’n haglike toestand weens die bykomende probleme geskep deur die pandemie met dalende belastinginkomste en stygende uitgawes. Belastinginkomste krimp terwyl staatskuld styg tot 81,8% van die bruto binnelandse produk (BBP) aan die einde van die huidige fiskale jaar.

Indien die staat daarin slaag om R410 miljard se uitgawes in die volgende twee jaar te bespaar, waarvan R160 miljard salaris- en loonbesnoeiings is, sal die staatskuld 87,4% van die BBP aan die einde van die 2023-’24- fiskale jaar wees.

Weens die noodsaak om staatsbesteding te beperk, sal fiskale beleid in die volgende aantal jare ekonomiese groei minder stimuleer. Terselfdertyd is daar slegs beperkte ruimte om verdere monetêre stimulus deur laer rentekoerse te verskaf.

Die internasionale kredietgraderingsagentskappe meen dat die staat nie suksesvol sal wees om uitgawes soos beplan te besnoei nie en verdere afgradering van die land se kredietstatus kan selfs voor einde vanjaar plaasvind.

Staatsgeld om instansies soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te red of om die Nasionale Gesondheidsversekeringskema te bekostig, het opgedroog.

Weens die noodsaak om staatsbesteding te beperk, sal fiskale beleid in die volgende aantal jare ekonomiese groei minder stimuleer.

Terselfdertyd is daar slegs beperkte ruimte om verdere monetêre stimulus deur laer rentekoerse te verskaf. Ander beleidsinstrumente sal ekonomiese groei in die komende jare moet stimuleer. Die belangrikste hiervan is sekerlik dat die staat se inmenging in die werking van die ekonomie tot die minimum beperk moet word.

winkelsentrum
Klante wag buite die Ackermans in Canal Walk hul beurt af om ingelaat te word omdat getalle binne die winkel beheer word. Foto: Jaco Marais

Die inperkingstydperk en die gepaardgaande resessie het die onderliggende armoede en ongelykheid in die gemeenskap blootgelê.

Bevelsraad se foute

Ongelukkig het mense in die nasionale Corona-19-bevelsraad die indruk gewek dat hulle die uit voeling is met wat op grondvlak met die gewone bevolking en die ekonomie gebeur.

Kan ’n mens in vandag se omstandighede aan verbruikers voorskryf watter klere hulle moet koop, of dink dat smokkelsigarette nie sal verkoop as die verkoop van tabakprodukte verbied word nie?

Hierdie en ander dikwels teenstrydige besluite toon dat géén bevelsraad toegelaat kan word nie – veral ook nie op munisipale bestuursvlak nie.

Die onlangse verslag van die ouditeur-generaal toon dat munisipaliteite dringend reggeruk moet word. Moet egter nie besluite sentraliseer en verwag ministers, adjunk-ministers of direkteurs-generaal wat van buite die gemeenskappe kom en geen aanvoeling vir wat op grondvlak gebeur, die probleme van die gemeenskap kan oplos nie.

Stel eerder kundige personeel aan en wentel die verantwoordelikheid van plaaslike bestuur af na die gemeenskap wat weet wat in hul omgewing moontlik is. Die plaaslike gemeenskap moet ’n sakevriendelike omgewing skep sodat winsgewende ondernemings bedryf en mense in diens geneem kan word.

Verder, het die gesondheidstelsel die inperkings regtig benut om hospitale gereed te kry om die pandemie-pasiënte te hanteer? Meer as 100 dae ná die eerste inperking kom daar versoeke dat weermag- gesondheidwerkers – nie Kubane nie – moet kom help om hospitale in die Oos-Kaap gereed te kry! Is die inperking werklik benut vir die doeleindes wat aanvanklik voorgehou is, of het ons net ’n ekonomiese resessie, stygende werkloosheid, armoede en maatskaplike onrus om as resultaat te wys?

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Ulrich Joubert  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Sakesiening  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.