Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wat sit agter die rand se blitsval vroeg in Januarie?

Die blitsdaling in die rand wat verlede Donderdag beleef is, laat markontleders steeds kopkrap, maar hulle het moontlik ’n sondaar gekry.

geld
Japan se jen was die wenner uit spekulante se bedrywighede op 3 Januarie, terwyl die rand, Turkse lira en Australiese dollar erge wisselvalligheid beleef het. Foto: Pixabay

Nie net die rand nie, maar ook die Turkse lira het verlede week Donderdag in vroeë verhandeling in Asië skielik ’n “blitsval” beleef.

Netwerk24 het berig die geldeenheid het Donderdagoggend vroeg met byna 28c tenoor die dollar verswak en selfs by R14,70 gaan draai.

Handelaars verwag nog ’n blitsval kan kom omdat valuta-spekuleerders van die stil verhandeling tydens vakansiedae in Japan gebruik wil maak om ’n wins te maak.

Die val in die twee geldeenhede verlede week het ’n paar dinge in gemeen gehad, soos dat dit gedurende ’n vakansiedag in Japan plaasgevind het en dat gewone beleggers van die land groter as normale posisies in die geldeenhede het.

“Ons moet meer blitsdalings in geldeenhede verwag,” het Sean Callow, senior valutastrateeg van Westpac Banking Corp in Sydney, gesê.

Volgens hom gebeur dit gewoonlik teen die tyd dat Australiërs hul ontbyt eet omdat dit dan die stilste tyd van die dag vir valutaverhandeling is.

Die gebrek aan likiditeit (baie verhandeling) wanneer die markte stil is, veroorsaak dan dat gewone beleggers wat ’n meer as normale hoeveelheid rande en liras besit, kwesbaar word vir “aanvalle” deur spekuleerders.

Dit werk so dat die rande of liras wat deur die gewone beleggers in Japan en elders gehou word op ’n sekere vlak verkoop moet word om verliese te voorkom. Dit is om gehoor te gee aan sogenaamde keerverliesopdragte. ’n Keerverliesopdrag word vooruit deur ’n belegger aan ’n makelaar gegee om ’n bate te verkoop wanneer ’n sekere pryspunt bereik word.

Handelaars wat spekuleer, probeer dan veroorsaak dat die prys van die lira of rand verby ’n sekere pryspunt val.

Dan word dié keerverliesopdragte in werking gesit en die prys val verder. ’n Spekuleerder kan dan ’n wins maak uit die uiterse prysbewegings wat plaasvind.

Die verkope om aan keerverliesopdragte gehoor te gee, gebeur selfs as markte gesluit is en die evaluering van pryse gebeur normaalweg omstreeks 07:00 in Tokyo, sê Takuya Kanda, hoof van die Gaitame.com Research Institute.

Ray Attrill, hoof van strategie vir buitelandse valuta van die National Australia Bank in Sydney, het gesê die situasie word boonop vererger deur verhandeling wat op grond van algoritmes plaasvind. Ingeskryf in dié rekenaarprogramme is ook sekere opdragte wat uitgevoer moet word as sekere pryspunte midde-in erge wisselvalligheid bereik word.

Die blitsval vroeg op 3 Januarie – wat op die laaste dag van een van Japan se vakansies was – het veroorsaak dat die jen binne ’n paar minute met amper 4% teenoor die dollar versterk het. Dit was die grootste beweging nóg sedert die 2016- Amerikaanse presidentsverkiesing.

Dié beweging van die jen het die blitsdalings in die rand en die lira veroorsaak.

Daarna is ’n vloedgolf van opdragte uitgevoer om onder meer die Australiese dollar en die Turkse lira wat teen die jen gehou is, te verkoop. Dit het veroorsaak dat die Australiese dollar met 7% en die lira met 9% teenoor die jen geval het.

Die kwesbaarheid van gewone beleggers in Japan het die afgelope jaar na vore gekom. Die Bank van Japan se beleid van negatiewe rentekoerse en sy streng beheer oor die tienjaar-staatseffekte van die land, ontneem spaarders daar van ’n inkomste uit rente en het gewone beleggers na geldeenhede gedryf wat ’n hoë opbrengs kan lewer. Dit sluit in die rand en die lira, asook die Mexikaanse peso.

Danksy Japan se “Gelukkige Maandag”-beleid van 2000 om nasionale vakansiedae na die eerste werksdag van die week te skuif om toerisme aan te moedig, is daar nog nege sulke vakansiedae in 2019.

Volgende week Maandag is dit weer sulke tyd en handelaars is glo senuagtig dat nog ’n blitsdaling kan plaasvind. – Bloomberg

Meer oor:  Japan  |  Jen  |  Turkse Lira  |  Rand  |  Markte  |  Lira
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.