Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Welkom in SA’: Toerisme juig oor oop grense

Die Suid-Afrikaanse toerismebedryf het Woensdagaand enorme verligting uitgespreek dat gehoor gegee is aan hul maande lange pleidooi vir die oopstel van die land se grense vir internasionale toeriste.

kaapstad, covid
Besoekers neem foto's by die V&A Waterfront in Kaapstad. Foto: Reuters

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), het aan eNCA gesê hulle is “gelukkig” dat die president ontslae geraak het van die sogenaamde rooi lys.

Besoekers van enige land mag Suid-Afrika nou inkom, op voorwaarde dat hulle ’n sertifikaat kan toon dat hulle binne 72 uur voor hul aankoms in Suid-Afrika negatief getoets het vir die virus wat Covid-19 veroorsaak. Hulle sal met aankoms vir simptome nagegaan word en indien hulle byvoorbeeld koors het en vir ’n Covid-19-toets gestuur word, sal hulle op eie koste in kwarantyn moet gaan totdat die uitslag bekend is.

Volgens Tshivhengwa dra internasionale toeriste R120 miljard tot die plaaslike ekonomie by.

Suid-Afrika se rooi lys, wat middel Oktober laas bygewerk is, het lande soos onder meer die VSA, Brittanje, Duitsland, Frankryk, Nederland en België ingesluit. Dit is die lande waarvandaan die meeste toeriste kom - buiten mense van ander Afrika-lande. 

Fedhasa, die sambreelliggaam vir restaurante, hotelle, sjebiens, gastehuise en spysenieringsfirmas, het reeds in September gesê daar is uit ’n gesondheidsoogpunt “geen logiese rede” waarom daar tussen verskillende lande onderskei moet word nie, gegewe die gesondheidsprotokolle wat ingestel is.

Lee Zamekile Zama, uitvoerende hoof van Fedhasa, sê plaaslike toerisme is nie genoeg om die sektor te onderhou nie.

Veral luukse hotelle en oorde is op die internasionale mark gefokus. Sun International se vyfsterhotel Table Bay in die Victoria & Alfred Waterfront in Kaapstad het onlangs gesê internasionale toeriste verteenwoordig gewoonlik tot 80% van sy kamergaste.

Die toerismebedryf as geheel rugsteun 1,5 miljoen poste en dra 8,6% tot die bruto binnelandse produk by. Tsogo Sun het die afgelope week gesê plaaslike toerisme herstel baie traer as wat hulle gehoop het, deels weens vrees vir Covid-19 en deels weens staatsdepartemente, maatskappye en individue wat finansieel sukkel en nie geld aan reis of konferensies wil bestee nie.

Die oopgooi van die landsgrense kom net betyds vir die somerseisoen, gewoonlik die hoogtepunt van internasionale reise na Suid-Afrika. Daar is wel tans net beperkte internasionale vlugte.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het meer as 10,2 miljoen buitelandse toeriste die land in 2019 besoek. Die lande waarvandaan die meeste kom, as buurlande uitgesluit word, is Brittanje (436 559), die VSA (373 694), Duitsland (322 720) en Frankryk (165 038). Daar is tans ’n skerp toename in infeksies in al dié lande en strenger inperkingsmaatreëls is pas weer ingestel.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Vlak 1  |  Toerismebedryf  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.