Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wêreldbank skenk R8 mjd. ná sikloon Idai

Die Wêreldbank het Vrydag aangekondig dat hy meer as ’n halfmiljard dollar in hulpbronne sal skenk aan Mosambiek, Malawi en Zimbabwe wat in puin gelê is ná die sikloon Idai dié lande in Maart getref het.

Mosambiekers ontruim in Maart hul huise in die vloedgeteisterde Praia Nova in Beira in die vroeë stadium van die tropiese sikloon Idai. Foto: Denis Onyodi

Die instansie het in ’n mediaverklaring gesê hy sal deur middel van die Internasionale Ontwikkelingsvereniging se krisisreaksie-eenheid $545 miljoen (R7,8 miljard) beskikbaar stel aan die lande wat getref is. Dit is bykomend tot die $150 miljoen (R2,1 miljard) in hulpbronne van bestaande projekte.

Die Wêreldbank werk saam met Mosambiek en die Comore om die skade en uitwerking van die jongste natuurramp – die sikloon Kenneth – te beraam.

“Idai het rampspoedige skade aangerig wat miljoene mense getref het. Dié tragedie is vererger deur die sikloon Kenneth,” het David Malpass, Wêreldbank-president gesê nadat hy op ’n besigtigingstoer deur die Mosambiekse stad Beira was.

“Die bank werk nou met ons vennote saam om die bevolking wat deur dié verskriklike storms getref is weer op die been te help, maar ook om dié lande se vermoë om natuurrampe die hoof te kan bied, te versterk.”

Mosambiek, wat die ergste getref is deur die siklone, sal $350 miljoen in finansiële bystand kry om watertoevoer en beskadigde infrastruktuur te herbou. Dié geld moet ook aangewend word om siektes te help bestry, landerye wat verspoel het opnuut aan te plant vir voedselsekerheid, asook om vroeë waarskuwingstelsels vir toekomstige natuurrampe in te stel.

Mosambiek se buurland Malawi sal $120 miljoen ontvang om sy landbou wat ook groot skade gely het, weer op die been te bring, infrastruktuur te herbou, asook om ’n opsporingstelsel vir siektes in te stel.

Die Wêreldbank is ook voornemens om ’n buitengewone toewysing van $75 miljoen te maak sodat bepaalde VN-agentskappe bystand kan verleen aan Zimbabwiërs wat deur Idai getref is. Die geld word geskenk vir noodsaaklike lewensonderhoud en om maatskaplike welstand te verbeter.

Malpass se besoek aan Mosambiek was sy eerste reis in sy hoedanigheid as president van die Wêreldbank. Voor die Mosambiekse besoek was hy in Ethiopië en Madagaskar om te sien hoe projekte wat deur die Wêreldbank gefinansier word vorder, asook om die lande se leiers, verteenwoordigers van die private sektor en ander belanghebbendes te ontmoet.

Rapport het vroeër berig die sikloon Idai het R1 miljard se skade berokken aan infrastruktuur in Mosambiek, Zimbabwe, Madagaskar en Malawi. Die dodetal het tot meer as 500 gestyg, en 2 miljoen mense is ontwortel.

Meer oor:  Wêreldbank  |  Zimbabwe  |  Malawi  |  Mosambiek  |  Sikloon Idai  |  Sikloon  |  Sikloon Kenneth  |  Rampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.