Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werk-krisis: Ramaphosa wag op verslag

’n Dag nadat die ergste werkloosheidsyfers in byna twee dekades uitgereik is en tien maande ná sy werkberaad, het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig dat hy eindelik die verslag gaan ontvang oor die raamwerkooreenkoms van die einste beraad.

werkberaad
Pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar op die werkberaad in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Dié verslag gaan vir eers net uitdagings uitlig om die ooreenkoms in werking te stel. Dit beteken geen werkskeppingsprojekte sélf kan al geoordeel word nie.

Verskeie ekonome – onder meer prof. Raymond Parsons van Noordwes-Universiteit en Lullu Krugel en dr. Christie Viljoen van PwC – het Ramaphosa Dinsdag skerp gekritiseer omdat geen aksie nog voortgespruit het uit sy veelbesproke werkberaad in Oktober 2018 nie.

Dít nadat werkloosheid in die tweede kwartaal van die jaar tot 29% opgeskiet het, volgens die syfers wat Statistieke Suid-Afrika uitgereik het. Dis die hoogste werkloosheidskoers sedert die kwartaallikse indiensnemingspeiling in 2008 in sy huidige formaat begin is, en die hoogste koers sedert 2003 volgens die vorige formaat van die statistieke.

Veral Krugel en Viljoen het te velde getrek daarteen dat die beloofde presidensiële werkkomitee, wat vordering met indiensnemingsprojekte sou monitor, stééds nie op die been gebring is nie. Hulle sê een van die belangrikste redes waarom werk nie geskep word nie, is die “swak momentum” met die aksieplanne wat op die werkberaad bekend gemaak is.

LEES OOK: Werkloosheid: Cyril se gebrek aan aksie gekap

Die komitee sou kwartaallikse vorderingsverslae oor die aksieplanne ontvang. Die werkberaad het 42 aanbevelings gedoen.

Ramaphosa het Woensdagaand in ’n verklaring gesê hy ontvang Donderdag ’n verslag van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) oor vordering wat gemaak is met die inwerkingstelling van die raamwerkooreenkoms.

“Die Nedlac-verslag sal aandui watter vordering gemaak is en uitdagings teëgekom is met betrekking tot die raamwerkooreenkoms wat op die beraad aanvaar is en wat insluit programme en projekte om werk te skep; meganismes om die struikelblokke vir doeltreffende inwerkingstelling uit die weg te ruim; asook oor ooreenkomste oor die dwingendheid dat werk behou word en werkverliese voorkom word.”

Volgens Ramaphosa se verklaring is daar wel vordering gemaak met die opstel van planne en ooreenkomste op ses gebiede:

  • Ingrypings om werkverliese te voorkom;
  • Ingrypings wat op spesifieke ekonomiese sektore gemik is;
  • Ingrypings vir klein, middelslag- en mikro-ondernemings;
  • Ingrypings vir onderrig en vaardighede;
  • Ingrypings vir inklusiewe groei; en
  • Staats- en maatskaplike ingrypings.

“Die doelwit van die 2018-beraad was om meganismes te ontgin om te verseker die ekonomie groei en word produktiewer, en om investering in die ekonomie uit te bou. Die gesprekke tussen die regering, sake- en arbeidsektor en gemeenskap probeer ook verseker dat werkers beter vaardighede ontwikkel en dat die ekonomiese infrastruktuur uitgebrei word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.