Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid: Bloedbad nog op pad

Dis verskriklik – maar die werklike bloedbad kom nog.

So het politieke partye, ekonome en vakbonde Woensdag deur die bank gereageer op die nuus dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers in die eerste kwartaal van 2020 opnuut ’n rekord – van 30,1% – gehaal het. Uitgebreide werkloosheid, wat ontmoedigde werksoekers insluit, het ook ’n rekord van 39,7% gehaal. Kyk ook grafika hieronder.

Suid-Afrika se uitgebreide werkloosheidskoers is nou 39,7%. Illustrasie: iStock

Die syfers weerspieël die impak van die resessie en afleggings wat in die eerste kwartaal oor ’n baie wye front plaasgevind het – Telkom, Standard Bank, SAB (’n filiaal van AnheuserBusch InBev), ArcelorMittal Suid-Afrika en Sibanye-Stillwater was onder die tientalle reuse wat in die eerste kwartaal afleggings voltooi het.

Dit weerspieël egter nog nie die afleggings – tydelik én permanent – wat veroorsaak is deur die staat van inperking wat op 27 Maart begin het en groot dele van die ekonomie die hele tweede kwartaal lank lamgelê het nie. Duisende restaurante, verblyfplekke en toerisme-ondernemings sal waarskynlik vir die hele kwartaal gesluit wees en peilings dui daarop dat honderde kleinsake-ondernemings heeltemal ondergaan.

Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, sê dié bank verwag dat 900 000 poste vanjaar permanent verlore sal gaan. Die Nedbank-ekonoom Busisiwe Radebe voorspel 1,6 miljoen poste en die tesourie raam dat 1,8 miljoen poste uitgewis kan word.

Dis teenoor die doelwit wat pres. Cyril Ramaphosa in Oktober 2018 op sy eerste werkberaad gestel het, naamlik dat 275 000 bykomende poste elke jaar geskep moet word.

Hoewel daar werkskepping in die kwartaal was in onder meer die handel (71 000 poste, maar van ’n baie swak Kersfees-kwartaal af) en by private huishoudings (30 000), het die land se finansiële sektor 50 000 poste gebloei, die staatsdiens 33 000 poste en landbou 21 000 poste.

Altesame is 10,8 miljoen Suid-Afrikaners nou werkloos – 416 000 méér mense as drie maande vantevore. Dis vergeleke met die 16,4 miljoen mense wat wel werk het.

Radebe sê die grootste werkverliese sal in die tweede kwartaal se syfers weerspieël word, waarna werk mettertyd geskep kan word. Dis egter onwaarskynlik dat die werk wat vanjaar verlore gaan, voor drie jaar herwin gaan word, wat beteken werkloosheid sal aanhou styg soos al hoe meer jong mense die arbeidsmag betree.

Lara Hodes, Investec-ekonoom, verwag dat werkloosheid van nou tot 2022 gemiddeld naby 36% gaan volhard.

Ons vrees dat werkloosheid volgens die uitgebreide definisie binnekort 50% gaan nader.
Cosatu

Marique Kruger, ekonoom van die Federasie vir Staal- en Ingenieursbedrywe van Suider-Afrika (Seifsa), sê dis nou dringend nodig dat die regering ophou om dieselfde ding oor en oor te doen.

Projekte wat werkloses met spesifieke vaardighede toerus, moet nou aandag kry – veral in die digitale ekonomie. Kruger sê goedkoper data of toelaes vir internetgebruik vir werkloses moet voorrang kry.

Die vakverbond Cosatu sê die eerste kwartaal se werkloosheidsyfer is “die eerste teken van die ekonomiese vuurstorm” wat die land sal moet trotseer. “Ons vrees dat werkloosheid volgens die uitgebreide definisie binnekort 50% gaan nader.”

Peilings dui in dié stadium daarop dat ondernemings gemiddeld 20% van hul arbeidsmag gaan aflê, volgens Cosatu.

Die vakverbond sê Tito Mboweni, minister van finansies, moet sy aangepaste begroting, wat Woensdag bekend gemaak word, benut om werkloosheid te takel.

LEES OOK: 8 vrae wat Tito se nuwe begroting moet antwoord

Cosatu eis dat die besnoeiings in die staatsdiens – waarop Mboweni se Februarie-begroting berus het – gestaak word. Die vakverbond stel ook onder meer massiewe infrastruktuurbesteding, ’n “Koop plaaslik”-veldtog, steun aan bedrywe wat werk behou en ’n belasting op maatskappye wat op hope kontant sit, voor. Rompslomp vir kleinsake moet verlig word en dié ondernemings moet makliker toegang tot finansiering kry.

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer Woensdag om 15:00 ’n virtuele begrotingsrede.

Ondanks miljoene rand se steun vir die Solidariteitsfonds, premie- en betalingsvakansies deur versekeraars en banke en ander hulp vanuit die private sektor, kap Cosatu die private sektor, en spesifiek banke, batebestuursfirmas en versekeraars, vir “baie minimale” hulp aan die ekonomie.

Heloïse Denner, LP van die VF Plus, sê die syfers is geen verrassing nie. “Die ANC-regering en sy departement van arbeid, wie se mandaat uitgebrei is na werkskepping, het misluk in sy doelwit om werkskepping in die land te stimuleer en te bevorder.

“Oorregulering deur middel van wetgewing, soos gedwonge swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie, moet afgeskaf word en strukturele hervorming is nou nodig om die ekonomie van die land te stimuleer en werkskepping deur middel daarvan te bevorder.

“Die departement van arbeid en werkskepping, en in besonder die minister, moet sy geykte retoriek, dat die werkgewer alewig die sondaar is, dadelik staak. Samewerking met die formele sektor is nou nodig om werkskepping te bevorder, aangesien daar geen werk of werkskepping sonder werkgewers kan bestaan nie.”

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, sê Mboweni moet ’n “veerkragtigheidsbegroting” voorlê wat daarop gemik is om Suid-Afrikaners te help om die impak van die “inperkingskrisis” op die ekonomie te trotseer.

“Hy moet die regering ondubbelsinnig verbind tot ’n program van grondliggende ekonomiese hervorming om die ekonomie vir groei te posisioneer. Daarsonder sal ons stadige verval en groter verarming voortduur.”

Hill-Lewis sê ook die regering sloer met hervorming, al is dit baie duidelik dat die land op ’n “ekonomiese botsing reg van voor afstuur”.

“Met elke dag wat sonder hervorming verbygaan, skuif Suid-Afrika nader aan ’n volskaalse soewereine skuldkrisis. Dis ongelukkig dat die prys hiervoor betaal gaan word deur dieselfde werklose Suid-Afrikaners wat die ANC kies om te ignoreer.”

k
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Vlak 3  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Indiensneming  |  Vlak 5  |  Werkloses  |  Covid-19  |  Qlfs2001
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.