Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid: Cyril se gebrek aan aksie gekap

Byna tien maande ná pres. Cyril Ramaphosa se eerste werkberaad is die beloofde presidensiële werkkomitee, wat vordering met indiensnemingsprojekte sou monitor, stééds nie op die been gebring nie.

Werkloosheid van 29% is die hoogste sedert die syfers gemeet word.

“Tasbare optrede van so ’n hoëvlak-komitee is nou drasties nodig,” skryf die PwC-ekonome Lullu Krugel en dr. Christie Viljoen in hul ontleding van die werkloosheidsyfers wat Dinsdag uitgereik is.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het bekend gemaak dat die amptelike werkloosheidskoers met 1,4 persentasiepunte tot 29% opgeskiet het en uitgebreide werkloosheid met 0,5 van ’n persentasiepunt tot 38,5%. Albei syfers is die hoogste tot nog toe sedert die kwartaallikse indiensnemingspeiling in sy huidige vorm sedert 2008 gedoen word.

Hoewel 21 000 poste in die tweede kwartaal geskep is, is dit nie naastenby genoeg nie en het die getal werkloses met 455 000 opgeskiet.

Aan die president en dié wat hom ondersteun, is my voorstel: Tree nou op, die situasie sal nie verbeter nie.
Gerhard Papenfus van Neasa

10,2 miljoen Suid-Afrikaners is óf werkloos (en soek werk) óf soek nie werk nie. Dit sluit ontmoedigde werknemers in, asook mense wat ’n ander rede gee waarom hulle nie werk soek nie.

Krugel en Viljoen sê een van die belangrikste redes waarom werk nie geskep word nie, is die “swak momentum” met die aksieplanne wat begin Oktober 2018 op die werkberaad bekend gemaak is. Die presidensiële werkkomitee sou juis geskep word om die tekortkominge van vorige berade en ooreenkomste aan te pak – naamlik om die inwerkingstelling van die ooreenkoms te monitor en regstellende stappe te doen as daar nie vordering is nie.

Die komitee sou kwartaallikse vorderingsverslae oor die aksieplanne ontvang. Die werkberaad het 42 aanbevelings gedoen.

Krugel en Viljoen sê hulle verwag dat die ekonomie wel in die tweede kwartaal gegroei het – ondanks die styging in werkloosheid.

“Om die golf van die swak ekonomie om te keer, is egter nie genoeg (om werk te skep) nie. Strukturele veranderinge word vereis om werkskepping te versnel en die werkloosheidskoers te verlaag. Dit sluit in veranderinge aan die gehalte van regering, mededingingsvlakke in verskeie bedrywe, buigsaamheid in die arbeidsmark, en die koste van sake doen.

Strukturele veranderinge word vereis om werkskepping te versnel en die werkloosheidskoers te verlaag.
PwC-ekonome Lullu Krugel en dr. Christie Viljoen

“Hervormings in dié gebiede sou sakevertroue en private investering kon verhoog, waarop ekonomiese groei sal volg.”

Volgens Nedbank se ekonomiese eenheid lyk die vooruitsigte vir die arbeidsmark swak, “weens lae vertroue, swak vooruitsigte vir ekonomiese groei en die moeilike beleidsomgewing”.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die teleurstellende syfers is nog ’n luide wekroep waarom dit nodig is om die ekonomie om te keer.

Teen ’n groeikoers van minder as 1% wat vir die tweede jaar agtereenvolgens verwag word, gaan werkloosheid aanhou styg, sê Parsons.

Die Investec-ekonoom Lara Hodes sê ekonomiese groei moet aan die brand gesteek word, anders gaan die land nie genoeg werk skep nie. Sy sê die doeltreffende inwerkingstelling van beleid en ook sekerheid oor beleid, is noodsaaklik.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersorganisasie Neasa, sê niks word gedoen om dit vir ondernemings makliker te maak om sake te doen – en dus mense aan te stel – nie.

“Hoewel die syfers skokkend is, is dit nie onverwags nie. Ons hou aan om al die verkeerde goed te doen – hoe kan ons enige ander resultaat verwag?”

Hy sê politieke leiers vermy die moeilike besluite en neem eerder gewilde besluite in die hoop dat die politieke klimaat sal verbeter. “Aan die president en dié wat hom ondersteun, is my voorstel: Tree nou op; die situasie sal nie verbeter nie.”

werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.