Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid: Dis erger as verwag

Die vlaag neerdrukkende ekonomiese data van die afgelope maande duur voort met die amptelike werkloosheidskoers wat in die tweede kwartaal met 0,5 van ’n persentasiepunt tot 27,2% gestyg het teenoor die eerste kwartaal.

Die ekonomie het tussen dié twee kwartale 90 000 werksgeleenthede verloor en die geledere van die werkloses het met 102 000 tot 6,1 miljoen mense gestyg, volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagpeiling.

As die mense wat reeds te ontmoedig is om werk te soek bygereken word, staan die werkloosheidskoers op 37,1% –dit is 0,5 van ’n persentasiepunt hoër as in die eerste kwartaal.

Ekonome, ontleders en selfs gewone mense meen dié skoksyfers is erger as wat hulle verwag het.

“Suid-Afrika se arbeidsmark kon die afgelope paar jaar glad nie vastrapplek kry nie en veral die werkloosheidskoers vir die jeug is buitengewoon hoog vergeleke met internasionale standaarde,” sê Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib.

“Die werkloosheidskoers vir mense jonger as 25 jaar is ’n skokkend hoë 67,1% en dit is duidelik dat dié kwessie ’n nasionale krisis geword het met aansienlike maatskaplike, ekonomiese en politieke implikasies.”

Selfs in die ouderdomsgroep 25 tot 34 is die werkloosheidskoers steeds ’n yslike 43,2%.

Op sy beurt het Michael Bagraim, die DA se woordvoerder oor arbeid, gesê die styging in werkloosheid is ’n “humanitêre krisis”.

Hy wys daarop dat elkeen van die 9,6 miljoen Suid-Afrikaners van werkende ouderdom wat nie werk nie miljoene ander verteenwoordig wat afhanklik is van hulle vermoë om ’n inkomste te verdien.

Michael Ade, hoofekonoom van die federasie van werkgewers in die staal- en ingenieursbedryf, is baie bekommerd oor die vervaardigingsbedryf wat in die tweede kwartaal 105 000 poste prysgegee het, die meeste van al die sektore.

“Die situasie word vererger deurdat meeste plaaslike maatskappye probeer om onbeheerbaar hoë brandstof- en energiekoste te absorbeer en dit het ’n negatiewe uitwerking op indiensneming.”

Gemeenskapsdienste, wat grootliks die staatsdiens verteenwoordig, het 93 000 werknemers verloor, wat dalk ’n goeie teken is dat die regering ernstig is om oortollige poste in die staatsdiens te verminder. Handel het 57 000 werkgeleenthede prysgegee.

Aan die positiewe kant het die vervoersektor die meeste poste in die tweede kwartaal geskep (54 000) terwyl mynbou (38 000), private huishoudings (22 000) en die kragbedryf (18 000) ook tot werkskepping bygedra het.

Die provinsie wat die grootste styging in sy werkloosheidskoers getoon het, is die Vrystaat, waar die koers in die tweede kwartaal met 1,6 persentasiepunte gestyg het.

Verlede week het Lesetja Kganyago, die president van die Reserwebank, gewaarsku die ekonomie se huidige groeikoers is te stadig om Suid-Afrika se werkloosheidsvlakke te laat daal. Die bank verwag dat ons ekonomie vanjaar met net 1,2% sal groei.

“Dis onder sulke omstandighede baie moeilik om te sien waar werkskepping vandaan moet kom,” sê Mamello Matikinca, hoofekonoom van FNB.

Meer oor:  Statistieke Sa  |  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Werkloosheidskoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.