Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Werkloosheid, honger gaan nou vererger’

Selfs méér mense gaan nou werkloos word omdat winkels hul deure moet sluit – van hulle permanent – ná nog ’n nag waarin ondernemings geplunder is.

Dis die kommer van sakeliggame weens die geweld wat veral in Gauteng en KwaZulu-Natal woed. Verskeie winkels en winkelsentrums is geplunder en beskadig en die ontwrigting van hoofweë soos die N3 duur voort.

LEES OOK: REGSTREEKS: Nie nodig om noodtoestand te verklaar – minister

Johannesburg se Kamer van Koophandel en Nywerheid (JCCI) is “bekommerd en verslae” oor die voortslepende geweld.

Shawn Theunissen, president van die JCCI, sê baie van die sakeliggaam se lede moes hul personeel vra om vir hul eie veiligheid tuis te bly.

mams mall, mamelodi
Die Mams Mall in Mamelodi in Tshwane het in die nag deurgeloop. Foto: Deaan Vivier

“Ons verwag die verlies aan handel gaan beduidend wees. Die township-ekonomie het oor die afgelope paar jaar die hoeksteen van indiensneming en sakeontwikkeling geword. Dié misdadigheid sal die vordering wat oor die jare heen gemaak is, uitwis en juis dié gemeenskappe platslaan wat daaruit voordeel kan trek.”

Die JCCI doen ’n beroep op die regering om “enige grondwetlik gemagtigde stappe te doen om orde te herstel”.

“Ons vra dat die optrede vinnig en beslissend is ten einde sowel lewe as eiendom te beskerm.”

Theunissen het ’n beroep op die geweldenaars gedoen om op te hou, maar pleit ook dat mense wat teen die geweld optree, binne die wet bly. Dié opmerking volg op verskeie video’s wat op sosiale media versprei is van mense wat met onder meer bofbalkolwe en vuurwapens op betogers toesak.

Die Small Business Institute (SBI) het ook die geweld veroordeel.

“Hoewel ons Grondwet die reg van elke Suid-Afrikaner om te betoog waarborg, is die geweld waaraan gewone mense, eiendom, vragmotors en sakepersele blootgestel word, heeltemal onregverdigbaar,” sê John Dludlu, uitvoerende hoof van die SBI, in ’n verklaring.

Die SBI sê wetstoepassers se reaksie was “stadig, gefragmenteer en tragies onvoldoende”.

“Dis heeltemal onaanvaarbaar. Suid-Afrikaners en ekonomiese rolspelers, veral klein en mediumgrootte-ondernemings, verdien beskerming van amptelike veiligheidsdienste,” sê Dludlu.

Albei organisasies sê afsonderlik dis baie duidelik dat wat as politieke protes teen die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma begin het, deur misdadige elemente “gekaap” is. Daar is ook tekens dat die aanvalle goed georkestreer is.

“Benewens dat dit menselewens eis, dreig die chaos om werkloosheid, armoede, honger en ongelykheid en voedselsekerheid onder miljoene Suid-Afrikaners te vererger. Die skade wat aan verskaffingskettings aangerig is, sal die broodnodige ekonomiese herstel en herbou vertraag en beleggersentiment demp,” sê Dludlu.

Die stryd teen die Covid-19-pandemie word ook ondermyn. Netwerk24 het reeds berig nooddienswerkers en hospitale sukkel en inentingsplekke het plek-plek hul deure gesluit.

LEES OOK: Betogings belemmer nooddienste, medici; inenting gestaak

Meer oor:  Sbi  |  Winkels  |  Plundery  |  Zuma-Geweld  |  Plundery En Geweld  |  Kleinhandel  |  Zuma-Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.