Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid jaag onrus aan – ekonome
werkloosheid
Werkloosheid is nou 42% volgens SSA. Foto: Unsplash

Ekonome het Dinsdag geskarrel om hul eie berekeninge oor die werklike werkloosheidskoers te doen weens die “misleidende” indruk wat geskep word deur Statistieke Suid-Afrika (SSA)se amptelike werkloosheidskoers van 23,3% - teenoor die vorige kwartaal se 30%.

Werkloosheid is eintlik ver oor die 40% en nader aan 45% meen die ekonoom Annabel Bishop van Investec.

Peter Little, fondsbestuurder by Anchor Capital, bereken die amptelike werkloosheidskoers is eerder 39,7% as die ekstra 5 miljoen mense wat nou ekonomies onaktief is, teruggeplaas word in die arbeidsmag.

Die skok-werkloosheidsyfers, veral onder die jeug, gaan tot al meer politieke en maatskaplike onrus lei, het ekonome van PwC gewaarsku, juis omdat Suid-Afrika se arbeidsmag uit soveel jong mense bestaan.

Bishop beklemtoon dat SSA weens die inperking nie die peiling op sy gewone manier kon uitvoer nie. Die ramings vir die werkloosheidskoers is nie op ’n volledige opname gegrond nie en is dus nie met vorige tydperke vergelykbaar nie. Weens die inperking moes die kwartaallikse arbeidsmagpeiling deur rekenaargesteunde telefoononderhoude ingesamel word, en nie deur fisieke afsprake by werkgewers en huishoudings nie.

werkloosheid

Die inperking het reisbeperkings en aandklokreëls ingesluit, en mense was in April en in mindere mate in Mei tot hul huise beperk, so hulle kon nie gaan werk soek nie, het Bishop verduidelik. Die inperking het in elk geval ekonomiese aktiwiteit in die tweede kwartaal tot stilstand gedwing.

As die 2,2 miljoen mense wat hul werk in die tweede kwartaal verloor het steeds as deel van die werklose arbeidsmag geklassifiseer sou word, sou dit die amptelike werkloosheidskoers tot so hoog as 45% gedruk het, sê Bishop.

Sy verwag die derde kwartaal se werkloosheidsyfers sal skerp styg namate die inperkings verslap en daar meer mense is wat aktief werk soek, maar nie kry nie.

Michael Ade, hoofekonoom van die werkgewersorganisasie Seifsa, sê die teleurstellende indiensnemingsyfers beklemtoon die reusetaak vir beleidmakers en belanghebbendes om die groeiende krisis te takel.

Seifsa verteenwoordig 21 onafhanklike werkgewerorganisasies in die metaal- en ingenieursbedryf. Die meer as 1 200 werkgewermaatskappye gee werk aan sowat 167 000 mense.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan mik vir ’n werkloosheidskoers van 15% teen 2030, sê Ade, maar die huidige tendens werk in die teenoorgestelde rigting.

Met die volgehoue koronaviruspandemie en vrese oor opeenvolgende golwe van besmetting, is dit moeilik om enigsins ’n herstel in indiensneming in die nabye toekoms te voorspel, waarsku Ade.

Volgens hom moet almal, nie net die regering of die vakbonde of groot maatskappye nie, saamwerk om die situasie om te keer. Beleidmakers moet wel ook meer steun gee vir klein en beginner-ondernemings, asook entrepreneurskap in townships.

Little wys op die skoksyfer dat twee uit elke drie mense van werkende ouderdom in Suid-Afrika werkloos is.

Die konstruksiesektor is die ergste getref, met ’n 20%-daling in indiensneming teenoor ’n jaar gelede.

Siphamandla Mkhwanazi, senior ekonoom van FNB, verwag ook soos Ade dat die arbeidsmarktoestande tot in 2021 kan versleg. Die Covid-19-Ters-betalings en die staat se ekstra welsynstoelae het wel verbruikersbesteding ondersteun, maar dit is net tydelik.

Lullu Krugel en dr. Christie Viljoen, ekonome van PwC, sê die regte syfer om na te kyk is die uitgebreide werkloosheidskoers van 42%. Hulle waarsku dat net ’n deel van die 2,2 miljoen mense wat in die tweede kwartaal hul werk verloor het, dit deur die loop van die jaar sal terugkry. Hulle verwag steeds ’n netto verlies van 1,5 miljoen werkgeleenthede teen die einde van die jaar, en ’n toename in betogings en protesoptrede.

werkloosheid

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Werkloosheid  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Qlfs2002  |  Ssa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.