Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid kan tot bo 50% styg, sê kenners

Suid-Afrika se droewige werkloosheidskoers – op 43% van die ergste ter wêreld – gaan nie regkom sonder vinnige en volhoubare arbeidsintensiewe ekonomiese groei nie, waarsku Ann Bernstein, uitvoerende direkteur van die Centre for Development and Enterprise (CDE).

Werkloosheid staan op 30,8%, maar die breë definisie het dit op 43%. Illustrasie: iStock

Terwyl ons ekonomiese strategie op kapitaalintensiewe groei fokus en dít subsidieer, sit ons grootliks met ’n ongeskoolde, jong arbeidsmag met min of geen werkondervinding.

Suid-Afrika moet ’n plan maak om fabrieke hierheen te lok wat weens strenger arbeidsvereistes uit China wil padgee, wat ’n vastrapplek in Afrika wil vestig en hul verskaffingsketting wil diversifiseer, sê sy. Vervaardiging aan die lae end van die verskaffingsketting is die enigste manier waarmee enige land ter wêreld wat nié olie ontdek het nie, vooruitgang verseker het.

Volgens Bernstein het Suid-Afrika nie ’n geskoolde bevolking nie en baie mense wat net lae geskoolde werk kan doen, maar ons weier om te leer. “Die laaste 25 jaar in Suid-Afrika was ’n negatiewe eksperiment,” het sy Woensdag in ’n virtuele gesprek oor die werkloosheidskrisis gesê. Dit is aangebied deur die Vryemarkstigting.

Die ekonoom Mike Schüssler en kommentator Phumlani Majozi het Woensdag in ’n rubriek vir Money­web gesê nagenoeg 1,4 miljoen formele en informele poste loop gevaar om in die slag te bly weens die impak van vlak 3-inperkings op verskeie ekonomiese sektore. Die totale getal mense in diens in die reis-, toerisme-, vermaak-, ontspanning-, vervaardiging-, landbou- en dienstesektor is gelykstaande aan 1 uit elke 12 poste wat regstreeks bedreig word. In die Wes-Kaap word 1 uit elke 6 poste bedreig en in die Noord-Kaap 1 uit elke 5.

In die lig van potensiële werkverliese onder die vlak 3-inperkings kan die werkloosheidskoers volgens die uitgebreide definisie (wat ook ontmoedigde werksoekers insluit) dus binne ’n jaar van die huidige 43% tot bo 51% styg, waarsku hulle.

Op grond van jaarlikse finansiële statistieke bereken hulle die formele private sektor kan 8,1% van sy omset verloor elke maand wat die inperkingsmaatreëls geld. Dít is ’n verlies van R41,4 miljard elke maand.

Bernstein sê hoewel die regering die eerste Covid-19-vlaag waarskynlik so goed hanteer het as wat hy kon te midde van groot onsekerheid, het hy blykbaar niks geleer nie. “Waarom is daar nie met private ondernemings in die tabak-, alkohol-, toerisme- en gasvryheidsbedryf beraadslaag voordat die vlak 3-beperkings weer einde Desember ingestel is nie?” Volgens haar is daar is ook te veel vae planne en idees. So byvoorbeeld is die beloofde infrastruktuurplanne goed en wel, maar wat is die prioriteite? Watter projekte moet eerste aangepak word vir maksimum ekonomiese groei en werkskepping, deur wie word dit aangepak en gefinansier? Dieselfde met die gewilde frase “herindustrialisering deur lokalisering”. Niemand weet regtig wat dit beteken nie, sê sy.

Die vakverbond Cosatu het ook die afgelope week sy frustrasie met die regerende ANC te kenne gegee oor die gesloer met Covid-19-entstowwe en die skade van die voortslepende inperkingsmaat­reëls, berig Bloomberg.

Cosatu sê in ’n dokument aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee hy is baie besorg oor die inperkings, want elke dag wat dit voortduur, gaan meer poste verlore, sakeondernemings onder en die ekonomie verloor miljarde rande. “Daar is geen tekort aan beleid nie en ons het nie nuwe planne nodig nie. Wat ons nodig het, is eerlikheid en konstruktiewe oordeel oor hoe ons dit implementeer. Dit is iets waarin die regering nie slaag nie,” sê Cosatu.

Volgens Bernstein is ekonomiese groei nie haalbaar sonder betroubare kragvoorsiening nie, die staat moet die fiskale situasie dringend regruk, staatsbeheerde entiteite regruk, basiese onderwys verbeter (die beste vorm van transformasie) en sy houding teenoor die private sektor verander. Sy sê Suid-Afrika het ’n ander kabinet nodig, gevul met bekwame mense wat uitgeknip is vir die werk. “Daar is baie swart en wit Suid-Afrikaners buite die regering wat die werk beter kan doen as wat nou gebeur.”

Haar raad is dat pres. Cyril Rama­phosa vyf hervormingsprioriteite kies en dit toevertrou aan ’n span kundiges wat die ekonomie verstaan en die hervormings kan deurvoer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.