Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid: ‘Ontwikkel vaardighede, verslap reëls’
Die leer van digitale vaardighede is deel van die antwoord vir die oplossing van werkloosheid. Foto: Pixabay

Die enigste faktore wat ’n werklike verskil aan Suid-Afrika se hemelhoë werkloosheidskoers sal maak, is as mense met meer vaardighede toegerus word en as beleidsprobleme opgelos word.

Daarsonder sit Suid-Afrika met “struktureel taai” werkloosheid wat nie onder 25% sal daal nie, sê die ekonomiese eenheid van Nedbank onder leiding van Nicky Weimar na aanleiding van die nuwe rekordhoë werkloosheidskoers van 30,8% wat Statistieke Suid-Afrika Donderdag bekend gemaak het.

Die uitgebreide werkloosheidskoers is ook weer op ’n rekord, van 43,1%.

Weimar sê om Suid-Afrika se strukturele probleme op te los, sal ’n “daadwerklike” poging verg en sal nie oornag gedoen kan word nie.

Hoewel 543 000 meer mense nou werk het as in die tweede kwartaal – toe 2,2 miljoen mense afgelê is – beteken dit steeds 1,7 miljoen minder mense het werk as ’n jaar gelede, vóór die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking en toe die land in ’n resessie begin ingly het.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, verwag wel dat nog 250 000 poste in die vierde kwartaal herwin sal word danksy die heropening van die toerisme- en gasvryheidsbedryf.

Krugel glo ook dat veral digitale vaardighede deel van die antwoord vir die oplossing van werkloosheid is, asook steun aan kleinsakeondernemings

Aan die politieke front was kommentaar uiteenlopend, met die DA wat pleit vir swiepende hervorming van die arbeidsmark, terwyl Cosatu eis dat die regering juis meer ingryp om werkers te beskerm.

Die DA-LP dr. Michael Cardo beskryf die syfers as “katastrofies” en sê dit wys die regering moet die deregulering van die arbeidsmark sentraal tot sy ekonomiese herstelplan maak. Cardo sê net die private sektor kan werk skep op die skaal wat nodig is, maar dan moet regulasies verslap word. Hy sê kollektiewe bedinging lê ondernemings lam en die nasionale minimum loon ontmoedig indiensneming.

“Sonder ’n omvattende pakket van hervorming is pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan doodgebore en sal die land op sy afwaartse spiraal voortgaan.”

werkloosheid

Cardo sê die plan plaas sy hoop egter “blindweg en vernietigend” “op ’n staat wat nie die vermoë het om die land uit die gemors wat hy geskep en vererger het, te kry nie.”

Aan die ander kant blameer Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, kapitalisme en die staat se besuinigingsmaatreëls vir die syfers.

Cosatu sê sy eie syfers dui daarop dat die uitgebreide werkloosheidskoers nader aan 54% is.

“Dit hou aan om ons posisie te regverdig dat die taak van die grondliggende transformasie van ons ekonomie, die skep van ordentlike werk en die verskaffing van basiese dienste aan die meerderheid van ons mense nie aan markkragte oorgelaat kan word nie. Die syfers gaan nie verander sonder ’n aktivistiese regering wat in staat en gewillig is om doeltreffend in te gryp om ekonomiese verhoudinge te verander nie.”

Die vakverbond trek te velde teen die “ineenstorting” van die leningswaarborgskema, die belofte van die Reserwebank dat hy ’n deel van lenings sal waarborg as banke geld aan kleiner ondernemings uitleen en hulle dit nie kan terugbetaal nie. Daar was heftige kritiek op die skema omdat banke nie op groot skaal geld uitgeleen het nie.

Pamla sê Cosatu hoop dat daar nuus oor beleggings en werkskepping sal wees op die derde beleggingsberaad wat Ramaphosa volgende week aanbied.

werkloosheid

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.