Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Totale werkloosheid skiet op tot meer as 43%

Nagenoeg halfmiljoen mense wat in die tweede kwartaal tydelik afgelê is, het weer in die derde kwartaal begin werk soos Suid-Afrika na ligter inperkingsvlakke vir die Covid-19-pandemie beweeg het.

Maar daar is steeds 1,7 miljoen minder mense met werk as ’n jaar gelede, blyk uit die kwartaallikse indiensnemingspeiling (QLFS) wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas uitgereik het.

Terwyl matrikulante leer vir hul eindeksamen lyk die kans dat hulle werk gaan kry, droewig.

Die amptelike werkloosheidskoers het opgeskiet tot 30,8% teenoor 23,3% in die tweede kwartaal. Die tweede kwartaal se syfers is egter skeefgetrek omdat mense weens die strenger inperkings nie werk kon soek nie. Mense wat nie aktief werk soek nie, word nie as werkloos getel nie.

Die 30,8% word beter vergelyk met die eerste kwartaal se 30,1%, en wys dat werkloosheid steeds aan die styg is sedert die begin van die jaar.

Die uitgebreide werkloosheidskoers het ook skerp gestyg, tot 43,1% teenoor die tweede kwartaal se 42% en die eerste kwartaal se 39,7%.

Dié syfer, wat ontmoedigde werksoekers insluit, wys dat meer as twee uit vyf mense van werkende ouderdom nie werk het nie, nie verder leer nie, en baie van hulle moed verloor het dat hulle werk sal kry. Altesame 11,1 miljoen mense van werkende ouderdom sou waarskynlik werk as hulle kon - 6,5 miljoen wat werk soek, 2,7 miljoen ontmoedige werksoekers en 1,9 miljoen wat ’n “ander” rede gee waarom hulle nie werk nie. Hulle is dus nie te oud of te siek om te werk nie, is nie tuisteskeppers nie en studeer nie.

Meer as 3 miljoen mense word nou weer as ekonomies aktief beskou wat in die tweede kwartaal meestal weens die inperkings ekonomies onaktief geraak het. Ekonomies aktiewe mense is mense wat óf werk óf werk soek.

werkloosheid

  

Werkloosheid volgens sektor

Al vier die oorhoofse sektore - formeel, informeel, landbou en private huishoudings - het meer mense in diens geneem as in die tweede kwartaal, maar het steeds minder werknemers as ’n jaar gelede.

  • Private huishoudings

’n Bemoedigende syfer is die skerp styging in die indiensneming van mense in private huishoudings in die derde kwartaal. Huiswerkers, kinderoppassers en tuiniers kon weer in Junie begin werk, maar nie alle huishoudings het hul huiswerker dadelik weer laat terugkeer werk toe nie. In die derde kwartaal het 116 000 huiswerkers wel weer begin werk.

Dis ’n styging van 11,5% teenoor die tweede kwartaal. Daar is egter steeds 165 000 minder mense wat as huiswerkers werk as ’n jaar gelede. Altesame 1,1 miljoen mense werk nou in private huishoudings.

  • Formele sektor

Die formele sektor, die grootste werkverskaffer in die ekonomie, het 242 000 mense in die derde kwartaal in diens geneem, ’n styging van 2,4% tot 10,3 miljoen mense. Dis egter steeds 908 000 minder as ’n jaar gelede.

  • Informele sektor

Altesame 176 000 werkers in die informele sektor het hul werk in die derde kwartaal teruggekry, ’n styging van 7,7% tot 2,5 miljoen mense. Dis egter steeds 539 000 minder mense as ’n jaar gelede.

  • Landbou

Die landbou het slegs 9 000 meer mense in sy diens gehad, ’n styging van 1,1% teenoor die tweede kwartaal. 808 000 mense werk nou in dié sektor. Dis steeds 72 000 minder mense as ’n jaar gelede.

  

Werkloosheid volgens bedryf

As werkloosheid nie volgens dié sektore (formeel, informeel, landbou en private huishoudings) ontleed word nie, maar volgens bedryf, blyk dit agt uit die tien het wel meer mense in diens geneem in die derde kwartaal teenoor die tweede.

  • Finansies: 200 000 meer mense oftewel 9%, het in die sektor gewerk.
  • Gemeenskaps- en maatskaplike dienste: 137 000 oftewel 4,2% meer mense het in die sektor gewerk, wat die staatsdiens insluit, maar ook persoonlike dienste soos haar- en skoonheidsalonne.
  • Private huishoudings: Die styging van 116 000 huiswerkers, oftewel 11,5%, is hierbo genoem.
  • Handel: 62 000 mense het teruggekeer werk toe, ’n toename van 2,1%. Die handel sluit ook die gasvryheidsbedryf in.
  • Mynbou: 46 000 mense het teruggekeer werk toe, ’n toename van 12,2%.
  • Konstruksie: 14 000 mense het teruggekeer werk toe, ’n toename van 1,3%.
  • Landbou: Die bedryf het, soos hierbo genoem, vir 9 000 meer mense werk gegee, ’n styging van 1,1%.
  • Vervaardiging: Net 4 000 mense, oftewel 0,3% meer, het teruggekeer werk toe in dié bedryf.
  • Vervoer: Vervoer en logistiek was een van slegs twee bedrywe waar minder mense gewerk het. Nog 7 000 mense het hul werk in die bedryf verloor, ’n daling van 0,8%.
  • Nutsdienste: 23 000 minder mense het in dié bedryf, wat krag, water en gas insluit, gewerk. Dis ’n skerp daling van 19,9%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.