Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid skiet op tot nuwe skok-rekord

Werkloosheid in Suid-Afrika het vir die tweede kwartaal opeenvolgens gestyg, dié keer tot 29%. Dit is so ver vasgestel kan word, die hoogste koers tot dusver.

Dis ’n baie skerp kwartaalstyging van 1,4 persentasiepunte en dis ook 1,8 persentasiepunte meer as ’n jaar gelede.

werkloosheid
Meer as 9,4 miljoen Suid-Afrikaners is sonder werk. Foto: Getty Images

As ontmoedigde werksoekers bygetel word, beloop die werkloosheidskoers 38,5%. Dit is ’n rekord – die derde kwartaal opeenvolgens dat dié syfer ’n algehele hoogtepunt bereik. Dit was in die tweede kwartaal 38%.

Altesame is meer as 9,4 miljoen mense van werkende ouderdom (15 tot 64) nie op skool nie, nie besig om verder te studeer nie, en nie reeds afgetree nie. Hulle identifiseer hulself ook nie as tuisteskeppers of te siek of gestremd om te werk nie.

Die aantal mense wat werk, het wel tussen die eerste en tweede kwartaal met 0,1% oftewel 21 000 mense tot meer as 16,3 miljoen mense gestyg. In die eerste kwartaal het net minder as 16,3 miljoen mense gewerk.

Die aantal werkloses het egter met 7,3% oftewel 455 000 mense tot 6,66 miljoen mense opgeskiet.

Dié syfers kom uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QLFS) vir die tweede kwartaal, wat pas uitgereik is.

Indiensneming het in die kwartaal in twee van die oorhoofse sektore toegeneem. Die informele sektor het 114 000 meer mense in diens gehad en landbou 5 000 meer. Die formele sektor en private huishoudings het elk 49 000 minder mense in diens gehad.

Uit die tien bedrywe wat SSA meet, het vier minder mense in diens gehad as in die eerste kwartaal, en sewe het minder mense in diens gehad as ’n jaar gelede.

Hier is ’n ontleding van elkeen se groei of inkrimping in die afgelope kwartaal en ook vergeleke met ’n jaar gelede:

  • Landbou: Hoewel landbou tussen die eerste en tweede kwartaal 5 000 meer werknemers gehad het, is dit 1 000 mense minder as ’n jaar gelede. 842 000 mense werk nou in die landbou.
  • Mynbou: Mynbou het 36 000 poste net in die tweede kwartaal verloor te midde van herstrukturering by verskeie goud- en platinummaatskappye. Dit is ’n daling van 8,7%. Die daling vir die volle jaar is 54 000 poste oftewel 12,4%.
  • Vervaardiging: Dié sektor is besig om mense aan te stel, hoewel nie vinnig nie. 9 000 mense is in die tweede kwartaal aangestel (0,5%), en vir die volle jaar 45 000 (2,6%).
  • Nutsdienste: Dié sektor, wat onder meer Eskom en waterrade verteenwoordig, het in die tweede kwartaal 1 000 meer mense in diens gehad as in die eerste kwartaal (0,5% meer), maar het 9 000 minder werknemers as ’n jaar gelede (-5,8%) gehad.
  • Konstruksie: Dié sektor het in die tweede kwartaal 24 000 mense aangestel (1,8% groei), maar ’n enorme 113 000 mense minder werk in die sektor as ’n jaar gelede (-7,6%).
  • Handel: Die sterkste groei van enige sektor vind in handel plaas. Dit het in die tweede kwartaal 84 000 meer werknemers gehad (2,5%), en ’n hele 210 000 meer as ’n jaar gelede (6,5%).
  • Vervoer: Dié sektor bloei ook werk, met 42 000 poste wat in die tweede kwartaal verlore gegaan het (-4,1%) en 32 000 minder werknemers as ’n jaar gelede (-3,1%).
  • Finansiële en sakedienste: Dié sektor het in die kwartaal 21 000 minder werknemers gehad (-0,8%), maar 96 000 meer as ’n jaar gelede (4%).
  • Gemeenskaps- en maatskaplike dienste: Dié sektor verteenwoordig hoofsaaklik die staatsdiens. Danksy die aanstelling van tydelike werknemers vir die verkiesing, het 48 000 meer mense in die tweede as die eerste kwartaal in dié sektor gewerk (1,3% groei), maar ’n massiewe 70 000 minder mense het in die sektor gewerk as ’n jaar gelede (-1,9%). Dit bly egter die grootste werkskepper met meer as 3,6 miljoen werknemers.
  • Private huishoudings: ’n Hele 49 000 minder mense het as huiswerkers, tuiniers of kinderoppassers gewerk as ’n kwartaal gelede (-3,8%), en 45 000 minder as ’n jaar gelede (-3,5%).Totaal: Altesame het die ekonomie in die tweede kwartaal 21 000 meer werknemers gehad (groei van net 0,1%). Dit is ook net 25 000 (0,2%) meer as ’n jaar gelede. Altesame 16,313 miljoen mense het werk.
werkloosheid

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.