Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkloosheid steeds op ontstellende rekord

Byna 10% méér Suid-Afrikaners – altesame 587 000 mense – is nou werkloos as ’n jaar gelede. 

Hiervan is 108 000 ’n verlies aan poste – deels weens afleggings – en die res weens die toetrede van jong mense tot ’n arbeidsmark wat nie vir hulle werk skep nie.

Werkloosheid is een van Suid-Afrika se nypendste maatskaplike probleme. Foto: Pixabay

Daarby het al hoe meer mense van werkende ouderdom ontmoedig geraak dat hulle ooit sal werk kry en daarom opgehou werk soek.

Hoewel Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas bekend gemaak het die land se amptelike werkloosheidskoers bly onveranderd op 29,1%, het werkloosheid volgens die uitgebreide definisie tot 38,7% (vanaf 38,5%) gestyg. Die syfers is vir die vierde kwartaal van 2019.

Die 29,1% is die hoogste sedert die syfers in hul huidige formaat gemeet word en die 38,7% is ’n nuwe rekord.

Volgens Risenga Maluleke, statistikus-generaal, is dit die eerste keer sedert einde 2008 – tydens ’n resessie – dat die werkloosheidskoers nié in die vierde kwartaal van ’n jaar verminder nie.

Werkloosheid is twee persentasiepunte hoër as ’n jaar gelede, toe dit 27,1% was. Dis vyf persentasiepunte hoër as tien jaar gelede se 24,1%.

Nog ’n ontstellende syfer is dat die handel - juis gewoonlik een van die groot werkskeppers aan die einde van enige jaar - einde 2019 werk aan 159 000 minder mense verskaf het. Die sektor het ook 70 000 minder werknemers gehad as einde 2018.

Konstruksie (12 000) en mynbou (11 000) het tussen die derde en vierde kwartaal meer mense in diens gehad, maar oor ’n jaar gemeet was daar onderskeidelik 131 000 en 8 000 minder mense wat in dié sektore gewerk het.

En terwyl daar heeltyd sprake is dat die staatsdiens poste moet vries of selfs besnoei, het die staat en verwante instellings in die vierde kwartaal 113 000 meer mense in diens gehad, en ’n hele 168 000 meer as ’n jaar gelede.

Nagenoeg 10,3 miljoen Suid-Afrikaners is nou werkloos. Dit sluit 6,7 miljoen mense in wat aktief werk soek en nog 2,9 miljoen wat al moed verloor het. Die res is mense wat om ’n ander rede nie werk soek nie.

Altesame 16,4 miljoen mense het nou werk.

In die vierde kwartaal het ’n totaal van 45 000 mense werk gekry vergeleke met die derde kwartaal. In net twee uit die vier oorhoofse sektore wat SSA meet (die formele sektor en landbou), het mense werk gekry, terwyl minder mense in die informele sektor werk en die aantal mense wat in private huishoudings werk, onveranderd gebly het.

Vergeleke met die vierde kwartaal van 2019 het indiensneming egter met 108 000 mense gedaal, terwyl die aantal werkloses met 9,6% gestyg het en die mense wat nie ekonomies aktief is nie, met 0,7% gestyg het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.