Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkskepping: 1ste kwartaal was stilte voor storm

Werkskepping het in die eerste kwartaal van 2020 gestagneer – en toe bars die Covid-19-storm los wat waarskynlik tot drie miljoen poste vernietig het.

werk
45 000 minder mense werk in konstruksie as ’n jaar gelede. Foto: Pixabay

In die eerste kwartaal is afleggings in die handel, konstruksie en vervaardiging uitgekanselleer deur aanstellings in die staatsdiens, sakedienste en selfs mynbou.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingsopname (QES) is 3 000 méér mense in dié kwartaal in die formele sektor in diens geneem.

Statisties gesproke beskou SSA dit as ’n 0%-verandering in indiensneming.

Die syfers vir die eerste kwartaal van die jaar weerspieël die stand van sake voordat ondernemings lamgelê is deur die staad van inperking. Die Nids-Cram-navorsingsprojek het onlangs geraam dat drie miljoen poste waarskynlik in die tweede kwartaal vernietig is, minstens die helfte van hulle permanent.

LEES OOK: 3 miljoen mense het in April hul werk verloor

Net meer as 10,2 miljoen Suid-Afrikaners werk nou in die formele sektor.

Uit die agt bedrywe wat SSA meet, het drie sektore tussen die vierde kwartaal van 2019 en die eerste kwartaal van 2020 poste verloor, een het onveranderd gebly en drie het mense aangestel.

  • Handel het 17 000 minder werknemers gehad (-0,7%), konstruksie 14 000 minder (-2,4%) en vervaardiging 2 000 (-0,2%).
  • Die nutsbedryf se indiensneming het onveranderd gebly.
  • Gemeenskapsdienste, wat grootliks die staatsdiens verteenwoordig, het werk aan 17 000 méér mense verskaf (0,6%), sake- en finansiële dienste 8 000 meer (0,3%), mynbou 3 000 (0,7%) en vervoer 2 000 (0,4%).

Vergeleke met Maart 2019 was daar in Maart 2020 3 000 méér mense in poste in die formele sektor, maar weer eens beskou SSA dit as statisties onbeduidend, oftewel as 0%-groei.

Van jaar tot jaar was daar aanstellings in vier bedrywe en afleggings in twee. In twee bedrywe het indiensneming onveranderd gebly.

  • Gemeenskapsdienste het 54 000 mense aangestel (2%), handel 12 000 (0,5%), sake- en finansiële dienste 8 000 (0,3%) en vervoer 2 000 (0,4%).
  • Indiensneming in die nutsbedryf en mynbou het onveranderd gebly.
  • Konstruksie het 45 000 poste verloor (-7,4%) en vervaardiging 28 000 (-2,3%).

Hoe verskil die QES en QLFS?

Die QES beeld altyd ’n effens meer optimistiese beeld van werkskepping uit as die kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS) omdat dit slegs gedoen word onder maatskappye in die formele sektor wat vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer is en ’n omset van meer as R300 000 per jaar het. Laasgenoemde kyk ook na die informele sektor, landbou en indiensneming in private huishoudings.

Die QLFS vir die eerste kwartaal, wat in Junie uitgereik is, dui daarop dat 30,1% van Suid-Afrikaners werkloos is (dus nie werk nie en wel werk soek), terwyl 39,7% van mense werkloos is volgens die uitgebreide definisie, wat ook ontmoedigde werksoekers insluit. Daar word alom verwag dat die amptelike werkloosheidskoers tot 50% of méér gaan styg in die tweede kwartaal weens tydelike en permanente afleggings tydens die inperkings.

  • In die kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS) word individue gevra waar hulle werk en, indien hulle nie werk nie, waarom nie en of hulle werk soek. In die kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) word BTW-geregistreerde ondernemings gevra om te sê hoeveel werknemers hulle het.
  • Die QLFS is beperk tot werkers van 15 tot 64 jaar oud, maar die QES vra nie mense se ouderdom nie.
  • Die QLFS tel elke persoon net een keer, selfs al het hulle meer as een werk. In die QES kan daar herhaling wees omdat verskillende ondernemings dalk dieselfde persoon op hul betaalstaat het.
werkloosheid, formele sektor, qes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.