Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkskepping: Alle oë nou op beleid

Die effense verbetering in Suid-Afrika se werkloosheidskoers is dalk van korte duur – dit weerspieël grootliks die gebruiklike toename in tydelike poste in aanloop tot Kersfees.

Statistieke Suid-Afrika het Dinsdagoggend bekend gemaak die land se amptelike werkloosheidskoers het van 27,5% in die derde kwartaal tot 27,1% in die vierde kwartaal gedaal.

Hoewel die daling in werkloosheid goeie nuus is ná ’n jaar waarin Suid-Afrika ’n resessie beleef het, is dit steeds hoër as in die vierde kwartaal van 2017, toe dit 26,7% was. Die uitwerking van die resessie is dus nog nie uitgewis nie.

k

Werkloosheid het in die eerste kwartaal van 2018 die hoogste vlak in meer as 13 jaar – 27,7% - gehaal.

Lara Hodes, ekonoom van Investec, sê pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede beklemtoon dat ekonomiese groei en werkskepping versnel moet word. Hy het ook klem gelê op die verbetering van onderrig om die vaardighede te ontwikkel wat die land nou en in die toekoms nodig het.

Die hoop hiervoor wentel volgens haar om ’n verbetering in beleids- en politieke sekerheid ná Mei se algemene verkiesing. Hodes sê as “strukturele ondoeltreffendhede” in die ekonomie getakel kan word, “sal beleggersentiment verbeter, wat vaste investering en daarom volhoubare indiensneming sal aandryf.”

Met ontmoedigde werksoekers ingereken, is werkloosheid 38,8% – 0,7 van ’n persentasiepunt meer as die vorige kwartaal.

Suid-Afrika het nou 16,5 miljoen mense met werk en 6,1 miljoen mense wat werk soek.

Werk is in die vierde kwartaal in drie uit die vier sektore van die ekonomie geskep. Die formele sektor het 92 000 poste geskep, gevolg deur private huishoudings (65 000) en landbou (7 000). Die informele sektor het 15 000 minder mense in diens gehad.

Wat betref die tien bedrywe wat SSA meet, het finansies die meeste werk geskep – 109 000 poste net in die vierde kwartaal en 238 000 poste oor die loop van 2018. Dis ’n toename van 10% vir die jaar.

Die dienstebedryf, wat die staatsdiens insluit, het die meeste werknemers verloor: 51 000 in die vierde kwartaal en 67 000 in die hele 2018. Laasgenoemde is ’n daling van 3,6%.

Persentasiegewys het die bedryf vir nutsdienste – krag, water en gas – die grootste verlies aan werknemers beleef. Dit is 14,2% minder as in die derde kwartaal en 10,5% minder mense as ’n jaar gelede werk in dié bedryf.

Hoewel landbou in die vierde kwartaal 7 000 mense aangestel het – ’n styging van 0,9% vir die kwartaal – was daar geen styging vergeleke met die Desemberkwartaal van 2017 nie.

Die landbou-ekonoom Wandile Sihlobo van Agbiz sê die Wes-Kaap het die grootste persentasie poste in die landbou geskep, naamlik 16%, gevolg deur KwaZulu-Natal (13%), Mpumalanga (5%) en Noordwes (4%).

Hy is optimisties oor landbou se werkskeppingspotensiaal op kort termyn, selfs ondanks die droogte in Noordwes en die Wes-Vrystaat. Die werkskepping sal hoofsaaklik van die groente- en vrugtebedryf kom.

Dis grootliks danksy die beter landboutoestande in die Wes-Kaap, wat 25% van Suid-Afrika se landbouposte verteenwoordig.

“Die wynbedryf, wat op die oomblik oes, gaan ’n effens groter oes hê as in 2018. Daarby het KwaZulu-Natal, Mpumalanga, die Oos-Kaap, Limpopo en Gauteng onlangs reënbuie gekry en dit kan landboubedrywighede in die eerste kwartaal van 2019 ondersteun.”

Sihlobo sê Ramaphosa sal vanuit ’n beleidsoogpunt moet fokus op veldgewasse en groente en vrugte, wat nagenoeg tweederdes van alle landbouposte verteenwoordig.

Daarby reken hy onderbenutte en gemeenskaplike grond in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo behoort fokusgebied te wees.

“daar is getuienis wat daarop wys dat dié provinsies groot gebiede ongebruikte, bewerkbare grond het wat potensieel die landbousektor ’n hupstoot kan gee, en dus ook werkskepping.”

Hy sê grond wat reeds ingevolge grondhervorming aan oorspronklike eienaars oorgedra is, moet tot kommersiële produksie gebring word en besproeiingstelsels moet uitgebrei word.

Sihlobo is een van Ramaphosa se raadgewers oor grondhervorming, deel van ’n paneel waarop Dan Kriek van Agri SA ook dien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.