Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Werkskepping: Meer as berade, mikro-stappe nodig

Alle oë is nou op pres. Cyril Ramaphosa om die probleme in die ekonomie aan te pak sodat volhoubare werk geskep kan word – en meer is nodig as nog ’n beraad, sê ekonome.

werkberaad
Pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar op sy eerste werkberaad in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Ramaphosa het in Oktober op sy werkberaad die doelwit gestel dat 275 000 méér poste elke jaar geskep moet word danksy sekere ingrypings deur die regering en private sektor.

Daarvan het nog dadels gekom, met die ekonomie wat in die eerste kwartaal van 2019 86 000 minder mense in diens gehad het as ’n jaar gelede. Daar was ook 237 000 minder mense in diens as in die vierde kwartaal van 2018, maar dit kan deels verklaar word deur tydelike werk wat normaalweg in die Kersvakansie geskep word.

Die daling in werkgeleenthede, terwyl die arbeidsmag steeds groei, het die land se amptelike werkloosheidskoers van 27,1% in die vierde kwartaal van 2018 tot 27,6% in die eerste kwartaal van 2019 laat styg. Uitgebreide werkloosheid het ’n nuwe rekord van 38% behaal.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê Ramaphosa se teiken van 275 000 poste sal net geloofwaardig bly as hy die komponente van sy werkskeppingstrategie versnel.

“Maar goedbedoelde strategieë, benaderings en berade het vantevore te kort geskiet om die uitdaging van werkloosheid op te los. Tensy algehele groeivooruitsigte aansienlik verbeter, sal al dié nuttige mikro-stappe onafwendbaar slegs ’n minimale uitwerking hê.”

Parsons hoop dat werkskepping die fokus van Ramaphosa se inhuldigingstoespraak in Junie sal wees.

Lara Hodes, Investec-ekonoom, sê politieke en beleidsekerheid behoort nou ná die verkiesing te verbeter. Dit kan sakevertroue verhoog, wat vaste investering kan aandryf en só werk skep. Sy sê “strukturele ondoeltreffendhede” moet egter verminder word.

“Daar is beduidende druk op Ramaphosa om ’n nuwe kabinet te struktureer wat die beste politici inspan om Suid-Afrika se werkskeppingsuitdaging te takel,” sê die ekonomiese span van PwC Strategy& onder leiding van dr. Joachim Rotering.

“Om die golf van die swak ekonomie om te draai, is nie genoeg nie: Strukturele veranderinge is nodig om werkskepping te versnel en die werkloosheidskoers te verlaag.”

Vier uit die tien bedrywe wat Statistieke Suid-Afrika meet, het nou minder mense in diens as ’n jaar gelede. Ontleders is veral bekommerd oor vervaardiging (-69 000) en infrastruktuur (-92 000). Landbou het 9 000 poste verloor. Daar is ook 112 000 minder mense wat in gemeenskapsdienste – die staatsdiens en staatsinstellings – werk.

Maar goedbedoelde strategieë, benaderings en berade het vantevore te kort geskiet om die uitdaging van werkloosheid op te los.
Prof. Raymond Parsons

Jeugwerkloosheid

Nog ’n baie kommerwekkende syfer waarop ekonome hamer, is jeugwerkloosheid: 55,2% van mense van 15 tot 24 jaar wat nie meer skoolgaan of verder studeer nie, is werkloos, asook 34,2% van mense van 25 tot 34 jaar. Dis skerp stygings van onderskeidelik 2,8 en 1,2 persentasiepunte vir die twee ouderdomsgroepe vergeleke met ’n jaar gelede.

Die styging is dus veel skerper as die 0,5 van ’n persentasiepunt waarmee die nasionale werkloosheidskoers gestyg het.

Die styging in werkloosheid onder jong mense kan nié toegeskryf word aan die styging in die aantal mense van dié ouderdomsgroepe wat die arbeidsmag betree nie. Die getal mense van 15 tot 24 jaar in die arbeidsmag het om die waarheid te sê met 1,5% gedaal in dieselfde jaar, terwyl daar 0,5% minder mense in die arbeidsmag was in die groep van 25 tot 34 jaar oud.

Uitgebreide werkloosheid onder jong mense is ook hoër en beloop nou onderskeidelik 69,1% en 44%. Dit beteken byna 7 uit 10 mense van 15 tot 24 jaar oud is nie op skool of kollege nie en soek werk óf is al moedeloos werk gesoek.

Die vermindering van jeugwerkloosheid is vir die regering ’n prioriteit wat in samewerking met die private sektor aangepak word deur onder meer die jeugwerkloosheidsdiens Yes, wat in 2018 bekend gestel is met die doel om werk aan miljoen jong mense te verskaf. Dit lyk egter nie of dit al ’n duik in jeugwerkloosheid maak nie – die Momentum- ekonomiese span raam dat nog net 4 600 mense hierdeur werk gekry het.

werkloosheid
Meer oor:  Cyril Rama­Phosa  |  Qlfs1901  |  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Werkberaad  |  Werkloosheidskoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.