Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wes-Kaap bal ystervuis teen drankmisbruik

Korter handelsure vir kroeë en drankwinkels, duurder dranklisensies en ’n perk op die hoeveelheid drank wat afgelewer mag word, is van die drastiese ingrypings wat die Wes-Kaapse regering oorweeg om drankmisbruik vas te vat.

’n Betoger met ’n vals doodskis tydens ’n “begrafnis” in Kaapstad vir restaurante wat weens die inperking moes sluit. Foto: Nardus Engelbrecht, Gallo

Terwyl Suid-Afrikaners aan ’n algehele alkoholverbod onderwerp word, word wysigings aan die provinsie se drankwetgewing beoog om alkoholverwante geweld en ander erge nadele van alkoholmisbruik te probeer hokslaan.

In Augustus verlede jaar, toe alkoholverkope vir ’n tweede keer verbied is, het Alan Winde, Wes-Kaapse premier, gesê ’n algehele verbod is ’n “stomp instrument” en dis boonop nie volhoubaar nie.

Daar moet intelligente planne beraam word om die wortel van die kwaad te takel. Die provinsie het ’n beleidsdokument opgestel met ingrypings wat ooreenstem met dié van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

’n Taakspan onder leiding van Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, is in die lewe geroep wat bestaan uit gesondheidskenners, amptenare van die drankowerheid en provinsiale staatsamptenare.

Van die vernaamste wysigings wat voorgestel word, is:

  • Dranklisensiehouers moet wetlik verplig word om te bepaal of ’n klant wel kragtens wet oud genoeg is om drank te koop of te gebruik;
  • Dranklisensiehouers moet noukeurig boek hou van alle drankverkope;
  • Die drankowerheid se magte moet hersien word sodat hy handelsure kan vasstel; en
  • ’n Minimum eenheidsprys volgens die volume alkoholinhoud van ’n spesifieke produk moet ingestel word.

“Die minimum-eenheidsprys-model is iets wat suksesvol in ander jurisdiksies ingestel is,” het Wade Seale, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid, aan Rapport gesê.

Die prysmodel sal die regering in staat stel om ’n minimum prys vir alkoholprodukte vas te stel.

Dié met ’n hoër alkoholinhoud sal duurder wees.

Die regering hoop dit sal drankgebruikers ontmoedig om drank wat ’n baie hoë alkoholinhoud het te drink of hulle aan drank te vergryp.

Die ure waartydens kroeë en ander drinkplekke mag oopbly, gaan ook onder die vergrootglas kom en waarskynlik verkort word.

De Akker, ’n gewilde drinkplek in Stellenbosch. Kroeë se handelsure kan in die toekoms aansienlik ingeperk word en hul dranklisensies kan dalk ook duurder wees as wysigings aan die Wes-Kaapse huidige drankwetgewing deurgevoer word. Foto: EIKESTADNUUS

Seale sê daar is bewyse dat die persentasie traumavoorvalle wat met alkoholmisbruik verband hou dramaties toeneem wanneer alkohol tot laatnag of in die vroeë oggendure beskikbaar is.

“As die ure waartydens alkohol verkoop en bedien word dus beperk word en die beskikbaarheid van drank afneem, sal dit traumavoorvalle ook verminder.”

Nog ’n voorstel is dat bestaande dranklisensies ná openbare konsultasie verander kan word.

Volgens Seale is dit problematies wanneer dranklisensiehouers aansoek gedoen het om hul handelsure te verleng waar gemeenskappe daarteen gekant is. Dikwels word handelsure dan later beperk as gevolg van openbare druk.

Dit beteken dat bestaande lisensiehouers se voorwaardes waaronder hulle sake kan doen waarskynlik sal verander as dit in die openbare belang is.

Lisensiegeld sal in die toekoms ook in ooreenstemming gebring word met die mate van polisiëring wat nodig is om seker te maak ’n lisensiehouer kom die reëls na. Seale verduidelik: “ ’n Kroeg kan byvoorbeeld groot volumes alkohol verkoop en sal waarskynlik baie streng lisensievoorwaardes hê.

“Dit beteken die owerhede moet lang en streng beheer uitoefen om seker te maak die voorwaardes word nagekom.

“Die lisensiegeld sal hierdie hoër koste van regulering weerspieël.”

Die voorgestelde wysigings sal eers aan die Wes-Kaapse kabinet voorgelê en dan oopgestel word vir insette van die publiek.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: JONATHAN LESTRADE

Seale voorsien dit sal teen September vanjaar gefinaliseer word.

Intussen het die alliansie vir alkoholbeleid (Saapa) in ’n verklaring gesê die nasionale regering moet erns maak met die wysigings aan bestaande drankwetgewing wat reeds sedert 2017 stol.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy 8 Januarie-toespraak ter viering van die ANC se 109de bestaansjaar gesê Suid-Afrika sal bestaande drankregulasies moet verander om misdaad en geweld in die land te beveg.

Die kabinet het in 2016 ’n wetsontwerp goedgekeur om die Drankwet te wysig, maar dit is nooit bekragtig nie en ook nie weer aan parlementêre prosesse onderwerp nie.

Volgens Saapa is dit die plig van die departement van handel en nywerheid en mededinging om die wetgewing weer op die parlementêre agenda te plaas.

Saapa het gesê die regering behoort die meganismes tot sy beskikking (soos die drankwysigingswetsontwerp) te gebruik om alkoholmisbruik te takel pleks daarvan om hom in krisistye op noodmaatreëls te beroep.

Die voorstelle wat in die 2016-konsepwetgewing vervat is, bepaal onder meer die wettige ouderdom vir drankgebruik moet van 18 tot 21 jaar verhoog word en alkoholadvertensies op sosialemediaplatforms moet verbied word.

Die bestaande verbod op alkoholverkope duur nog minstens tot 15 Februarie.

Meer oor:  Drank  |  Drankmisbruik  |  Regulasies  |  Drankverbod  |  Alkoholverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.