Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wes-Kaap bly bo met skoon oudits

Die Wes-Kaap kan daarmee spog dat 79% van sy entiteite in die afgelope boekjaar skoon oudits gekry het.

Maar ná jare dat Gauteng vir 100% van sy entiteite ongekwalifiseerde ouditmenings gekry het, het sy aantal skoon oudits van 12 tot sewe gekrimp en het onreëlmatige besteding toegeneem.

Die Vrystaat het intussen die twyfelagtige eer om die enigste provinsie te wees met geen skoon oudit nie.

Dít blyk uit die ouditeur-generaal se jongste verslag oor nasionale en provinsiale ouditverslae vir die 2018-’19-boekjaar.

munisipaliteite

Wes-Kaap

Die provinsie se ouditresultate is bykans onveranderd van 2018 en hy kry lof van Kimi Makwetu, ouditeur-generaal, vir die feit dat hy die kleinste bedrae van onreëlmatige asook vrugtelose en vermorste uitgawes het.

Oor die afgelope vyf jaar het Wes-Kaap ’n stewige en konsekwente patroon van goeie ouditverslae gevestig. Hy skryf dit toe aan die provinsiale leierskap en rekenpligtige beamptes en owerhede wat ’n kultuur van verantwoordbaarheid en goeie korporatiewe bestuur gevestig het.

Gauteng

Die provinsie se ouditverslae toon volgens Makwetu ’n kommerwekkende tendens weens die skoon oudits wat tot sewe afgeneem het. Twee entiteite het weersprekende ouditmenings gekry, wat beteken die OG wou dit nie eens waag om ’n opinie oor die oudit te gee nie, so onbetroubaar is die syfers bevind.

Rekenpligtige beamptes en owerhede het nie betyds gereageer op bevindings wat in vorige boekjare uitgewys is nie.

Vrystaat

Hoewel ouditresultate oor die algemeen in die Vrystaat verbeter het - met vyf verbeterings teenoor drie verswakkings in ouditverslae - is die oorhoofse verantwoordbaarheid van die Vrystaat steeds ’n bron van kommer, sê Makwetu.

Dit is die enigste provinsie met geen skoon oudit nie, en sy finansiële toestand is baie sleg. Tot 69% van die entiteite het dringende ingryping nodig. Die Vrystaat het ook die hoogste ongemagtigde asook vrugtelose en vermorste uitgawes van al die provinsies, met onreëlmatige besteding wat wel van R3,2 miljard tot R2,6 miljard afgeneem het.

Oos-Kaap

In die Oos-Kaap het 25% van die entiteite skoon oudits gekry teenoor 20% in 2018, maar onreëlmatige besteding het effens tot R869 miljoen gestyg.

Daar is ’n kultuur van nievoldoening in veral voorsieningskettingbestuur, het Makwetu opgemerk, en gesê dit duur voort omdat leiers dit verdra dat afgewyk word van wetsvereistes.

KwaZulu-Natal

Die provinsie se ouditprestasie is bykans onveranderd, met vyf skoon oudits teenoor drie in 2018, en drie entiteite wat verbeter het en drie wat verswak het.

Maar teen R12,4 miljard het KwaZulu-Natal die hoogste bedrag onreëlmatige besteding.

Limpopo

Baie werk is nog nodig in Limpopo, maar die effense beter ouditresultate is bemoedigend, sê Makwetu. 11% van sy entiteite het skoon oudits teenoor 5% in 2018. Onreëlmatige besteding het wel gegroei van R1,5 miljard tot R2 miljard.

Mpumalanga

Die provinsie se ouditresultate het agteruitgegaan ná ’n verbetering in 2018, en die OG wys daarop dit was die afgelope vyf jaar al wisselvallig. Daar is nie sterk interne beheer in instellings nie. Net 18% van sy entiteite het skoon oudits teenoor 24% ’n jaar gelede.

Noord-Kaap

Die provinsie se ouditresultate gaan agteruit, en die leierskap bly traag om gehoor te gee aan die OG-kantoor se volgehoue versoeke vir beter beheer, en gevolge vir oortredings en swak prestasie. Net 18% van sy entiteite het skoon oudits teenoor 27% in 2018. Nie een entiteit kon sy ouditresultate verbeter nie, maar twee het swakker gevaar.

Noordwes

Volgens Makwetu het die premier van Noordwes ’n voorbeeld gestel om verantwoordbaarheid te verbeter en vir die eerste keer in vier jaar het verswakkende ouditresultate begin stabiliseer. Verbeterings het gevolg nadat vyf departemente in Julie 2018 onder administrasie geplaas is. Onreëlmatige besteding bly egter hoog op R3,2 miljard.

Meer oor:  Ekonomie  |  Wes-Kaap  |  Oudit  |  Ouditverslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.