Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wind waai van agter, maar SA moet sélf roei

Die afgelope maand het Suid-Afrika ’n mengsel van goeie en minder goeie nuus ontvang. 

Ulrich Joubert
Die soet

Pres. Cyril Ramaphosa het almal onlangs verras met die aankondiging dat private instansies toegelaat sal word om 100 megawatt (MW) elektrisiteit op te wek sonder om deur al die rompslomp te worstel om ’n lisensie daarvoor te bekom.

Dit kan help om beurtkrag teen middel 2022 te verminder.

Dit los ongelukkig nie Eskom se skuldprobleem op nie – iemand sal die gelag vir korrupsie, wanbesteding of te hoë salarisse en lone moet betaal.

Die verdere verrassing was dat ’n private instansie wel kans sien om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) uit die as te laat herrys ondanks die uiters moeilike en mededingende lugvaartbedryf.

Die groot en selfs rekordsurplusse op die handelsrekening duur voort. Dit weerspieël die goeie uitvoerverdienste van die mynbou weens die sterk internasionale vraag en uitstekende pryse wat mynboukommoditeite behaal.

Die landbousektor sal na verwagting ook goeie uitvoerverdienstes verkry met gehalteprodukte wat internasionaal mededingend is.

Motoruitvoer behoort ook vanjaar goed te presteer weens die herstel van die internasionale voertuigmark.

Die oorskot op die handelsrekening beïnvloed ook die lopende rekening van die betalingsbalans wat ’n oorskot van R267,3 miljard in die eerste kwartaal teenoor die R197,3 miljard van die vierde kwartaal en die R63,4 miljard van die eerste kwartaal 2020 toon.

Die lopende rekening kan vanjaar weer ’n surplus toon en die behoefte aan internasionale finansiering verminder.

Die kredietgraderingsagentskappe het die kredietgradering van die land onveranderd gelaat, terwyl Eskom se skuldlas in sy finansiële jaar tot einde Maart met sowat ’n vyfde gedaal het.

Dít, saam met die oorskot op die betalingsbalans asook die daling in internasionale langtermynrentekoerse, het plaaslike opbrengskoerse op langtermyn-staatseffekte die afgelope tyd laat daal. Dit is goeie nuus vir die openbare sektor met sy gróót behoefte aan langtermynfinansiering.

Goeie hulpbronpryse gee die rand ’n hupstoot. Foto: Getty Images

Dié positiewe faktore help om internasionale kapitaal te lok, opbrengskoerse verder te laat daal en die rand te laat versterk tot vlakke wat laas in 2019 gesien is.

Die sterker rand help om die impak van stygende internasionale oliepryse op plaaslike brandstofpryse en die gevolglike inflasiekoers te versag.

Inflasie het wel in April tot 4,4% gestyg, maar die verwagting is dat die gemiddelde inflasiekoers vanjaar minder as die 4,5%-teikenkoers van die Reserwebank sal wees.

Die eerste kwartaal se ekonomiese groeikoers was op ’n jaargrondslag 4,6% teenoor die 5,8% van die vierde kwartaal. Die ekonomie was egter 3,2% kleiner as in die eerste kwartaal van 2020.

Voorspellings dui op ’n groeikoers van tussen 4% en 5% in 2021.

Die suur

Die eerste kwartaal het weer ’n rekord-werkloosheidsyfer van 32,6% opgelewer, met 7,2 miljoen mense wat werkloos is (en aktief werk soek).

Die uitgebreide werkloosheidsyfer het tot 43,2% gestyg.

werkloosheid
Werkloosheid, veral onder jong mense, is uiters kommerwekkend. Dit word vererger omdat geskoolde mense aanhou emigreer. Foto: Getty Images

Jeugwerkloosheid het tot ’n kommerwekkende 63,3% gestyg – of tot 74,7% volgens die uitgebreide definisie (wat mense tel wat nie meer aktief werk soek nie).

Die verwagting is dat werkloosheid in die komende maande verder sal styg weens die finansiële situasie van veral mediumgrootte en klein ondernemings, die onbuigsame arbeidsbedeling, die algemene swak gehalte van onderwys en opleiding asook die voortdurende emigrasie van geskoolde mense.

Die voortdurende emigrasie van geskooldes is verontrustend, want dit beteken dat werkloosheid op lang termyn verder kan styg terwyl ander lande die voordeel bekom van ons jare lange uitgawes aan opleiding en onderwys.

Intussen het virusinfeksies in so ’n mate gestyg dat die land weer op vlak 3 van die inperking is, met ’n negatiewe impak op groei en indiensneming.

Is Suid-Afrikaners voldoende gedissiplineerd en hoekom is daar so gesloer met die aankoop van entstowwe en die aanvanklike toediening daarvan?

Die boodskap wat veral uit staatshospitale na vore gekom het met die hantering van die Covid-19-pandemie, was baie duidelik: Moenie met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) voortgaan nie. Dit is egter duidelik dat die owerhede nie dié boodskap wil hoor nie.

Die bekommernis is dat ons in die proses om dié skema in te stel, die private sektor kelder en nie weer die kundigheid en finansiële vermoë sal hê om die skade te herstel nie.

As die NGV ingestel word, sal niemand verkwalik word indien hulle sou emigreer nie!

Die voorgenome onteiening van eiendom sonder vergoeding skep onsekerheid. Dit ontmoedig vaste investering, beperk ekonomiese groei en sal weens rompslomp en onvermoë aan owerheidskant heel waarskynlik nie die probleem oor die besit van grond oplos nie.

In die afgelope maand is die aandag weer eens gefokus op die verswakking van stede en dorpe se infrastruktuur en die onvermoë om dienste aan inwoners te lewer. Waar was die beplanning en die onderhoud oor die afgelope twee dekades waarvoor álle munisipaliteite verantwoordelik is? Is daar bestuur of net politiek bedryf?

En nou?

Suid-Afrika kan vanjaar groei van tussen 4% en 5% haal. Dit is veral te danke aan die sterk herstel van die wêreldekonomie en kommoditeitsmarkte wat uitvoerverdienstes bevoordeel.

Die grootste knelpunt is die oormatige staatsinmenging op alle terreine en vlakke van die ekonomie en dat hierdie beleid politiek gedrewe is en nie ekonomiese werklikhede in ag neem nie.

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Handelsbalans  |  Sakesiening  |  Hulpbronpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.