Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Winkels byt die spit af, wys verkope

Dit gaan regtig beroerd met verbruikers – en kleinhandelaars byt die spit af. Hulle kan nie op die oomblik die styging in hul insetkoste ten volle aan verbruikers deurgee nie.

Verkope by algemene handelaars het glad nie in Julie gestyg vergeleke met ’n jaar gelede nie. Foto Phil Walter, Getty Images

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het pas die kleinhandelverkoopsyfers vir Julie uitgereik en dit sal die gemiddelde winkelier se moed in sy skoene laat sak. Dit kom terwyl Shoprite onlangs die eerste winsdaling in 17 jaar aangekondig het en Woolworths die eerste verlies in 16 jaar.

In konstante 2015-rand gemeet, was verkope slegs 1,3% hoër as ’n jaar gelede en ook 1,3% hoër as in Junie, terwyl verkope vir die drie maande tot einde Julie hoegenaamd nie geroer het vergeleke met die vorige drie maande nie. Konstante rand sny die uitwerking van inflasie uit en gee dus ’n beter aanduiding van die werklike styging in verkope.

In huidige randwaarde is die syfers ewe beroerd en wys dit juis daarop dat pryse stadiger styg as die algemene inflasiekoers, wat ook die prys van dienste en van dinge soos brandstof verreken. Verkope was onderskeidelik 3,3% (jaar), 0,9% (maand) en 0,7% (drie maande) hoër in huidige randwaarde. Dít terwyl inflasie in Julie 5,1% op ’n jaargrondslag was.

Die Julie-syfers is van belang omdat dit die eerste maand van die derde kwartaal is en dus die eerste aanduiding gee of die resessie nog ’n kwartaal gaan voortduur. SSA het verlede week bekend gemaak die bruto binnelandse produk het twee kwartale op ’n ry gekrimp – met 2,6% in die eerste en met 0,7% in die tweede kwartaal van die jaar.

Algemene handelaars het hoegenaamd geen groei in verkope gehad sedert Julie verlede jaar nie. Verkope van ysterware, verf en glas het met 5,1% geval en verkope by spesialiswinkels soos deli’s en bakkerye het met 2,2% gedaal.

Verkope van pille, grimering en toiletware was ’n beskeie 2,1% en van klere en skoene 3%.

Die sterkste groei, van 6,9%, is in twee kategorieë gemeet. Die kategorie vir meubels en huistoestelle vaar verrassend goed, maar dis omdat verbruikers nou moet begin vervang nadat hulle jare lank maar die stukkende rusbank met ’n ou kombers bedek het.

Die kategorie vir “ander” kleinhandelaars sluit ’n groot verskeidenheid in wat dit moeilik maak om te veel afleidings te maak. Dit sluit juweliersware- en boekwinkels aan die welvarender kant van die mark in, maar ook winkels vir gebruikte produkte, wat weer ’n simptoom van die druk op verbruikers kan wees.

Julie se peiling is op ’n nuwe steekproef gegrond om veranderinge in bestedingspatrone te weerspieël. Dit beteken egter ook vorige maande se data is aangepas om te verseker die data is vergelykbaar. Groei vir Junie is aangepas tot onderskeidelik 1,8% (jaar), -1,1% (maand) en -0,5% (drie maande).

Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, sê die groei is aansienlik minder as die 2% wat die bank verwag het. Die feit dat winkels se pryse met minder as die inflasiekoers gestyg het, is volgens hom ’n aanduiding van hoeveel van die inflasiedruk uit vervoerkoste kom. Dit impliseer dat kleinhandelaars self hoër uitgawes absorbeer “ten einde verkoopsmomentum te behou in ’n verlangsamende ekonomie”.

Muscat sê die syfers wys steeds wat die uitwerking van die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) en duurder brandstof op verbruikers is.

Rentekoers

Muscat sê dit word al hoe waarskynliker dat die rentekoers vanjaar gaan styg – dalk reeds volgende week. Die Reserwebank kondig sy besluit op Donderdag 20 September aan.

Busisiwe Radebe van Nedbank verwag dat die Reserwebank vir eers die rentekoers onveranderd gaan hou in die lig van die swak ekonomie, mits inflasieverwagtinge nie sterk styg nie. Die bank verwag dat rentekoerse in die tweede helfte van 2019 sal begin styg, “maar dié vooruitsig kan verander as negatiewe faktore voortduur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.