Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Wit mans oorheers steeds op topvlak

Die strop gaan stywer trek om werkgewers wat nie vorder met transformasie in die werkplek nie, het Thulas Nxesi, minister van arbeid, Dinsdag gewaarsku.

minister van arbeid
Thulas Nxesi, minister van arbeid. Foto: Werner Hills

Hy was baie teleurgesteld deur wat hy swak en trae vordering met transformasie in die werkplek genoem het op grond van die jongste syfers in die Kommissie vir Diensbillikheid se jaarverslag.

Werkgewers sal voortaan ’n sertifikaat van voldoening moet hê, en sonder so ’n sertifikaat sal hulle nie met die regering kan sake doen nie, sê Tabea Kabinde, voorsitter van die kommissie. Artikel 53 van die Wet op Diensbillikheid maak vir so 'n sertifikaat voorsiening, maar die artikel is nog nooit van krag gemaak nie. Dit is nou in die wetgewende proses as deel van die Wysigingswetsontwerp oor diensbillikheid wat na verwagting teen einde vanjaar deurgevoer sal word.

Nxesi sê die verslag wys daar is min vordering met transformasie in die werkplek sedert die Wet op Diensbillikheid 20 jaar gelede van krag geword het. Die groepe wat ’n agterstand het is steeds gestremdes, swart en bruin mense.

“Die ongesonde situasie wys nie ’n inklusiewe ekonomie nie. Dit is duidelik dat selfregulering nie werk nie. Die risiko van nievoldoening moet dus verhoog word, sodat mense weet daar sal gevolge wees. As die risiko om vervolg te word baie laag is, sal baie werkgewers nie voldoen aan die wet nie.”

“As sekere groepe onderverteenwoordig word in die ekonomie, beteken dit die talente en vaardighede word onderbenut. Ons gaan meer ontleding doen en begin om baie hard op te tree,” waarsku Nxesi.

Kabinde sê die konstruksie- en finansiële bedryf vorder die swakste met transformasie.

Nxesi het toegegee die departement van arbeid het ’n tekort aan inspekteurs wat kan sorg dat werkgewers voldoen aan die diensbillikheidsteikens, want daar is een inspekteur vir elke 20 000 werkgewers.

Die verslag wys wit mans oorheers steeds in topbestuur en senior bestuur.

  • Hoewel swart mans 42,8% van die ekonomies aktiewe bevolking verteenwoordig, beslaan hulle net 10% van topbestuurders.
  • Wit mans beslaan net 5,1% van die ekonomiese aktiewe bevolking, maar beslaan 53,3% van die topbestuur.
  • Swart vroue is 36% van die ekonomies aktiewe bevolking, maar is net 5,1% van die topbestuur.
  • Wit vroue is 3,9% van die aktiewe bevolking maar 13,1% van die topbestuur.
  • Bruin vroue is 4,4% van die aktiewe bevolking maar net 2% van die topbestuur.
diensbillikheid
In die staatsdiens oorheers swart mense in die topposisies.

Die syfers wys wel swart mense oorheers in die staatsektor waar 76% van die topbestuur swart is en net 8,9% is wit. 

Kabinde sê werkgewers gaan aangemoedig word om meer gestremdes in diens te neem, want hulle verteenwoordig steeds net 1% van die ekonomies aktiewe bevolking. Hoewel daar goeie verteenwoordiging is van wit vroue en Indiërs in die boonste vier vlakke van poste, is daar ’n noodsaak om meer gestremdes, swart en bruin mense in dié posvlakke in diens te neem.

Sedert die Wet op Diensbillikheid van krag geword het, bereik werkgewers steeds nie die teikens nie. Dit wys transformasie vorder baie stadig.

Die skuif van middelste na boonste posvlakke deur swart en bruin mense is steeds baie stadig, en verander met net 1% per jaar, sê Kabinde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.