Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Witbrood, meel, skoolklere dalk van BTW vrygestel

Witbrood, sanitêre produkte, doeke en skooluniforms gaan dalk ook van belasting op toegevoegde waarde (BTW) vrygestel word.

Koekmeelblom, sanitêre produkte, witbrood en skoolklere is onder die dinge wat dalk van BTW vrygestel gaan word.

Dis die voorstelle wat die paneel onder leiding van prof. Ingrid Woolard dié week aan die tesourie gedoen het ten einde die druk op verbruikers te verlig nadat die BTW-koers in April tot 15% verhoog is.

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het die Woolard-paneel aangestel om stappe aan die hand te doen wat die staatskas sal kan bekostig ten einde die pyn wat die BTW-verhoging meegebring het, te versag.

Woolard stel voor dat die verskaffing van gratis sanitêre produkte aan armes tesame met die BTW-vrystelling op dié produkte en die BTW-vrystelling op skoolklere so gou as moontlik in werking gestel word.

Die finale lys van die paneel is:

  • Witbrood
  • Witbroodmeel
  • Koekmeel
  • Sanitêre produkte (tesame met die verskaffing van gratis verskaffing aan arm vroue en meisies)
  • Skoolklere (onderhewig aan verdere ondersoek om seker te maak net skoolklere word vrygestel)
  • Doeke (sowel vir babas as volwassenes)

Die paneel sê die regering moet doodseker maak dat die verligting wel aan verbruikers deurgegee word en nie bloot deur produsente ingesluk word nie, veral gegewe die konsentrasie in die mark vir skoolklereverskaffers.

Die paneel het ook ander voorstelle gedoen om verbruikers te ondersteun. Dit sluit in die versterking van die skoolvoedingsprogram en hoër maatskaplike toelae vir kindersorg en vir bejaardes.

Die voorstelle is nou onderhewig aan openbare kommentaar en parlementêre sittings voordat dit in werking gestel word. Mense wat kommentaar wil lewer, kan dit by vatsubmissions@treasury.gov.za doen. Die sluitingsdatum vir kommentaar of alternatiewe voorstelle is 31 Augustus.

Daarna sal sittings in die parlement gehou word.

Die tesourie en Suid-Afrikaanse Inkomstediens sal daarna alle voorstelle evalueer.

Die minister van finansies sal dan besluit watter van die aanbevelings in werking gestel sal word.

Die tesourie sê in ’n verklaring dit kan dalk nog ingesluit word in die jaarlikse wysigings wat aan belastingwette aangebring word wat tans deur die parlement se staande komitee oor finansies verwerk word.

Die Woolaard-paneel se aanbevelings is afsonderlik van voorstelle van ministers in die ekonomiese groepering wat nog afgewag word. Pres. Cyril Ramaphosa het dié ministers, wat Nene, dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, insluit, opdrag gegee om voorstelle te doen om verbruikers by te staan.

’n Beroep is al deur die ANC, die DA en die burgerregtegroep Outa gedoen dat die brandstofheffing verlaag of laat vaar word.

Meer oor:  Ingrid Woolard  |  Tesourie  |  Btw-Verhoging  |  Btw  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.