Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Xenofobie gooi lang skaduwee oor handel in Afrika

Die onlangse xenofobiese aanvalle in Gauteng werp ’n skadu oor die ambisieuse vryhandelsooreenkoms vir Afrika (AfCFTA) waarvoor talle protokolle, reëls en tegniese besonderhede nog onderhandel moet word, sê kenners.

Daar was onlangs verskeie xenofobiese aanvalle in Gauteng

Die oorkoepelende AfCFTA-verdrag is reeds onderteken en die proses waar lidlande van die Afrika-Unie (AU) die ooreenkoms bekragtig, is nou aan die gang, sê prof. Gerhard Erasmus van die handelsregsentrum Tralac en emeritusprofessor aan die Universiteit Stellenbosch.

Einde Julie het 27 AU-lidlande reeds die ooreenkoms bekragtig. Ondertekenaars moet nou oor die besonderhede ooreenkom. Die protokolle in fase 1 wat amper afgehandel is, gaan oor handel in goedere, handel in dienste en dispuutbeslegting. Dié protokolle word na verwagting volgende jaar geïmplementeer.

Erasmus sê die xenofobiese aanvalle sal oor ’n breë front probleme vir Suid-Afrika veroorsaak, onder meer omdat dit die onderhandelingsklimaat sal versuur waar hoë amptenare oor ’n vryehandelsgebied en die implementering daarvan onderhandel.

“Suksesvolle onderhandelinge vereis onderlinge vertroue en toegewings ter wille van die groter geheel.”

Elizabeth Sidiropoulos, uitvoerende hoof van die SA Instituut vir Internasionale Aangeleenthede (SAIIA), sê die skade aan Suid-Afrika se beeld en reputasie met die jongste vlaag aanvalle blyk duidelik uit die reaksie van ander lande wat sportwedstryde gekanselleer het, vliegtuie gestuur het om hul burgers landuit te neem en leiers wat hul ontevredenheid te kenne gegee het.

Sy sê dit bewys dat Suid-Afrika nie meer so gunstig beskou word soos 15 jaar gelede nie. “Of ons nou dink dit is onregverdig of nie, dit is die siening.”

Voorts is dit duidelik Suid-Afrika kan glad nie meer selfvoldaan wees oor sy politieke of ekonomiese rol in Afrika nie.

Erasmus sê hoewel daar tans geen amptelike hoëvlakonderhandelinge by die AU oor AfCFTA aan die gang is nie en hy nog nie gehoor het van ’n regstreekse invloed van die xenofobie op AfCFTA nie, is die skep van ’n vryhandelsgebied in Afrika ’n ambisieuse onderneming wat die vrye beweging van dienste, goedere, dienste, kapitaal en mense op die vasteland wil aanmoedig.

Baie van die reëls oor die oorsprong van goedere en die vermindering of afskaffing van tariewe is ingewikkeld en sal nog lank neem om te onderhandel. Fase 2-onderhandelinge wat teen volgende jaar kan begin, gaan oor protokolle oor investering, mededinging en intellektuele goedere.

Die onderhandelinge oor ’n beleggingsprotokol moet ’n bindende regsdokument skep wat belegging deur Afrikalande in Afrika-ekonomieë aanmoedig en reëls vasstel hoe dit beskerm sal word. Dit kan moeilik wees as xenofobiese aanvalle en geweld teenoor buitelanders nie onder beheer is nie.

Dean MacPherson, DA-woordvoerder oor handel en nywerheid, sê buiten die ekonomiese skade, het die xenofobiese aanvalle ook Suid-Afrika se beeld onder buitelandse beleggers geskaad. Dit kan krapperigheid veroorsaak wanneer die fase van AfCFTA-onderhandelinge begin oor mense se reg op beskerming, vrye beweging en handel en beleggings wat beskerm moet word.

Baie van die reëls oor die oorsprong van goedere en die vermindering of afskaffing van tariewe is ingewikkeld en sal nog lank neem om te onderhandel.

Sidiropoulos sê die vestiging van waardekettings in die streek is belangrik. Vervaardigingsnetwerke word oor verskillende lande geskep, wat beteken verskeie produkte in die waardeketting word in Afrikalande vervaardig pleks daarvan om dit van elders in te voer. Vanweë Suid-Afrika se sterk vervaardigingsektor kan plaaslike ondernemings ’n leidende rol speel om die waardekettings te skep, maar ’n negatiewe indruk oor hoe ons immigrante behandel, kan in ons gesig opblaas, sê sy.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het onlangs by twee geleenthede gesê die AfCFTA kan ekonomiese groei in Suid-Afrika ’n hupstoot gee deur hoër uitvoer na die res van Afrika. Uitvoer na ander Afrikalande ondersteun reeds sowat 250 000 Suid-Afrikaanse werkgeleenthede.

Angelle Kwemo, stigter van Believe in Africa, ’n organisasie sonder winsbejag waardeur die Afrika-diaspora oplossings vir Afrika bevorder, het in ’n artikel vir die Amerikaanse Brookings Institution die ekonoom dr. Landry Signé aangehaal wat sê verbruikersbesteding in Afrika kan teen 2030 $6 700 miljard beloop.

Die SAIIA het die afgelope week met organisasies in verskeie Afrikalande gepraat oor konflikkwessies. Die voorstelle word na die departement van internasionale betrekkinge verwys.

Meer oor:  Handel  |  Ekonomie  |  Afrika-Unie  |  Xenofobie  |  Afrika  |  Geweld  |  Xenofobiese Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.