Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Zim ‘beste winskoop in Afrika’, sê minister in Davos

Die Zimbabwiese minister van finansies het Dinsdag in Davos ’n optimistiese vooruitsig vir sy land geskets, ondanks gewelddadige betogings in die land waarin minstens 12 mense dood is.

Zimbabwiërs het verlede week ’n wegblyaksie begin en betogers het opgeruk om teen die verhoogde petrolprys te betoog.

Mthuli Ncube, Zimbabwe se minister van finansies.Foto: AP
Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe. Foto: Reuters

Mthuli Ncube, minister van finansies, sê hy hoop om teen aanstaande jaar die huidige inflasiekoers van 42% tot onder 10% te laat daal en ’n nuwe geldeenheid in te stel. Hy hoop ook om hulp te vind om die land se skuld van $1,2 miljard te delg.

Ncube het ook ’n lansie gebreek vir die program van privatisering wat tot dusver min werklike vordering getoon het.

“Zimbabwe is nou die beste winskoop in Afrika,” het Ncube in ’n onderhoud by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, gesê.

Zimbabwe loop tans onder die swaarste ekonomiese krisis in ’n dekade deur. Tekorte aan kos, brandstof en buitelandse valuta stel pres. Emmerson Mnangagwa se regering op die proef.

Ná die onlangse styging in die prys van petrol het gewelddadige betogings landwyd uitgebreek. Volgens menseregtegroepe is daar met skerp ammunisie op betogers geskiet.

Motoriste staan Dinsdag geduldig tou by petrolstasies. Foto: Reuters

Ncube sê Mnangagwa het dit duidelik gestel dat geweld nie geduld sal word nie. Enige vergrype deur die veiligheidsmagte sal ook gestraf word, sê Ncube.

“Dit is juis omdat die demokratiese ruimte oopgemaak is dat dit (die betogings) plaasgevind het.”

Zimbabwe skuld $7,4 miljard aan die buiteland en moet$1,2 miljard daarvan in 2019 betaal, waarvan die meeste aan die Wêreldbank en Afrika-ontwikkelingsbank.

Ncube het gesê hy is in gesprek met die G7-lande om ’n manier te vind om dié terugbetalings te doen.

Hy het ook aangedui dat hy “enige” hulp van Suid-Afrika sal aanvaar.

Volgens Ncube het hy en Mnangagwa met hul onlangse besoek aan Azerbeidjan, Belarus, Kazakstan en Rusland idees gesien wat hulle wil navolg, veral met die bestuur van natuurbronne en die gebruik van dié inkomste om ontwikkeling te finansier. – Reuters

Soldate en polisiemanne het die toue by petrolstasies gereguleer. Foto: Reuters
Meer oor:  Mthuli Ncube  |  Zimbabwe  |  Davos  |  Politiek  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.