Zimbabwe beoog om $350 miljoen met die verkoop van sy belang in vyf staatsondernemings in te vorder, sê Mthuli Ncube, minister van finansies.

Zimbabwe is dringend opsoek na kapitaal om sy staatskas te vul. Foto: iStock
iStock
Zimbabwe se finansiële krisis het die afgelope maande vererger en dreineer sy staatskas en buitelandse valutareserwes, terwyl inflasie sowat 40% is.
As hy die verwagte opbrengs behaal, kan dit hom nader bring aan die mikpunt om sy begrotingstekort met 7 persentasiepunte tot 5% van die bruto binnelandse produk (BBP) te verlaag.
Die vyf ondernemings is die telekommunikasiemaatskappye Tel One, Net One en Telecel, die staat se posdiens, ZimPost, en die People’s Own Savings Bank.
Suid-Afrika en Zimbabwe het ná samesprekinge verlede week aangekondig hulle ondersoek die moontlikheid om samewerking tussen hul sentrale banke uit te brei.
Nog ’n moontlikheid wat ondersoek word, is dat Suid-Afrikaanse banke met waarborge van die Suid-Afrikaanse regering en ’n gepaste teenwaarborg deur die Zimbabwiese regering die private sektor in Zimbabwe kan help.
Pres. Cyril Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat Suid-Afrika sy eie ekonomiese uitdagings het wat sy eerste prioriteit is, maar dat Suid-Afrika wel sal help waar dit binne sy vermoë is.
Suid-Afrika sal onder meer help om nuwe reëlings met Zimbabwe se internasionale skuldeisers te beding.
Suid-Afrika het einde verlede jaar ’n versoek van Zimbabwe vir ’n lening van $1,2 miljard van die hand
gewys.
– Bloomberg, verwerk