Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Zwane se pleidooi aan wit Suid-Afrikaners
Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne.Foto: Elvira Wood

Daar sal nie stabiliteit in Suid-Afrika wees voordat álle Suid-Afrikaners in die ekonomie ingesluit is nie.

“Dit is ons almal se plig, nie net die regering s’n nie, nie net swart mense s’n nie, maar ook ons wit landgenote s’n, dat ons saamwerk en vrede in ons land verseker.

“Ons moet almal in die oggend kan opstaan en iets hê om te kan doen,” sê Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne.

Zwane was Vrydagoggend die hoofspreker by die Black Business Council se gesprek Vrydag by die Houghton-buiteklub in Johannesburg oor radikale ekonomiese transformasie.

Hy het die grootste deel van sy toespraak aan die nuutste weergawe van die Mynbouhandves gewy.

Zwane sê die doelwitte en skedules wat daarin uiteengesit word, is “realisties en bereikbaar”.

“Die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) en spesifiek art. 100 daarvan wat die Mynbouhandves is, word op die mynbousektor toegepas om volhoubare groei, ontwikkeling en transformasie in die sektor, wat ’n belangrike bydrae tot die ekonomie lewer, te bewerk,” sê hy.

Hy sê hy is van orals “gelukgewens” met die nuwe handves, wat op 15 Junie in die Staatskoerant gepubliseer is.

Volgens hom is daar “net een party” wat ongelukkig is daaroor. Hy het vlugtig verwys dat die howe uitsluitsel daaroor sal gee.

Ons moet almal in die oggend kan opstaan en iets hê om te kan doen.
Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne

Hy het verwys na die Kamer van Mynwese se aansoek by die hooggeregshof in Pretoria om ’n dringende interdik teen die toepassing van die beleid te bekom. Die kamer verteenwoordig nie een party nie, maar al die grootste mynmaatskappye in die land.

Zwane het sedertdien ingestem om nie die beleid soos uiteengesit tot verdere kennisgewing van toepassing te maak nie. Albei partye het reeds dokumente by die hof ingedien.

Volgens Zwane is daar mense wat reken die vereiste dat minstens 30% van mynmaatskappye aan

swart ekonomiese bemagtiging (SEB) toegeken word, te min is.

“Baie het gevra hoekom dit nie eerder 50% of selfs meer kon wees nie,” sê hy.

Zwane het die vereistes van die nuwe weergawe van die handves geregverdig deur te sê mynmaatskappye het tot dusver die neiging gehad om belange wat nie sentraal in die mynbousektor staan nie, aan hul SEB-vennote toe te staan terwyl hulle self beheer oor die werklike mynbou-aktiwiteite hou.

Hy sê verder die mynbousektor het swart mense tot dusver net as “goedkoop arbeid” beskou.

Die minister het op 7 Augustus in dokumente wat by die hof ingedien is, gesê die doel van die handves is om ’n “gerieflike en buigsame meganisme” te wees om die MPRDA-doelwitte te bereik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.