Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
10 goed wat jy moet weet oor laer olieprys

Die Brent-ruolieprys – die maatstafprys vir ’n groot deel van die wêreld, ook Suid-Afrika – wat vir die eerste keer sedert 2009 onder $50 per vat gedraai het, stuur ekonomiese skokgolwe deur verskeie lande en sektore. Welvaart en mag skuif van outokratiese petrostate na verbruikers in nywerheidslande, volgens Bloomberg. Sake het gekyk na tien goed wat ’n mens moet weet oor die laer olie- en brandstofpryse.

1. Wie gaan wen?

Enigiemand wat sy eie brandstofrekening betaal: motoriste, boere, vragvervoermaatskappye, taxi-eienaars en afleweringsdienste. Die plaaslike toerismebedryf kan wen as goedkoper petrol mense aanspoor om meer te reis. Die algemene verbruikersekonomie gaan wen, want mense het ’n paar rand ekstra om mee uit te eet of goed te koop.

2. Wie verloor?

Eksplorasiemaatskappye het ’n sekere minimum olieprys nodig om hul duur en hoogs riskante beleggings in eksplorasie te regverdig. Die ekonomieë van olieproduserende lande wat staatmaak op hul olie-inkomste, gaan sukkel, en ook die Suid-Afrikaners wat met hulle sake doen.

3. Hoekom is die aandelebeurse so senuagtig?

Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur, sê sommige skryf ’n groot deel van die onlangse markdalings aan die dalende olieprys toe, maar hy sê dis eerder omdat die markte en beleggers nie van onsekerheid hou nie.

4. Gaan voedselpryse daal?

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, sê laer dieselpryse verlaag die koste van primêre landbouproduksie en voedselverspreiding. Maar dit sal nie noodwendig laer kospryse tot gevolg hê nie, want voedselpryse word nie net deur insetkoste bepaal nie. “Vraag en aanbod, die swak rand en die interna­sionale mielie- en koringprys speel ook ’n groot rol.”

Volgens nog ’n bron in die landboubedryf is die verskil wat ’n laer brandstofprys in die waardeketting aan byvoorbeeld die broodprys kan maak, nie noemenswaardig nie.

’n Shoprite-woordvoerder sê enige besparing op die brandstofrekening vir sy 400 verspreidingsvoertuie word na verbruikers deurgegee.

David North, hoof van korporatiewe sake van Pick n Pay, sê die laer brandstofpryse behoort die pryse van goedere en dienste wat brandstof vir vervaardiging en verspreiding gebruik, te rem. “Maar brandstof is net een deel van die koste en dit is nie moontlik om ’n vaste raming te gee van wat die impak vir verbruikers sal wees nie.”

5. Word bus- en vliegkaartjies goedkoper?

Lugdienste gaan nie noodwendig hul kaartjiepryse gou verlaag nie.

Linden Birns, lugvaartkenner van Plane Talking, sê lugdienste koop brandstof vooruit teen verskansde pryse aan en daardie voorraad moet eers gebruik word. Boonop het ander koste, soos salarisse, spyseniering en ingenieursdienste, intussen gestyg. Birns meen nuwe laekostelugdienste wat ou vliegtuie gebruik, kan effense verligting kry. Lugdienste was volgens hom in swaar tye baie goed daarmee om lugvervoer bekostigbaar te hou en sal die laer brandstofpryse wil benut om weer vet in te bou en te belê in moderne vliegtuie en IT-stelsels om mededingend en dinamies te kan bly.

Die Golden Arrow-busdiens het pas sy tariewe met gemiddeld 7,2% verhoog en nie die 15,61% wat hy toegelaat is nie danksy die laer dieselpryse, sê F.E. Meyer, hoofbestuurder.

6. Hoe baat dit die landbou?

Purchase sê ander insetkoste, soos arbeid en veral elektrisiteit, wat vanjaar skerp kan styg, kan die positiewe impak van die laer brandstofpryse teëwerk.

7. Hoe gaan dit inflasie en rentekoerse raak?

Die laer olieprys het reeds die inflasiekoers in November 2014 tot 5,8% help afdruk en die Reserwebank het toe gesê ’n volgehoue laer olieprys sal sy inflasievooruitsigte vir 2015 verbeter. Sonder die invloed van die laer petrolprys sou inflasie 6,1% beloop het, bo sy teikenband. In November – toe die olieprys net onder $80 per vat was – is al verwag inflasie sal vanjaar gemiddeld 5,3% wees, gemaklik binne die teiken.

Gebeur dit, sal daar aansienlik minder druk op die Reserwebank wees om die rentekoers verder op te stoot. Hy moet egter ook die invloed van die wisselkoers – wat kwesbaar is vir hoër VSA-rentekoerse – en die uitwerking van looneise in ag neem.

8. Watter impak kan dit op ekonomiese groei hê?

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het in Desember gesê ’n volgehoue laer olieprys kan wêreldgroei ’n hupstoot van tussen 0,3 en 0,7 persentasiepunt gee. Laer brandstofpryse kan ekonomiese groei stimuleer deur verbruikers se besteebare inkomste te vergroot. Dit is goeie nuus vir Suid-Afrika omdat verbruikersbesteding een van die grootste dryfvere van sy groei is.

Volgens die IMF kan goedkoper olie China se groei met tot 0,7 persentasiepunt bo die verwagte koers van 7,1% opstoot. ’n Sterker Chinese ekonomie beteken sy vraag na grondstowwe sal toeneem en dit kan ’n positiewe uitwerking op Suid-Afrikaanse uitvoer hê. ’n Swakker rand kan wel die positiewe uitwerking van die laer oliepryse op plaaslike verbruikerspryse stuit, maar dit sal Suid-Afrikaanse uitvoerpryse meer mededingend help maak.

9. Hoe lank kan dit op dié vlakke bly?

Om te skat hoe laag die olieprys kan daal, is uiters moeilik, sê Nedbank Capital.

Du Plessis sê dit gaan nie soseer oor waar die prys van olie gaan draai nie, maar waar dit gaan stabiliseer en wat die volhoubare prys op medium-termyn is. Volgens hom meen die meeste kenners ’n realistiese prys is sowat $70 per vat.

Purchase sê as die oorskot olievoorraad weggewerk is en die Arabiere verlaag hul produksie, “kan die brandstofprys weer vinnig styg”.

10. Watter aandele moet ’n mens dophou?

Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur, sê plaaslik word Sasol regstreeks geraak deur ’n laer olieprys, maar ook olie-produserende lande soos Nigerië en Angola. ’n Mens moet dus kyk watter maatskappye blootstelling aan sulke markte het. Die selfoongroep MTN verdien ’n groot deel van sy winste in Nigerië – waar die naira aansienlik verswak het weens die dalende olieprys – en daarom onregstreeks geraak word, sê Du Plessis.

Talle pensioenfondse, insluitend die staatspensioenfonds, het groot beleggings in Sasol en het op papier ’n knou weg weens die val in sy aandeelprys weens die laer olieprys.

Plaaslike vervoermaatskappye soos Cargo Carriers en die genoteerde lugdiensgroep Comair sal baat vind by laer brandstofpryse. En as goedkoper petrol mense aanmoedig om meer binnelands te reis, kan die hotelgroep City Lodge of Gooderson Leisure bevoordeel word. Ook Sun International en Grand Parade Investments kan voordeel trek as mense dobbel met die geld wat hulle andersins aan petrol sou bestee het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.