Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
100 MW: Wag ’n bietjie, maan Nersa

Nie so haastig nie, het die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) Vrydag in ’n verklaring gewaarsku oor die lofsange oor lisensielose kragopwekking van tot 100 MW vir private kragopwekkers.

Die sonpaneelstelsel van 150 kW wat die Duitse sonpaneelvervaardiger SolarWorld op die dakke van die Duitse Internasionale Skool Kaapstad geïnstalleer het. Al meer sulke projekte sal nou met minder rompslomp aangepak kan word danksy die verhoging van die lisensiedrumpel vir kragopwekking. Foto: SolarWorld

Dit volg op pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Donderdag dat enigiemand wat ’n kragstasie van soveel as 100 MW wil bou, voortaan nie meer amptelik vir ’n kragopwekkingslisensie by Nersa aansoek hoef te doen nie.

Maar enigiemand wat krag wil opwek, sal steeds by Nersa moet registreer om seker te maak hulle voldoen wel aan al die vereistes, het die reguleerder beklemtoon.

Nersa wag nou op die publisering van die gewysigde skedule 2 van die Wet op Elektrisiteitsregulering in die Staatskoerant om te kan sê hoe hy vorentoe versoeke vir kragopwekking sal hanteer. Die departement van minerale bronne en energie moet die wysigings publiseer.

Beurtkrag nog lank hier

Intussen is die ekonoom Peter Attard Montalto skepties oor die ooroptimistiese uitsprake dat Ramaphosa se besluit beurtkrag binne ’n jaar sal stopsit.

Peter Attard Montalto, ekonoom van Intellidex.

Montalto, ontleder van Intellidex, meen daar is nog twee jaar van agterstande wat ingehaal sal moet word om die wanbalans tussen die vraag en aanbod van kragopwekking te herstel.

Volgens hom is daar in teorie meer as 15 000 MW se kragopwekking wat oor die volgende vyf tot sewe jaar op die kragnetwerk kan kom, maar net sowat 1 000 MW tot 2 000 MW sal op die kort termyn gereed wees om danksy die nuwe reëls binne 18 tot 24 maande aan die gang te kom.

Montalto verwag dus nog ’n lang tydperk van intensiewe beurtkrag vir Suid-Afrika.

Soos Nersa waarsku hy ook dat die kwytskelding nie so eenvoudig is nie. Daar is nog onsekerheid oor die reëls oor aan wie onafhanklike kragprodusente hul krag mag verkoop, en as hulle aan Eskom verkoop, moet hulle steeds met Eskom ’n kragkoopooreenkoms aangaan.

Dit kan wel sowat R100 miljard se nuwe beleggings na Suid-Afrika lok as die sowat 15 000 MW ’n werklikheid word.

Montalto waarsku oor die volgende risiko’s:

  • As die departement traag is met die publisering van die gewysigde skedule van die wet;
  • As Nersa nie die toevloei van registrasies kan hanteer nie (Nersa gebruik steeds ’n papier-aansoekproses pleks van ’n aanlyn platform); en
  • As streng teikens vir plaaslike inhoud en ander vereistes in plek kom wat dinge verlangsaam en pryse verhoog.

Montalto vermoed die huidige beurtkragkrisis het Ramaphosa onder druk geplaas om via Operasie Vulindlela vinniger in te gryp om bo-oor Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, se kop te gaan om die drempel vir kragopwekking te verhoog. Dit wys egter wel die sukses waarmee Operasie Vulindlela benut kan word om ekonomiese hervorming te versnel.

ss
Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie.

Minister net vir energie nodig

Montalto waarsku dat dit al hoe meer groot kragverbruikers sal aanmoedig om onafhanklik van Eskom te raak, wat tot Eskom se nadeel is en dan sy afhanklikheid van die staatskas kan vererger.

Die druk verhoog volgens hom nou op Eskom om sy transmissie-afdeling gouer te ontbondel as ’n onafhanklike stelseloperateur wat die nuwe, vryer kragmark kan bestuur. Die druk laai ook op om die verouderende kragstasies af te skakel, en vir die nasionale tesourie om vorendag te kom met oplossings vir Eskom se enorme skuld.

Montalto meen die ingryping deur Ramaphosa beklemtoon die behoefte aan ’n nuwe minister wat net op energie kan fokus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.