Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
28 voorwaardes voor Eskom reddingsboei kry
JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA JANUARY 30:(SOUTH AFRI
Daar heers kommer oor Jabu Mabuza se dubbele rol by Eskom. Foto: Getty Images

Eskom sal aan 28 voorwaardes moet voldoen wat die nasionale tesourie aan hom gestel het vir die ontvangs van die reddingsboei van R59 miljard wat hy oor die volgende twee jaar kry.

Dit is benewens die R69 miljard oor drie jaar wat in Februarie se begroting aangekondig is.

Die reddingsboei van R59 miljard word moontlik gemaak deur ’n spesiale toedelingswetsontwerp waaroor die parlement se staande komitee oor toedelings die afgelope week deur die tesourie ingelig is.

Die voorwaardes sal deel uitmaak van die wetsontwerp wat nog deur die parlement goedgekeur moet word.

Benewens gereelde en gedetailleerde verslae oor al sy finansies, sal Eskom alle skuld moet invorder van munisipaliteite, staatsdepartemente en staatsondernemings, insluitende die woonbuurt Soweto.

“Eskom kan nie elektrisiteit lewer en nié ook sy skuld invorder nie,” het Tshepiso Moahloli, waarnemende direkteur-generaal vir bates en laste by die tesourie, aan die komitee gesê.

Die geld wat munisipaliteite en Soweto gesamentlik aan Eskom verskuldig is, beloop sowat R40 miljard en dit is belangrik dat Eskom aan die tesourie ’n aksieplan voorlê oor hoe hy dié geld gaan invorder, sê Moahloli.

Die wanbetaling van skuld aan Eskom is al herhaaldelik deur pres. Cyril Ramaphosa, Tito Mboweni, minister van finansies, en die leierskap van Eskom opgehaal. Dit kom terwyl Eskom gedwing word om geld te leen net om die rente op sy skuld te betaal.

Mboweni het in sy begrotingsrede in Februarie gesê die invordering van geld wat aan die staat verskuldig is, is ’n “onderliggende fondasie van ons demokrasie, van nasiebou”.

Eskom sal ook gedetailleerde planne moet verskaf oor wanneer hy die steenkoolkragstasies Medupi en Kusile gaan voltooi en hoeveel dit na verwagting gaan kos. Dié twee bouprojekte is al jare agter skedule en miljarde rande oor hul begroting. Die planne moet insluit wat dit sou kos as die bouwerk gestaak word.

Ander belangrike voorwaardes sluit in:

  • Daaglikse verslae oor kontantreserwes;
  • Maandelikse bestuursverslae en finansiële state vir elk van die drie afdelings – kragopwekking, transmissie en verspreiding;
  • ’n Aksieplan oor hoe om die koste van steenkool, diesel en onafhanklike kragprodusente te verlaag;
  • ’n Plan om verskaffers verantwoordbaar te hou en om geld terug te win vir foute by Kusile, Medupi en ander kragstasies;
  • Maatreëls deur die Eskom-direksie om vrugtelose en vermorste uitgawes te pak;
  • Geen aansporingsbonusse terwyl die voorwaardes vir die reddingsboei ingestel is nie.

As die tesourie glo die inligting wat hy van Eskom ontvang is onvoldoende of “nie robuus genoeg” nie, kan hy op enige gegewe tyd adviseurs aanstel om die verslae te hersien, sê Moahloli.

Die koste daarvan sal deur Eskom gedra moet word.

Die komitee het ook van Eskom se regspan gehoor oor hoe daar verseker kan word dat die voorwaardes afgedwing word. Die 28 voorwaardes kan regstreeks in die wetsontwerp ingesluit word, kan ingesluit word as regulasies wat die wetsontwerp verduidelik, of kan vervat word in ’n ministeriële brief van die minister van openbare ondernemings. - Fin24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.