Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Minimum 3 dae se beurtkrag op pad

Eskom sê die kans op beurtkrag dié winter is nie meer so skraal soos hy aanvanklik gedink het nie.

Hy verwag steeds drie dae se beurtkrag op fase een, maar die risiko dat dit meer gaan wees, het nou verhoog.

Eskom sê daar is nou net ’n 80% kans dat beurtkrag tot net drie dae beperk gaan word hierdie winter. 

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, sê die jongste verwagting is gegrond op ’n verwagte vraag na krag van gemiddeld 32 500 megawatt (MW) per dag tydens Julie, wanneer Eskom verwag dat die staat van inperking gelig sal word.

Bheki Nxumalo, hoof van opwekking, verduidelik dat die risiko vir beurtkrag hoofsaaklik beperk sal wees tot tussen 17:00 en 20:00 saans, wanneer die vraag na krag op sy hoogste is.

Dit beteken die impak op die ekonomie sal minder wees, aangesien die vraag na krag tydens die winter eers ’n spits bereik wanneer die meeste besighede gesluit is.

Eskom is klaar besig om sy opwekkers weer aan die gang te kry nadat die vraag na krag tydens vlak 5 van die staat van inperking tot 11 000 MW per dag laer was. Dit het hom in staat gestel om verskeie kragstasies tydelik af te skakel.

Eskom verwag bedryfswins

Eskom reken indien hy beurtkrag en dieselverbruik kan beperk, kan hy sy inkomste noemenswaardig opstoot en dít saam met kostebesparings kan help om ’n duik in sy enorme skuldlas te maak. Eskom skuld nagenoeg R450 miljard.

Stappe wat reeds gedoen is, beteken dat Eskom nou amptelik verwag om vir die eerste keer in jare ’n bedryfswins aan te teken vir die 12 maande tot einde Maart.

De Ruyter sê al wat die wins omdraai in ’n netto verlies is tans die rente op sy skuldlas.

Volgens André de Ruyter, uitvoerende hoof, het Eskom Woensdagaand vir die eerste keer sedert die staat van inperking weer 30 000 MW opgewek – die gemiddelde hoeveelheid krag wat Suid-Afrika gewoonlik op enige gegewe oomblik nodig het.

“Die vraag na krag is amper weer op normale vlakke,” sê Oberholzer.

Eskom kon nie tydens die staat van inperking die diepliggende herstelwerk by sy steenkoolkragstasies doen wat hy beplan om hul deurlopende betroubaarheid te verbeter nie. Volgens Eskom wil van sy kragstasies grootliks “oorbou” met nuwe ketels en onderdele. Dit verg dat nuwe onderdele van die oorspronklike vervaardigers en hul ingenieurs bekom word, iets wat nie tydens die staat van inperking moontlik was nie.

Nxumalo verduidelik dat ander grootskaalse instandhouding wel gedoen is tydens die staat van inperking wat baie vrugte sal dra.

Opwekkingsvermoë wat weens beplande instandhouding in April onbeskikbaar was, het op 16% van Eskom se geïnstalleerde opwekkingsvermoë gestaan.

“Dit is dubbeld wat dit gewoonlik is,” sê Nxumalo.

Hy verseker die land dat die enorme veldtog van instandhoudingswerk dalk nie die langtermynbetroubaarheid van kragstasies gaan verbeter nie, maar op mediumtermyn gaan dit beteken dat kragstasies nie meer so lamgelê word deur onbeplande foute wat grootliks die blaam dra vir beurtkrag nie.

Volgens Nxumalo sal dié instandhoudingswerk verseker dat Eskom in die vraag na krag sal kan voldoen, selfs ná die staat van inperking.

Daar is volgens hom noemenswaardige verbeteringe in die beskikbaarheid van opwekkingsvermoë danksy die instandhouding.

Eskom het klaar 2 000 MW se opwekkingsvermoë so “teruggeklou”, sê Nxumalo.

Daarboonop verwag Eskom dat hy nie eens sy twee oopsiklus-gasturbines (dieselkragopwekkers) so buitensporig soos in Maart sal hoef in te span om opwekking aan te vul nie.

Dit gaan volgens De Ruyter die maatskappy tussen R2 miljard en R3 miljard spaar as deel van ’n enorme veldtog om kostebesparings toe te pas.

Bonusse

De Ruyter sê aansporingsbonusse sal aan werknemers betaal word wat die betroubaarheid van die kragnetwerk noemenswaardig verbeter.

“Net” as daar besparings is aan byvoorbeeld diesel sal bonusse betaal word vanuit Eskom se eie bedryfsinkomste.

“As hulle beduidende besparings kan realiseer, dan sal hulle betaal word.”

Elke werknemer is ook nou onderhewig aan ’n puntestelsel vir sy prestasie. De Ruyter sê dis ’n stelsel wat goed werk in die private sektor wat nou sal verseker dat die nutsmaatskappy presteer soos hy hoort.

Oberholzer sê ook dat kragstasies wat al maande lank sonder bestuurders sit is nou nie meer ’n probleem nie.

“Elke senior bestuurspos is nou gevul.”

  • Hierdie artikel is intussen bygewerk om dit duidelik te maak Eskom verwag 'n minimum van drie dae se beurtkrag, niks minder nie.
Meer oor:  Eskom  |  André De Ruyter  |  Jan Oberholzer  |  Elektrisiteit  |  Krag  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.