Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
3 uit 5 Nersa-sake al in Eskom se guns beslis

Die howe het vanjaar al drie keer in Eskom se guns beslis.

Eskom se Majuba-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Argief

Daar is vyf hofsake waarin die staatskragmonopolie die staat se energiereguleerder (Nersa) oor tariefbesluite voor die hof gedaag het.

As dit die tendens is dat Eskom toenemend die howe van sy standpunt kan oortuig, is daar al hoe skerper stygings in kragtariewe op pad, meen prof. Anton Eberhard, afgetrede professor van die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool. Eberhard was in die 1990’s ’n lid van die elektrisiteitsreguleerder, voorloper van Nersa, ’n vorige kommissaris van die Nasionale Beplanningskommissie, en is ’n kundige in elektrisiteitsbedryf-regulering.

Eskom het Vrydag gewaarsku hy sal vir die 2020-boekjaar ’n terugwerkende aansoek vir R10 miljard indien. Die meganisme om aansuiweringsaansoeke vir vorige tariefjare in te dien, is beskikbaar sodat Eskom ekstra koste kan verhaal wat hy nie voorsien het toe die oorspronklike tariefaansoek bereken is nie.

Eskom het met die bekendmaking van sy jaarresultate verlede week ’n opsomming gegee van die status van sy hofsake teen Nersa:

Die terugwerkende tariefaansoek vir die boekjare 2015, 2016 en 2017: Die hof het in Junie vanjaar in Eskom se guns beslis, en ’n finale vasstelling word teen 26 Februarie volgende jaar verwag nadat Nersa ’n openbaredeelnameproses afgehandel het.

In dié aansoeke het Eskom gevra vir inkomste van R67 miljard, maar Nersa het net R32 miljard toegeken. Die hof het Nersa se besluite tersyde gestel en het bevind die besluite was irrasioneel en dat sy traagheid om die aansoeke binne ’n redelike tyd te verwerk, ongrondwetlik was.

Die terugwerkende tariefaansoek vir 2018: Eskom het Nersa oor die besluit voor die hof gedaag en in April ’n hofverklaring ingedien. Nersa het kennis gegee dat hy die saak sal betwis.

Die gewone tariefaansoek vir 2019: In Maart het die hof in Eskom se guns beslis, en Eskom het intussen ’n aanvullende tariefaansoek vir ’n ekstra R5,4 miljard ingedien. Nersa moet ’n openbarekonsultasieproses hieroor afhandel en ’n finale besluit van Nersa word teen 26 Februarie volgende jaar verwag.

Die gewone tariefaansoek vir 2020 tot 2022: Die hof het in Julie in Eskom se guns beslis en Nersa se besluit tersyde gestel. Dit gaan oor die reddingsboei van R69 miljard oor drie jaar wat Eskom verlede jaar van die nasionale tesourie ontvang het, wat Nersa gemeen het nie deel behoort te vorm van sy toegelate inkomste nie en Nersa het dus die bedrag afgetrek. Maar Eskom het suksesvol voor die hof aangevoer dit sou die regering se hele bedoeling met die reddingsboei ongedaan maak. Hy mag dus nou die R69 miljard op ’n gefaseerde manier oor drie jaar van die 2022-boekjaar af uit tariewe verhaal. Nersa het verlof tot appèl gekry, en Eskom het aansoek gedoen dat die hofbeslissing uitgevoer moet word terwyl daar vir die appèlproses gewag word.

Die terugwerkende aansoek vir 2019: Nersa het besluit Eskom mag R13,3 miljard terugkry van die aanvanklike aansoek vir R27,3 miljard. Die redes vir sy besluit is in Oktober gepubliseer, en Nersa sal teen 26 November besluit op die tydsberekening van die verhaling van die R13,3 miljard.

eskom

Eskom het Vrydag gewaarsku hy het tariewe nodig wat die koste van kragopwekking meer realisties weerspieël, want daarsonder en sonder ekstra staatshulp gaan sy kontantverkope nie voldoende wees om sy skuld te diens nie. Selfs ’n ambisieuse teiken om teen 2023 R62 miljard te bespaar is volgens Calib Cassim, finansiële hoof van Eskom, nie voldoende om sy balansstaat te verbeter nie.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Hofsaak  |  Kragvoorsiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.