Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
4 Eskom-feite wat beleggers laat naels kou
Eskom hou ’n sistemiese risiko vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in. Foto: Unsplash

Beleggers is bekommerd oor Eskom se waarskuwing vroeër die week dat nóg slegte nuus oor onreëlmatighede in sy finansiële resultate vir die boekjaar tot einde Maart kan uitkom.

Eskom hou ’n sistemiese risiko vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in, het Ian Matthews, hoof van sakeontwikkeling by die beleggingsgroep Bravura, gesê.

Eskom maak later vandeesmaand sy jaarresultate bekend.

Hier is die belangrikste goed waaroor mense wakker lê:

   

1. Eskom se skuld:

   

Die skuldlas van R368 miljard is die oorheersende probleem by Eskom, het Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, vroeër gesê. Teen einde September verlede jaar was sy verhouding van skuld tot aandelekapitaal 72% en Mabuza het gewaarsku dat sy skuldvlakke “onvolhoubaar” is. Eskom het tot einde 2019 nuwe finansiering van R72 miljard nodig, wat die herfinansiering van ’n lening van R20 miljard insluit wat op grond van ’n staatswaarborg verkry is.

As Eskom nie sy skuld kan terugbetaal nie, sal dit volgens Matthews ’n ramp wees vir die ekonomie omdat dit ’n sneller kan wees vir banke om te eis dat die staat alle ander staatskuld terugbetaal.

   

2. Jongste waarskuwings oor onreëlmatighede: 

   

Eskom het in Januarie al die gevaar geloop dat sy effekte op die JSE opgeskort sal word en dat hy nie sy skuldverpligtinge sal kan nakom nie omdat dit gelyk het asof hy nie sy tussentydse finansiële resultate vir die halfjaar tot einde September 2017 betyds sou uitreik nie.

Die waarskuwing van vroeër die week is ’n verpligting ingevolge die JSE se reëls oor die notering van skuldinstrumente soos Eskom-effekte.

Eskom se ouditeurs het met die halfjaarresultate al gewaarsku oor sy vermoë om vir die volgende jaar tot 18 maande as lopende saak te kan voortgaan. Sy likiede bates is aan die kwyn. Dit was teen einde September R9 miljard teenoor R30 miljard ’n jaar gelede.

Die ouditeure het die volle jaarresultate vir die boekjaar tot einde Maart gekwalifiseer, en gesê hulle kan nie ’n mening uitspreek oor hoe volledig Eskom oor onreëlmatige besteding in die resultate verslag gedoen het nie. Die ouditeurs, SizweNtsalubaGobodo, het gesê hulle het in die halfjaarresultate ook onreëlmatighede geïdentifiseer.

   

3. Loononderhandelings:

   

Vakbonde wil met die ministers van finansies en van openbare ondernemings praat nadat hul loononderhandelings met Eskom vasgeval het. Maar Nhlanhla Nene, minister van finansies, sê vakbonde moet met voorstelle kom hoe die staatskas die loonverhogings moet finansier. Hy het drie weke gelede op ’n beleggingstoer in Brittanje gewaarsku daar is nie geld om Eskom met salarisverhogings te help nie.

   

4. Aantreklikheid van Eskom se effekte:

   

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vroeër vanjaar gewaarsku internasionale beleggers weier om Eskom-effekte te koop weens hul persepsies van swak bestuur en korrupsie. Die Amerikaanse bankgroep Goldman Sachs het al in September gewaarsku Eskom is die grootste enkele risiko vir die land se ekonomie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.