Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
8 redes vir beurtkrag, en wat Eskom daaraan kan doen

Beurtkrag word veroorsaak deur ’n strukturele krisis in die kragbedryf en nat steenkool is bloot ’n simptoom van dié krisis, sê Jesse Burton, navorser oor energiebeleid by die Universiteit van Kaapstad se energienavorsingsentrum.

Jesse Burton
Jesse Burton, energienavorser van die Universiteit van Kaapstad.

Hier is ’n lys van redes en oplossings vir beurtkrag, saamgestel uit insigte van Burton asook van prof. Anton Eberhard, kundige in elektrisiteitsbedryfregulering en ’n vorige beplanningskommissaris, wat hy die naweek via Twitter gedeel het.

1. Nadat Eskom al 12 jaar gelede opdrag gegee is om nuwe kragstasies te bou, het hy nou nog nie die Medupi- en Kusile-kragstasies voltooi nie.

Deel van die oplossing is dus om so gou moontlik die ontwerpfoute by die kragstasies reg te stel en die oorblywende eenhede wat nog nie voltooi is nie, in bedryf te kry.

2. Eskom se bestuur- en bedryfsvermoëns is oor die afgelope jare uitgekalwe. Dit is deels weens staatskaping, en kundiges by Eskom wat uitgewyk het na ander weivelde. Hopelik kan André de Ruyter, nuwe uitvoerende hoof, daarvan werk maak om weer kundiges en die regte vaardighede terug te lok. Phakamani Hadebe, De Ruyter se voorganger, het ook verlede jaar ’n veldtog begin om afgetrede Eskom-ingenieurs te probeer oortuig om weer hul hulp en ervaring aan te bied.

3. Die Suid-Afrikaanse regering het sedert 2014 nog nie nuwe tenders uitgereik vir die bou van nuwe kragstasies nie, volgens Eberhard. (Dit is benewens die program vir onafhanklike groenkragprodusente wat egter tot ’n spesifieke hoeveelheid kragopwekkingskapasiteit beperk word.)

4. Die departement van energie en die nasionale energiereguleerder (Nersa) het dit vir die private sektor uiters moeilik gemaak om hul eie oplossings vir kragonderbrekings uit te werk, sê Eberhard.

kragpale
Eskom se kragprobleme duur voort. Foto: Unsplash

Baie myne in Suid-Afrika wil graag hul eie krag opwek, maar kan nie, weens vertragings by Nersa se lisensiëringsproses en die departement se burokrasie met toestemming. Dit het tyd geword vir mededinging in die elektrisiteitsmark, net soos wat mense nie meer net van Telkom afhanklik is vir telekommunikasie nie, meen Eberhard. Enigiemand behoort toegelaat te word om hul eie krag op te wek en dit wat hulle nie self gebruik nie aan enigiemand anders te verkoop.Eberhard waarsku daar kan groepeise teen die regering verwag word as die kragkrisis voortduur, want Suid-Afrikaners wil die reg hê om hul eie elektrisiteit op te wek.

5. Instandhouding van ou steenkoolkragstasies. Eskom het nagelaat om verouderende kragstasies, waarvan die meeste meer as 30 jaar oud is, in stand te hou. Namate hulle ouer word het hulle meer instandhouding nodig, nie minder nie, sê Burton.

6. Steenkoolvoorsieningsprobleme. Eskom moes geld bestee aan die myne naby sy kragstasies waar genoeg steenkoolvoorraad bekom kon word en waar steenkoolgehalte makliker gemonitor kon word, maar hy het nie, sê Burton.

7. Die regering het nagelaat om seker te maak Eskom kry die inkomste wat hy nodig het en dat hy dit bestee aan kritieke funksies eerder as aan baie duur nuwe kragstasies wat al klaar laste is omdat hulle so duur is om te bedryf. 

8. Die regering het nagelaat dat nuwe kragstasies in bedryf gestel word wanneer dit nodig word. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, behoort onmiddellik kleinskaalse kragprojekte toe te laat sodat mense hul ligte aan die brand kan hou. Sy departement moet ’n mededingende tender uitreik vir nuwe wind- en sonkrag omdat dit tans die goedkoopste en vinnigste manier is om nuwe kragvermoë aan die kragnetwerk te koppel, sê Burton. Suid-Afrika sal andersins nog “vir baie jare kragtekorte hê en sal miljarde bestee aan diesel en om steenkoolkragstasies te subsideer om die ligte aan die brand te hou”.


Meer oor:  Eskom  |  Kragvoorsiening  |  Beurtkrag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.