Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
40 keer minder skaliegas in Karoo, sê kenners
Betogers teen hidrobreking om skaliegas te ontgin, in 2011 in Kaapstad. Navorsing het nou getoon die Karoo beskik oor minder skaliegas as wat aanvanklik bereken is. Foto: Argief

Geoloë meen die Karoo het byna 40 keer minder skaliegas as wat voorheen gereken is.

Die inligting is vervat in ’n artikel, “Deflating the shale gas potential of South Africa’s main Karoo Basin”, wat Donderdag in die Suid-Afrikaanse Joernaal vir Wetenskap verskyn het.

Prof. Michiel de Kock, leiernavorser en -outeur van die artikel en hoof van die departement geologie aan die Universiteit van Johannesburg, sê die span se navorsing wat aan die buitewyke van die Karookom gedoen is, wys “bitter min” tekens van skaliegas. Die kerne wat uit die boorgate by Ceres (in die Tankwa Karoo) en Willowvale in die Oos-Kaap onttrek is, het min of geen tekens van skaliegas getoon nie.

“Die gevolgtrekking waartoe ons kom, is dat die vorige uitsprake dat ‘massiewe hoeveelhede’ skaliegas in die Karookom voorkom is, geweldig opgeblaas is.”

Waterdamp styg uit skoorstene by ’n skaliegasverwerkingsaanleg. Foto: Peter Kollanyi, Bloomberg

In 2011 is gereken die Karoo beskik oor tot soveel as 485 triljoen kubieke voet (Tcf) skaliegas.

“Dit sou beteken Suid-Afrika het die vierde grootste afsettings van skaliegas ter wêreld,” sê De Kock.

Die jongste navorsing toon egter dat die reserwe waarskynlik sowat 13 Tcf is. Dit is nog steeds baie skaliegas gemeet aan Mossgas wat op 1 Tcf funksioneer.

“Die vraag is egter of dit ekonomies ontginbaar is,” sê De Kock. Dié aspek is nog glad nie bewys nie.

Die Raad vir Geowetenskappe gaan binnekort by Beaufort-Wes en Sutherland (die sogenaamde teikengebiede van groot ontginningsmaatskappye) gate boor om soortgelyke navorsing te doen en die gasreserwe te bepaal. De Kock meen die uitslag sal naastenby dieselfde wees as wat in Ceres en Willowvale gevind is.

Hemant Lala, woordvoerder van Shell, sê die maatskappy neem kennis van die jongste resultate. Die navorsers het egter nie in die kerngebied van die Karoo gate geboor waar Shell aansoek gedoen het vir ’n prospekteeerlisensie nie.

“Die jongste resultate gee wel ’n beeld van wat aan die rand van die kom aangaan.”

Volgens hom is Shell verbind tot die ontginning van Suid-Afrika se skaliegaspotensiaal.

“Ons wag al 6 jaar vir ’n eksplorasiepermit, maar het nog niks ontvang nie. Ons wag steeds daarvoor. Daar heers onsekerheid daaroor op die oomblik,” sê hy.

Geen woordvoerder van die Petroleumagentskap van Suid-Afrika was beskikbaar vir kommentaar nie.

Ter illustrasie. Grafika: Pixabay

De Kock se span het navorsers van die Raad vir Geowetenskappe, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Portsmouth ingesluit.

Hy sê dit is uitstekend dat die burgerlike samelewing moontlike ontginning in so ’n mate vertraag het dat daar eers behoorlike navorsing gedoen kon word. “As ontginning in kleiner, afgebakende gebiede wel voortgaan, sal dit nou goed gereguleer word,” meen hy.

Intussen gaan Jonathan Deal, hoof van die Treasure the Karoo Action Group, wat kragte met Agri SA saamgesnoer het, voort met regstappe.

Dié organisasies bring op 18 Februarie aanstaande jaar ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria dat die departement van minerale bronne se regulasies vir die ontginning van skaliegas geskrap word. “Ons het ’n baie goeie kans op ’n oorwinning.”

Enige maatskappy wat dit nou waag om boorgate te sink om vir skaliegas te prospekteer, sal voor die hof gedaag word. “Ons sal onmiddellik ’n interdik kry om hom te stop,” sê Deal.

Meer oor:  Karoo  |  Navorsing  |  Skaliegas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.