Honderde maatskappye het gereageer op die regering se versoek vir 3 000 MW se noodkrag wat binne twee jaar beskikbaar kan wees.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie. Foto: Jabu Kumalo
Die departement van minerale bronne en energie het in Desember ’n versoek om inligting uitgereik vir voorstelle om tussen 2 000 MW en 3 000 MW se kragopwekkingsvermoë vinnig en teen lae koste op die been te bring.
Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het Woensdag aan LP’s gesê 481 voorstelle is ontvang teen die sperdatum van 31 Januarie. Dit sluit in opsies om krag op te wek met aardgas, vloeibare brandstof, steenkool, hernubare krag en kernkrag, asook bergingsopsies.
Volgens Mantashe dui ’n voorlopige ontleding daarop dat “van die opsies krag binne minder as 24 maande aan die netwerk sal kan lewer”.
In die oorspronklike versoek om inligting is ook gevra vir korttermyn-kragopwekkingsopsies van tot 3 000 MW wat binne ’n jaar beskikbaar kan wees, maar ontleding van die departement toon opsies wat oor ’n langer tydperk in bedryf kom “is nodig om te verseker dat die prys daarvan nie huidige tariewe negatief beïnvloed nie”.
LEES OOK: Kragkrisis: Turkse kragskepe wil uitkoms bied
Mantashe sê ook die nasionale energiereguleerder (Nersa) het reeds 132 aansoeke ontvang om altesame 59 MW vir eie gebruik op te wek. Die lisensiëringsvereiste vir hierdie kategorie opwekking is geskrap in ’n poging om die tekort aan krag te verminder. – Bloomberg, verwerk