Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Eskom: 5 dinge wat jy oor staking moet weet

Almal is aan die gons op WhatsApp uit vrees dat die ligte Donderdag landwyd gaan af wees omdat Eskom-werkers wil staak. Hier is wat jy moet weet. Dié berig is bygewerk ná Eskom se nuuskonferensie Woensdagmiddag.

      

1. Wie wil staak?

  

Eskom belowe ons gaan nie Donderdag in die donker sit nie, maar dit bly ’n goeie plan om jou gasbottel vol te maak en jou selfoon te laai.

Werkers van die mynwerkersvakbond NUM en die metaalwerkersvakbond Numsa wil by Eskom staak. Werkers wat aan die vakbond Solidariteit behoort, gaan nie staak nie.

Omdat kragopwekking tot noodsaaklike diens verklaar is, sal dit ’n onwettige staking wees en loop stakers die risiko dat hulle dissiplinêr vehoor sal word en daarna selfs afgedank sal word.

  

2. Waarom wil werkers staak?

         

NUM en Numsa wil staak, want Eskom bied vanjaar geen loonverhogings aan nie weens sy geldkrisis.

Solidariteit het wel ’n dispuut met Eskom verklaar daaroor, en wag op die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie vir ’n arbitrasiedatum, sê Deon Reyneke, hoof van Solidariteit se afdeling vir die ingenieurs-, staal- en energiebedryf. NUM en Numsa het ook intussen ’n dispuut verklaar.

Reyneke meen NUM is tans besig met die verkiesing van nuwe strukture en van sy hoofsekretaris. Dis moontlik dat hy deur dié onwettige staking sy spiere wil wys.

Phakamani Hadebe het Woensdagmiddag op ’n mediakonferensie by Megawatt Park in Johannesburg gesê Eskom het verskeie besparingsmaatreëls in werking gestel om die nutsreus meer volhoubaar te maak. Geen bonusse word byvoorbeeld vanjaar betaal nie.

  

3. Is daar enige idee hoe lank mense wil staak?

         

NUM en Numsa dreig om van Donderdag af met “rollende aksie” tot Sondag te staak.

Hulle gaan Donderdag ’n memorandum aan Eskom-bestuur by Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Midrand, aflewer.

By enkele kragstasies se ingange is Woensdagoggend motorbande gebrand, en daar was ook gevalle van sabotasie, het Thava Govender, Eskom se hoof van kragopwekking, Woensdagmiddag toegegee. Dit was hoofsaaklik in Mpumalanga. Hy sê dit het eenhede geraak wat 400 MW krag opwek.

  

4. Gaan krag landwyd af wees?

       

Eskom se gebeurlikheidsplanne sluit waarskynlik in dat werkers wat wel kom werk, langer skofte sal werk.

Reyneke meen dis hoogs onwaarskynlik dat daar ’n landwye kragonderbreking sal wees, en daar kan hoogstens hier en daar ’n opwekkingseenheid by ’n kragstasie uitskop.

Govender het Woensdagmiddag laat glip Eskom kan nie waarborg dat daar glad nie Woensdagaand of Donderdag kragonderbrekings sal wees nie.

Hadebe het egter teruggekrabbel en gesê as al die werkers saamwerk en gebeurlikheidsplanne inskop, sal daar nie kragonderbrekings wees nie.

Eskom het vroeër in ’n verklaring belowe al sy kragstasies loop nog seepglad danksy sy “gebeurlikheidsplanne”.

Eskom het nog nie op herhaalde navrae gereageer oor presies wat die gebeurlikheidsplanne behels nie. Reyneke sê dit beteken gewoonlik die werkers wat wél vir werk opdaag, moet langer skofte – tot 12 uur – werk of skofte word gouer geruil. Daarby word Eskom Rotek Industries se vaklui gewoonlik ingebring om te help.

In sekere gevalle kan tegnici van buite gekontrakteer word, maar die operateurs by kragstasies is gelisensieer en opgelei en dit sal nie maklik wees om sulke mense met tydelike werkers te vervang as dit nodig word nie.

Meer personeel word ook op bystand geplaas as deel van gebeurlikheidsplanne.

Hadebe het Woensdagmiddag gesê Eskom het ’n reeks noodreaksie-beheersentra wat hy met Eskom-personeel op die been bring in gevalle waar sulke onwettige stakings kan uitbreek.

  

5. Wat moet jy doen?

       

Wel, jy is ’n Suid-Afrikaner – jy weet mos hoe dit werk sedert 2008 se beurtkragseisoen:

  • Hou jou selfoon en flitse gelaai.
  • Hou jou gassilinder vol en jou kragopwekker se tenk vol petrol of diesel.
  • Maak solank vandag etes gaar vir die res van die week, andersins is daar altyd die braaikamer om te benut.
  • Volg die Britse voorbeeld van “Keep calm and carry on” – oppas vir histeriese WhatsApp-boodskappe! Lees eerder Netwerk24 om ware nuus van fopnuus te onderskei. Khulu Phasiwe, woordvoerder vir Eskom, het Dinsdagaand via Twitter gesê die WhatsApp-boodskappe wat die ronde doen oor landwye kragonderbrekings wat kom, is sommer kwaadwillige opjaag van paniek, want “Eskom het alles onder beheer”.
Meer oor:  Num  |  Solidariteit  |  Eskom  |  Numsa  |  Deon Reyneke  |  Staking  |  Elektrisiteit  |  Vakbonde  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.