Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
50%-SEB-vereiste ‘was nooit Eskom-beleid’
Megawatt Park, Eskom se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg.

Eskom het nie ’n beleid om steenkool te koop slegs van maatskappye met 50% swart eienaarskap nie.

Hy het nooit so ’n beleid gehad nie.

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, het Woensdag in vraetyd op die kragvoorsiener se halfjaarresultate dit onomwonde gestel Eskom glo die vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in die Mynbouhandves van 2018 is voldoende.

Hiervolgens word bemagtigingsvereistes van tot 30% vir maatskappye gestel.

“Ons sal steenkool by enigiemand koop wat dit wil verkoop. Dit is solank hulle wettige myners is en hulle aan die vereistes van die Mynbouhandves voldoen.”

Op 5 September 2016 het Eskom egter op sy webwerf verklaar hy sal steenkool net aankoop van maatskappye met ’n SEB-belang van minstens 50%.

Matshela Koko, wat sedertdien bedank het, was destyds Eskom se waarnemende uitvoerende hoof.

Mabuza sê dit “was ’n doelwit wat die bestuur voorheen gehad het, maar dit was nooit beleid nie”.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het in sy voorlegging oor die resultate gesê Eskom sukkel steeds om genoeg steenkool vir sy kragstasies te bekom.

Eskom onderhandel kontrakte met verskeie verskaffers totdat hy sy eie sake in orde kry, het hy gesê.

Die redes vir sy tekorte word gelê voor die deur van die probleme by die Guptas se Tegeta Energy & Resources – spesifiek die Optimum-steenkoolmyn – en ook omdat hy nie self sy koste-plus-myne behoorlik in stand gehou het nie.

Totdat die instandhouding hier afgehandel is en dié myne weer die vereiste hoeveelheid en gehalte van steenkool kan lewer, moet Eskom steenkool by ander verskaffers koop.

Beurtkrag

’n Beduidende steenkooltekort is een van die redes hoekom Eskom nou reeds geruime tyd waarsku dat daar vir die res van die jaar ’n groot kans vir beurtkrag is.

Al die direkteure wat voorleggings gelewer het, het na die risiko van beurtkrag verwys.

“Nie ek, Hadebe of selfs die minister kan enige belofte maak dat daar nie beurtkrag gaan wees nie,” het Mabuza gesê.

“Ons doen alles in ons vermoë om dit te probeer vermy, maar ons kan geen belofte maak dat ons dit nié gaan instel nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.