Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
PetroSA gaan tot 720 mense afdank
PetroSA is onder druk weens die kwynende aardgasbronne aan die Suid-Kaapse kus. Dié foto is van PetroSA se gas-tot-brandstofaanleg by Mosselbaai. Foto: Francois Williams

Herstrukturering en moontlike werkverliese wag op die staatsoliemaatskappy PetroSA. Tot 40% van sy arbeidsmag van meer as 1 800 kan geraak word.

“Die maatskappy herorganiseer sy sake om bedryfsdoeltreffendheid te verbeter te midde van uitdagende marktoestande om sy oorlewing en volhoubaarheid te verseker,” het Thabo Mabaso, kommunikasiebestuurder, Woensdag in ’n verklaring gesê.

PetroSA is onder druk weens die kwynende aardgasbronne aan die Suid-Kaapse kus, tesame met sy planne vir ’n nuwe olieraffinadery by Coega in die Oos-Kaap wat nie van die grond af kan kom sonder staatsteun nie.

In die jongste begroting is die koste van die raffinadery, genaamd Projek Mthombo, op R200 miljard geraam, maar met geen tydraamwerk daaraan gekoppel nie.

Volgens Mabaso is PetroSA byna klaar met ’n projek om R1 miljard aan sy bedryfskoste te besnoei.

PetroSA het reeds vakbonde ingelig dat hy ingevolge art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge nie meer herstrukturering kan vermy nie, en dit kan personeellede raak.

PetroSA het vakbonde genooi om te praat oor maatreëls om moontlike werkverliese te vermy, te beperk of te versag. Die amptelike proses sal in April begin.

PetroSA het in die boekjaar tot einde Maart 2014 ’n netto verlies van R1,65 miljard gely teenoor ’n wins van R612 miljoen die vorige jaar.

Teen die jaareinde het die maatskappy, wat deel is van die Sentrale Energiefonds, wel R5,13 miljard se kontant in die bank gehad.

PetroSA bedryf die gas-tot-brandstofaanleg by Mosselbaai, en het belange in enkele olie- en gasbates in die res van Afrika. 

Lees nog:

■ ​PetroSA kan nie gas gee nie - daar ís nie

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.