Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
‘Aankondigings ’n hupstoot vir groen krag’

Die energiebedryf is opgewonde oor die aankondigings wat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede gedoen het, want dit gaan ’n groot hupstoot vir die groenkragbedryf wees en ’n stap nader aan ’n gedesentraliseerde kragnetwerk.

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat groenkrag méér gebruik gaan word, word verwelkom. Foto: Pixabay

Die aankondiging dat ’n ministeriële bepaling binnekort uitgereik gaan word om nuwe tenders ingevolge die regering se krag-bloudruk moontlik te maak, beteken bouwerk kan begin aan kragprojekte wat die land dringend nodig het, sê Marubini Raphulu, uitvoerende hoof van die energiemaatskappy Hulisani.

Die aankondiging dat daar geen perk gaan wees op die grootte van kragopwekking vir eie gebruik nie, is baie positiewe nuus, het Raphulu gesê.

Hy is ook beïndruk met die besluit om voor die einde van vandeesmaand al te begin met die tenders vir noodkragprojekte wat binne drie tot 12 maande vanaf goedkeuring krag aan die netwerk kan lewer.

Die ministeriële bepaling sal ook beteken dat die regering die vyfde bodronde van sy groenkragaankoopprogram kan open, wat nie net positief is vir die hernieubare-energiebedryf nie, maar ook vir vervaardigers van toerusting soos sonpanele en windturbines.

Geordin Hill-Lews, DA-woordvoerder oor finansies, het op Twitter gesê die beste aankondiging in die staatsrede was dat sekere munisipaliteite wat finansieel gesond is, toegelaat sal word om hul krag van onafhanklike kragprodusente te koop. Dit kom nadat Kaapstad al vir ’n jaar in die hof moes veg teen die nasionale energiereguleerder (Nersa) om dit reg te kry.

Ntombifuthi Ntuli, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging, het op Twitter vir Ramaphosa bedank dat hy geluister het, want Sawea vra al lank dat die regering bestaande son- en windkragprojekte sal toelaat om hul bestaande ekstra kragvermoë aan die kragnetwerk te lewer. Ramaphosa het in die staatsrede bevestig dat bykomende kragkoopkontrakte met dié onafhanklike kragprodusente onderhandel sal word om hul ekstra kapasiteit te gebruik.

Sommige kommentators is egter skepties oor Ramaphosa se aankondiging dat Nersa lisensie-aansoeke vir kragopwekking vir eie gebruik van meer as 1 MW binne 120 dae moet verwerk. Nersa sloer al jare om sulke aansoeke binne die voorgeskrewe tydperk van 120 dae te verwerk, en skeptici meen dit sal nie met ’n towerstaf verander nie. Raphulu meen Nersa moet bloot begin by die aansoekers wat al die langste wag en die agterstand inhaal.

Die vakbond Solidariteit het ook die drastiese stappe om kragopwekking te desentraliseer verwelkom.

“Die volgende stap is om die transmissienetwerke vir private kragopwekkers beskikbaar te stel,” sê dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se sakeskool, meen ook dis baie positief dat groter private kragopwekking toegelaat sal word om die kragkrisis te oorkom.

Meer oor:  Eskom  |  Groenkrag  |  Staatsrede2020  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.