Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Aardgas g’n so skoon, meen geoloog

Aardgas is nie die belowende oorgangsbrandstof wat dit uitgemaak word nie. Dis maar net so vuil en besoedelend as steenkool of olie.

Die regering maak dus ’n groot fout om aardgas te bevorder, meen die geoloog Jan Arkert.

Dit volg op beriggewing Woensdag oor die regering se gasmeesterplan.

LEES OOK: Aardgas gaan al hoe groter rol begin speel

Arkert, ’n raadgewende geoloog met ’n meestersgraad in wildbestuur, het ’n studie gedoen oor die omgewingsimpak van aardgas en of dit Suid-Afrika gaan help om die land se beloftes en verpligtinge ingevolge die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering na te kom.

Sasol se aanleg in Secunda waar brandstof uit steenkool en aardgas vervaardig word.

In ’n aanlyn seminaar aangebied deur die omgewingsorganisasie The Green Connection is Arkert egter verdoemend oor sy bevindinge.

Die regering se ambisie oor laer kweekhuisgasse is volgens hom heeltemal te power, en aardgas gaan nie help as oorgangsbrandstof in ’n skuif van steenkool na hernubare energie nie.

As Suid-Afrika al die aardgasbronne moet gebruik wat reeds ontdek is, sal 158,7 gigaton koolsuurgas-ekwivalente kweekhuisgasse vrygestel word, wat 53% is van die oorblywende 300 gigaton in die wêreld se koolstofbegroting, sê Arkert.

Die koolstofbegroting is ’n teoretiese berekening van hoeveel kweekhuisgasse die wêreld nog kan vrystel voordat die aarde se gemiddelde temperatuur te hoog styg om weghol-klimaatsverandering te keer.

Suid-Afrika het in 2018 478,8 miljoen ton koolsuurgas-ekwivalente kweekhuisgasse vrygestel, wat 1,3% van die wêreld se totale kweekhuisgasse verteenwoordig. Maar die land het net 0,7% van die wêreld se bevolking, en die ekonomie is net 0,4% van die wêreld se ekonomie.

Arkert waarsku dat die regering se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) impliseer dat die land se energieverskaffing teen 2030 steeds 59% van steenkool sal kom.

Hy wys in sy studie dat aardgas wel heelwat minder koolsuurgas vrystel wanneer dit verbrand word om krag op te wek, maar as die aardgas uitlek by installasies waar dit ontgin of verwerk word, is dit tot 28 keer slegter vir die klimaat as koolsuurgas.

Suid-Afrika se jongste voorgestelde teikens vir kweekhuisgasvermindering is dat kweekhuisgasse van nou tot 2025 ’n piek moet bereik van tussen 398 miljoen ton en 510 miljoen ton, dan stabiliseer, en tot 440 ton daal teen 2030.

Onafhanklike ontledings wys volgens Arkert egter dat dié teikens onvoldoende is. As almal mik na waarna Suid-Afrika mik, sal die gemiddelde wêreldtemperatuur met 3 °C tot 4 °C styg.

Arkert meen eksplorasie vir nuwe gasbronne en die kragskepe wat die regering wil gebruik maak nie sin nie.

Hy gee toe die reeds bestaande gasbronne het dalk ’n rol in ’n billike oorgang van steenkoolkragstasies na meer skoner en hernubare kragbronne, en om basiskrag te verskaf. Maar namate tegnologie verbeter meen hy basiskrag kan toenemend deur batterytegnologie en hernubare energie gelewer word.

Hy waarsku dat die beleggings in die ontdekking van nuwe gasbronne gestrande bates sal wees in die lig van die noodsaak om kweekhuisgasse te sny om weghol-klimaatsverandering te keer.

Sy verslag kan gelees word op The Green Connection se webblad.

Meer oor:  Olie  |  Krag  |  Brandstof  |  Gas  |  Elektrisiteit  |  Aardgas  |  Steenkool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.