Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Amerika steun firma om kernkrag in SA te ontwikkel

Die Amerikaanse regering se internasionale ontwikkelingsfinansieringskorporasie (DFC) het aangekondig hy beoog om ondersteuning te gee aan ’n Amerikaanse kernkragmaatskappy om 2 500 MW se kernkrag in Suid-Afrika te ontwikkel.

kernkrag
Die Amerikaanse maatskappy NuScale het onlangs van die land se kernkragreguleringskommissie (NRC) goedkeuring ontvang vir sy ontwerp vir ’n klein modulêre reaktor wat klaar in ’n fabriek vervaardig kan word. Dit is die eerste in sy soort in Amerika wat goedkeuring ontvang het. Foto: Verskaf

Die aankondiging is Vrydag gedoen op ’n virtuele konferensie getiteld “Belegging in Afrika se toekoms ter ondersteuning van die Trump-administrasie se Prosper Africa-inisiatief”. Staatshoofde van Afrika, senior Amerikaanse staatsamptenare, ontwikkelingsfinansieringsinstellings van Afrika en ander belangepartye het dit bygewoon.

Die DFC sê ’n skriftelike voorneme is aan die maatskappy NuScale verskaf om hom te ondersteun om 2 500 MW se kernkrag in Suid-Afrika te ontwikkel.

“Indien suksesvol, sal NuScale die eerste Amerikaanse onafhanklike kragprodusent (IPP) van kernkrag op die vasteland wees,” lui ’n verklaring van die DFC.

Dit kom nadat die DFC in Julie vanjaar sy kernkragbeleid opgedateer en gemoderniseer het. Hiermee is sy verbod op steun vir kernkrag opgehef ten einde ’n oplossing te vind vir die energiebehoeftes van ontwikkelende lande, lui die verklaring.

Geen verdere inligting is verskaf nie en NuScale het ook nie verdere inligting op sy webtuiste uitgereik nie.

Bloomberg berig ’n weergawe van die ekonomiese herstelplan wat die regering saam met die arbeidsektor en sakebedryf by Nedlac onderhandel het en wat verlede week deur die kabinet bespreek is, bevat voorstelle dat energievoorsiening deur die konstruksie van kernkragaanlegte verseker word.

NuScale het einde Augustus in ’n verklaring gesê hy het geskiedenis gemaak omdat hy die eerste reaktor in sy soort bied wat goedkeuring van die Amerikaanse kernkragreguleringskommissie (NRC) vir sy ontwerp ontvang het.

Dit is beskryf as ’n belangrike mylpaal vir NuScale wat hom gereed maak om sy spesifieke tegnologie binne ’n dekade na die mark te bring.

Die goedkeuring is gekry vir wat NuScale noem sy “baanbrekende klein modulêre reaktor”.

Volgens die maatskappy kan kliënte hom nou nader met planne om van sy kragstasies te ontwikkel omdat die NRC die veiligheidsaspekte van die ontwerp goedgekeur het.

“Dit is ’n belangrike mylpaal, nie net vir NuScale nie, maar vir die hele Amerikaanse kernkragsektor. Dit vestig duidelik die leierskap van NuScale en Amerika in die stryd om klein modulêre reaktors na die mark te bring.”

NuScale werk al sedert 2007 daaraan om sy tegnologie te kommersialiseer.

Klein modulêre reaktors is ’n tipe reaktor wat kleiner as die konvensionele kernkragstasies is.

Modulêre reaktors beteken sy onderdele kan klaar vervaardig word in ’n fabriek eerder as om op ’n terrein gebou te word, wat konstruksietyd en gepaardgaande koste drasties verminder, het die webblad Investableuniverse.com berig.

Die ontwerp van NuScale behels ’n klaar vervaardigde eenheid wat 60 MW elektrisiteit kan opwek. Die ontwerp maak dit moontlik dat ’n kragstasie tot 12 van dié eenhede kan huisves.

In ’n onderhoud begin Oktober met Investableuniverse.com het die medestigter en hooftegnologiebeampte van NuScale gesê so ’n reaktor kan genoeg krag opwek vir ’n ontsoutingsaanleg om aan die watervereistes van ’n stad so groot soos Kaapstad te voldoen.

Van die ander aankondigings op die konferensie, sluit in:

  • ’n Toegewyde beleggingseenheid is geskep in Washington DC wat transaksies sal verkry en onderskryf om die doel van die Prosper Africa-inisiatief te ondersteun om tweerigtinghandel en -belegging tussen Amerika en Afrika aansienlik te verhoog. Die eenheid sal die DFC help om sy portefeulje van verbintenisse tot finansiering, wat tans $8 miljard bedra, te laat groei.
  • Die DFC het saam met Amerika se Ontwikkelingstigting vir Afrika (USADF) die TIES-program bekend gestel. Dit is beskryf as ’n vennootskap om beleggings in tegnologie, innovasie en entrepreneurskap in Afrika te bevorder. Die twee instellings sal saamwerk om lenings van tussen $50 000 en $500 000 te verskaf tesame met toelaes van tussen $10 000 en $100 000 aan ondernemings wat op dié gebiede uitblink. Die program sal aanvanklik tien tot 20 transaksies per jaar ondersteun.
  • Die DFC het ook aangekondig dat hy sal saamwerk met drie ontwikkelingsfinansieringsinstellings van Afrika om ekonomiese herstel ná die koronaviruspandemie te ondersteun. Die instellings sluit in Africa50, die Finansieringskorporasie van Afrika en die Handel- en Ontwikkelingsbank van Oos- en Suider-Afrika. Die fokus sal veral op laerinkomste- en laer-tot-middelinkomste-lande wees.
  • ’n Webblad is begin in samewerking met Asoko Insight om aansoeke vir finansiering van die DFC te hanteer.
  • Die DFC het onlangs ook ’n $250 miljoen-lening vir die Finansieringskorporasie van Afrika goedgekeur om belangrike infrastruktuurprojekte te finansier.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.