Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Balju moet inspring ná Molefe nie betaal
Brian Molefe

Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het sperdatums vir die terugbetaling van miljoene rande aan sowel Eskom se pensioenfonds as Solidariteit gemis, en nou is sy bates amptelik in die visier.

Solidariteit se regspan het Vrydag ’n dringende opdrag aan die balju gegee om te begin met die beslaglegging op Molefe se eiendom om regskostes, wat ingevolge ’n hofbevel aan Solidariteit verskuldig is, te dek.

Molefe het teen Vrydag slegs R100 000 van die R708 000 se regskoste betaal binne die tydperk van sewe dae wat Solidariteit geëis het.

Die hooggeregshof in Johannesburg het reeds in Januarie beslis dat Molefe die meer as R10 miljoen se pensioenuitbetaling wat hy van Eskom se pensioenfonds gekry het, moet terugbetaal. Daar is ook ’n kostebevel vir onder meer Solidariteit se regskoste teen hom gemaak.

Hy het verlede week in die konstitusionele hof sy aansoek om verlof tot appèl hierteen verloor.

Solidariteit het hom sewe dae gegee om sy regskoste te betaal, en Eskom se pensioenfonds wou die meer as R10 miljoen teen 22 Augustus hê.

Dit is nie gedoen nie.

Solidariteit het Vrydag gesê die balju is derhalwe versoek om beslag te lê op Molefe se bates in sy huis in die Pretoriase spogbuurt Cornwall Hill Estate.

Die goedere sal op ’n openbare veiling verkoop word totdat Molefe se skuld aan Solidariteit vereffen is. Die vakbond sê in ’n verklaring hy is vol vertroue dat Eskom se pensioenfonds ’n “sterk genoeg hand het” om ook sy geld dringend te verhaal.

“Solidariteit sal nie ophou totdat Molefe elke sent terugbetaal het nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste. “Hierdie daadwerklike stappe dien as waarskuwing aan ander belastingplunderaars. Hul dae van wetteloosheid is getel.”

Keitumetse Magopa, woordvoerder van Eskom se pensioenfonds, het aan Netwerk24 bevestig dat geen deel van die meer as R10 miljoen wat Molefe moes oorbetaal al teen Vrydag 23 Augustus ontvang is nie.

In ’n brief aan sy lede wat Netwerk24 gesien het, sê Eskom se pensioenfonds hy het sy regsverteenwoordigers amptelik opdrag gegee om met dringende stappe teen Molefe te begin om die geld so gou moontlik te verhaal.

Van der Bijl het Vrydag aan Netwerk24 gesê daar was geen verduideliking van Molefe oor waarom hy slegs so ’n klein deeltjie van die regskoste wat hy aan Solidariteit verskuldig is, terugbetaal het nie.

“Nie eens ’n verskoning nie. Al wat ons vanoggend ontvang het, is ’n betalingsbewys, niks meer nie,” sê hy.

Solidariteit sê hy het dus geen keuse as om voort te gaan met die beslaglegging nie – die hofbevele en sy eie sperdatum was duidelik.

Volgens Van der Bijl is daar geen manier dat Molefe nie in staat sal wees om die geld terug te betaal as die balju eers die beslagleggingsproses begin het nie.

“ ’n Onberispelike bron wat ek vertrou, het ons ingelig dat Molefe sowat sewe eiendomme besit, plus nog ’n plaas.

“As ons nie slaag met die beslaglegging op sy roerende bates nie, is daar oorgenoeg onroerende bates om te teiken.”

Meer oor:  Solidariteit  |  Eskom  |  Brian Molefe  |  Daniel Matjila  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.