Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beleggers verkoop Eskom-effekte, want voete sleep

Sommige beleggers in effekte is besig om ontslae te raak van hul dollar-gedenomineerde Eskom-effekte.

Jabu Mabuza, voorsitter en waarnemende uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Elvira Wood

Dit kom te midde van kommer dat Suid-Afrika te lank vat om ’n regrukplan vir Eskom in werking te stel en te verduidelik wat die regering met Eskom se skuldlas van R450 miljard gaan doen.

Die opbrengs op Eskom se dollar-effekte wat in 2025 verstryk, het Woensdag tot die hoogste vlak in ’n maand geklim, wat beteken die prys van die effekte het gedaal. Dit kom ondanks die regering se reddingsboei van R138 miljard oor die volgende paar jaar, wat vir Eskom tyd gekoop het om sy finansies te herskik.

Benewens kommer oor Eskom se skuldlas, wil beleggers ook sien dat Eskom vinniger vorder met bedryfs- en struktuurveranderings wat bedoel is om die maatskappy op ’n meer volhoubare trajek te plaas.

Dit blyk dit sal tot einde 2021 duur voordat planne wat al in Februarie aangekondig is om Eskom in drie bedryfseenhede te verdeel, finaal in werking gestel is.

’n Nuwe uitvoerende hoof moes al, soos belowe is, teen einde Oktober aangekondig gewees het.

Die kommerwekkendste is dat die voorstel om sommige kragstasies te verkoop en die opgeblase personeelgetalle by Eskom te besnoei, geweldige teenstand van die ANC se vakbondvennote kry.

“Die nodige politieke wil moet gevind word om die moeilike besluite te neem wat nodig is om Eskom op ’n volhoubare roete te plaas,” sê Olga Constantatos, ’n kredietontleder by Futuregrowth Asset Management. “Dit is nou tyd vir dringende optrede.”

Die gebrek aan vordering het reeds daartoe gelei dat Moody’s Investors Service nie meer so tegemoetkomend teenoor Suid-Afrika is nie. Hy het verlede week Suid-Afrika se skuld steeds op Baa3 – sy laagste beleggingsgraad – gegradeer, maar die vooruitsig na negatief verander, van stabiel.

Dit gee Suid-Afrika moontlik net tot Februarie se begroting om geloofwaardige planne bekend te maak of om die risiko te loop om tot rommelstatus afgegradeer te word.

Moody’s het Dinsdag Eskom se alleenstaande gradering een vlak laer tot B3 afgegradeer, wat ses vlakke in rommelstatus is.

Die opbrengskoerse van Eskom se 2025-dollareffekte het oor die afgelope twee dae met 19 basispunte tot 6,52% gestyg, wat steeds laer is as die hoogtepunt in Desember, maar byna een persentasiepunt hoër is sedert Julie.

Die regering het al herhaaldelik gesê beleggers sal nie geld verloor as Eskom se skuld herstruktureer word nie. Die meeste van die skuld word deur die staat gewaarborg.

Maar beleggers is steeds teleurgesteld, sê Bronwyn Blood, portefeuljebestuurder by Granate Asset Management in Kaapstad. Daar is nog belangrike vrae wat onbeantwoord bly, veral oor die skuldherstrukturering en oor wat bestaande krediteure se posisie is, sê sy.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag in ’n onderhoud beloof die aankondiging oor ’n nuwe uitvoerende hoof vir Eskom word binne enkele dae verwag, tesame met veranderings aan Eskom se direksie. Eskom is sonder ’n permanente hoof sedert Phakamani Hadebe in Julie bedank en die pos tydelik deur die voorsitter, Jabu Mabuza, beklee is.

Enige verdere steun aan Eskom sal in die vorm van staatslenings wees, en planne om sy skuldlas te verlig, sal nie aangekondig word voordat Eskom sy bedryfsprobleme opgelos het nie, het Tito Mboweni, minister van finansies, verlede week gesê. Dit maak die bedryfsherstrukturering nog dringender.

Daar is steeds onsekerheid oor Eskom se finansiële lewensvatbaarheid en sy planne om sy skuld te herstruktureer. Die aanstelling van die uitvoerende hoof sal niks hieraan verander nie, sê Jones Gondo, ’n senior kredietontleder van Nedbank.

“Die kandidaat sal deur dieselfde moeilike besluite in die gesig gestaar word wat sy of haar voorgangers nie kon neem nie, en dieselfde las en beperkinge sal nou op die nuwe uitvoerende hoof afkom.” – Bloomberg

Meer oor:  Moody's  |  Eskom  |  Kredietgradering  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.