Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag: 8-week-vooruitsig lyk bitter sleg

Eskom gaan in die komende weke onder erge druk wees om genoeg elektrisiteit aan die land te verskaf.

Eskom se Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Getty Images

Die kragentiteit het Sondagoggend aangekondig dat beurtkrag vir eers gestaak is, maar met reën wat in die noorde van die land dreig, en met dié dat die kragnetwerk volgens Eskom se verslag onder erge druk verkeer, is beurtkrag waarskynlik nie vir lank opgehef nie.

Eskom het Sondag gesê sy noodreserwes van diesel en water is weer aangevul ná die naweek se beurtkrag.

Maar sy stelsels gaan luidens Eskom se weeklikse verslag die komende weke onder beduidende druk wees.

Volgens die verslag voorspel die nutsmaatskappy vir die komende week ’n tekort van meer as 2 000 MW.

Die verslag dui aan waarvoor Eskom beplan en wat die waarskynlike uitkoms gaan wees.

Eskom het beplan dat daar in die komende week slegs ’n tekort van tussen 1 000 MW en 2 000 MW sal wees – ’n oranje-gevaarvlak.

Maar hy sê in die verslag weens die hoër as verwagte opwekkingsvermoë wat verlore gaan weens onbeplande instandhouding en foute, sal die komende week (en die sewe weke daarna) ’n rooi-gevaarvlak hê.

Dit beteken dat daar ’n tekort van meer as 2 000 MW opwekkingsvermoë gaan wees wat Eskom nie eens sal toelaat om sy noodreserwes op stabiele vlakke te hou nie.

Die verslag maak dit duidelik: ’n Rooi-gevaarvlak beteken noodreserwes is al wat die ligte aanhou, maar dit kan nie aangevul word ná spitstye nie weens die groot tekort aan opwekkingsvermoë.

Beurtkrag van meer as fase 2 dreig dus vir die volgende agt weke as Eskom nie genoeg diesel sal kan opgaar om sy oopsiklus-gasturbines te bedryf en pompopgaarskemas met water te hervul nie, wat beurtkrag tydelik sou kon afweer.

Die verslag is gegrond op ’n aanname van 12 000 MW wat weens foute onbeskikbaar is. Tans staan die verlies aan opwekkingsvermoë weens foute egter op meer as 13 500 MW.

Eskom se vooruitsig maak ook voorsiening vir hoeveel van sy kragstasies nie beskikbaar sal wees nie weens beplande instandhouding. Vir die komende week het hy beplan om 7 439 MW van lyn te hê vir belangrike, beplande instandhoudingswerk.

Hierdie syfer is egter gegrond op die aanname dat onbeplande instandhouding slegs 12 000 MW van die stelsel sou afhaal.

Eskom het Sondag gesê dat 4 664 MW tans op beplande instandhouding is – bykans 3 000 MW minder as wat beplan is.

Die kragverskaffer skaal dus beplande instandhouding af om sy totale verlies van opwekkingsvermoë te beperk soos foute by kragstasies die stelsel verlam.

In totaal is die verwagte verlies aan opwekkingsvermoë weens sowel beplande as onbeplande instandhouding vir die komende week meer as 19 000 MW.

Dit laat Eskom met slegs 26 833 MW om te voorsien in die land se energiebehoeftes wat na raming vandeesweek 29 000 MW sal wees.

Hoe lank die noodreserwes minstens fase 2-beurtkrag sal kan afweer, is onduidelik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.