Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Beurtkrag bly, maar Eskom kry nie pensioengeld

Beurtkrag is hier om te bly, maar die staat gaan nie werknemers se pensioengeld op die spel plaas om die probleme by Eskom uit te sorteer nie.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom.Foto: Elvira Wood

Dit was die onderneming van pres. Cyril Ramaphosa toe hy Donderdagaand sy staatsrede in die parlement gelewer het.

“In sy kern is beurtkrag die gevolg van Eskom se onvermoë oor baie jare – weens skuld, ’n gebrek aan kapasiteit en staatskaping – om sy kragstasies in stand te hou.

“Die realiteit wat ons moet aanvaar, is dat Eskom die noodsaaklike instandhouding moet doen om die betroubaarheid van die netwerk te verbeter. Beurtkrag bly dus vir die onmiddellike toekoms met ons.

“Wanneer beurtkrag onvermydelik is, moet dit op ’n voorspelbare manier toegepas word om die ontwrigting en die koste daarvan op ondernemings en huishoudings tot die minimum te beperk,” sê Ramaphosa.

Hy sê die staat gaan die volgende stappe doen om die kragkrisis so gou as moontlik te help oplos:

  • ’n Art. 34- ministeriële bepaling sal binnekort uitgereik word om uitvoering te gee aan die geïntegreerde hulpbronplan van 2019, wat die ontwikkeling van bykomende opwekkingsvermoë uit hernubare energie, aardgas, hidrokrag, batteryberging en steenkool moontlik maak.
  • Noodkrag sal gekry word van projekte wat binne drie tot twaalf maande ná goedkeuring krag aan die netwerk kan lewer.
  • Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) sal voortgaan met die lisensiëring van kleinskaalse projekte wat minder as 1 MW vir eie gebruik opwek.
  • Nersa sal toesien dat waar kommersiële gebruikers en nywerhede meer as 1 MW krag wil opwek, dié aansoeke binne 120 dae verwerk word. Daar sal ook geen beperking wees op geïnstalleerde kapasiteit bo 1 MW nie.
  • Die vyfde venster sal oopgemaak word waartydens onafhanklike kragprodusente kan bie vir die lewering van hernubare energie. Daar sal ook saam met produsente gewerk word om die voltooiing van venster 4-projekte te versnel.
  • Aanvullende kragkoopooreenkomste gaan onderhandel word om ekstra vermoë by bestaande wind- en sonkragaanlegte te bekom.
  • Maatreëls sal ingestel word om munisipaliteite wat finansieel goed presteer, toe te laat om hul eie krag van onafhanklike kragprodusente te verkry.

Skuld

Eskom se enorme skuldlas van meer as R450 miljard en hoe dit afbetaal kan word, het die afgelope week weer sentraal in die nuus gestaan.

Die vakverbond Cosatu stel voor dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat die staatspensioenfonds (GEPF) bestuur, ’n spesiale beleggingsvoertuig skep waarmee ’n deel van Eskom se skuld betaal word.

Ander vakbonde, soos Solidariteit, is egter heftig gekant teen dié plan. Solidariteit het reeds ’n prokureursbrief aan die OBK gestuur waarin hy dit duidelik stel dat sou dié plan oorweeg word, hy onmiddellik regstappe sal neem daarteen.

Die OBK het reeds twee keer in verklarings gesê dat hy geen memorandum oor dié voorstel ontvang het nie.

Ontknoping

Ramaphosa het nie veel oor die ontknoping van Eskom gesê nie, maar het bevestig dat dit steeds die plan is vir die nutsmaatskappy.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, het Dinsdag voor die staatsrede juis gesê sy sal graag wil hoor wat gaan word van die opbreek van Eskom.

“Die president het al ’n jaar terug gesê dit gaan gedoen word, dog het niks nog gerealiseer nie.”

Ramaphosa het reeds op 6 Februarie 2019 in die staatsrede wat hy tóé gelewer het, gesê drie afsonderlike filiale gaan geskep word wat fokus op kragopwekking, transmissie en distribusie. Hulle sal onder Eskom Holdings as beheermaatskappy val.

LEES OOK: GRAFIKA: Só lyk Eskom se 3 dele

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het egter einde Januarie in ’n oorsig oor die stand van sake by die nutsmaatskappy gesê die ontknoping van Eskom gaan nie vinnig gebeur nie. Hy het die ontknoping vergelyk met dié van Old Mutual, wat drie en ’n half jaar geduur het.

Tog het hy gesê hoewel dit lyk of “ons rem trap op ontknoping” is dit nie die geval nie. Daar word eerder “petrol getrap” wat betref dié proses.

“Ek verkies dus dat ons eers in afdelings opbreek en seker maak dat ons onafhanklik van mekaar kan funksioneer voordat ons ontknoop. Ek wil herhaal dat dit nie strydig is met wat die regering gesê het gedoen gaan word nie. Die doelwit bly dieselfde, dit is net hoe ons daarby uitkom wat anders is.”

LEES OOK: Eskom, beurtkrag: 10 dinge wat jy nou moet weet

Tweede ‘Eskom’

Sedert Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, op 3 Februarie gesê het daar word gekyk na ’n tweede maatskappy wat geskep gaan word om krag op te wek, wonder mense wat Ramaphosa daaroor in sy staatsrede sou sê.

Ramaphosa het geen woord gerep oor só ’n tweede kragentiteit nie.

Meer oor:  Prasa  |  Eskom  |  Cyril  |  Ramaphosa  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Ipp's  |  Onafhanklike Kragprodusente  |  Elektrisiteit  |  Staatsrede2020  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.